Dit was die dag toe Koot so stormdronk geraak het in die hotel se kroeg dat Oom Sybrand vertel het van die groot moeilikheid wat jare terug oor Skeurberg gekom het.
Koot het ‘n meisietjie uit die stad plaas toe gebring, maar sy was nie gemaak vir die plaaslewe nie en het na skaars ‘n jaar terug getrek stad toe na haar ma toe. Koot was lief vir haar en sy hart was in stukke, daarom het almal hom maar probeer reg dokter met perskemampoer in die kroeg. Wat sake nog vererger het, was dat die meisietjie ‘n slim prokureur in die stad gekry het en na die skeisaak afgehandel was, het Koot nie net sy vrou nie maar ook die helfte van sy plaas verloor. Koot het die deel gekry wat net ‘n stuk grond was, goeie grond ja, maar sonder ‘n huis en die stalle en die sinkskuur en die waterdam en die windpomp. Koot moes toe sy stuk grond verkoop en mooi gaan vra vir ‘n lening by die bank om die ander helfte terug te koop by sy vervreemde vrou. Toe het hy nog weer ‘n hoop skuld ook, en nog steeds net die helfte van sy plaas, maar kon darem weer boer en saans in ‘n huis slaap en nie buitekant in die oop veld onder ‘n skaapvel nie.
Oom Sybrand vertel toe dat daar twee dinge in die lewe is wat moeilikheid veroorsaak. Vrouens en die Polisie.
‘n Paar manne stry toe dat droogte ook moeilikheid veroorsaak, en geld ook, maar Oom Sybrand knik net sy kop en teug aan sy pyp voordat hy verder vertel.
Die moeilikheid met ‘n polisieman en ‘n vrou het glo jare terug, tydens die droogte toe die dam se bodem so hard so bakstene gebak was in die son, gebeur. Piet Welgemoed het daardie jare nog bakstene uit die dam se bodem met ‘n treksaag gesny en sy stalle gebou. Die stalle staan nou nog, selfs na die haelstorm en oorstromings wat gevolg het op die droogte.
Skeurberg het daardie jare heel rustig sonder geregsdienaars klaargekom. Dit was jare voor dronk konstabel Van der Schyff wat diens doen en net so lekker in die kroeg sit en suip en vars wildsbiltong eet buite jagseisoen.
Hechter was die naam van die man wat hier aangekom het. En saam met hom was ‘n vrou, en ‘n baie mooi vrou daarby ook. Dit was nie sy vrou nie, die man was alleenlopend en die vrou was ook ‘n konstabel, om hom te help met papierwerk. Hermien was haar naam gewees. Haar van was Erlank en die mense het nogal gewonder of sy van die ryk Erlanks is wat anderkant die Soutpansberge boer of van die arm Erlanks wat duskant die Apiesrivier bankrot gespeel het.
Toe Hechter by die kroeg instap, het Lewies, wat toe nog jonk en sterk was, iets gemompel van die leë bottels wat nie so agter die toonbank kan staan nie, ‘n houtkrat opgetel wat die are in sy nek laat bult het en deur die agterdeur daarmee verdwyn. Almal in die kroeg het geweet in die houtkrat was geen leë bottels nie, maar wel vol bottels perskemampoer. ‘n Hele klomp manne het ook gekug so asof hulle sukkel om asem te kry. Mens kon mos nie met die onwettigheid in jou glas betrap word nie, en die vinnigste was om die inhoud af te sluk. Peet Vermeulen moes hard en vinnig sluk, want hy moes ‘n paar blink klippies ook saam met die mampoer inkry.
Hechter het kroegtoonbank toe gestap en geduldig gewag totdat Lewies terugkeer. Hechter het verduidelik dat hy twee kamers in die hotel soek; die Goewerment sal betaal totdat hy en konstabel Erlank permanente verblyf het.
Toe konstabel Erlank die kroeg binnestap, was dit asof die manne vir ‘n tweede keer sukkel om asem te kry. Niemand het seker gedink dis ‘n vrou, en so mooi vrou met rooi hare en klein sproetjies op haar neus nie. Sy het ‘n uniform aangehad, maar haar rondings en groen oë het ‘n paar manne wankelrig gemaak op hulle stoele en hulle oë het ‘n dromerige uitdrukking gehad, so asof hulle al heelwat perskemampoer in het. Jong ongetroude vrouens was skaars op Skeurberg, en die hubare jong manne was baie.
At Greyvenstein het eerste tot verhaal gekom en homself verskoon. Hy het gesê hy moet by die plaas kom, met die droogte kan ‘n brand maklik ontstaan. ‘n Ruk later toe ontstaan daar toe ‘n brand op At se plaas en die lappie dagga wat hy agter die bloekombome aangeplant het verdwyn in ‘n bol rook. Hy moes heelwat bloekomtakke en- blare ook gebruik het om die reuk van brandende dagga te verdoesel.
Peet Vermeulen het gesê sy maag is omgekrap en het ook vinnig gegroet. Die blink klippies wat hy ingesluk het, moes weer uit en in die rantjies weggesteek gaan word.
Klaas Bothma het net opgestaan en uitgeloop. Hy het haastig plaas toe gegaan en die stookketel in die skuur onder bale hooi gaan wegsteek.
Frik Venter wat in die dorp gebly het, het gesê sy vrou is siek en hy moet eers gaan kyk hoe dit met haar gaan. Later, nadat hy die sluis gaan toemaak het want hy was besig om buite sy beurt water te lei, het hy terug kroeg toe gekom en daar was amper niemand meer nie.
Hans Taljaard het gewik-en-weeg oor die vars geslagte wild wat in sy koelkamer hang, toe besluit hy sal moet gaan en deurnag gewerk om biltong te maak. Volgend Hans het Hechter nie gelyk asof hy die verskil tussen beesvleis en wildsvleis ken nie, en het dus besluit om voort te gaan met sy biltongbesigheid, net bietjie versigtiger.
Iemand het vir Jakobus Steyn gevra of dit wettig is, die broodbome wat hy in die veld uithaal en in die Stad gaan verkoop aan die ryk mense met groot tuine. Jakobus het gesê dit is natuurlik wettig, want waar het jy nou al in jou lewe gesien dis teen die wet om veldplante uit te haal. Wat dan van die dekgras wat die volkies so sny? Toe iemand hom daarop wys dat hy darem die broodbome mooi onder ‘n seil versteek as hy dit Stad toe neem, het hy gesê hy versteek dit nie, hy beskerm dit teen die wind. Toe staan hy ook op en die volgende oggend is ongeveer dertig broodbome weer geplant in die veld waar hy hulle uitgehaal het.
Hechter het dit nie besef nie, maar hy het ‘n groot opskudding in die hele omgewing van Skeurberg veroorsaak. Dit was droogte en die mense het nie baie geld gehad nie, maar moes maar duur brandewyn in die kroeg drink in plaas van veel goedkoper en veel sterker perskemampoer. Die mense het maar almal hulle maniere gehad om ‘n ekstra geldjie te maak terwyl die reën wegbly, maar met Hechter in die omtrek moes hulle dit laat staan. Hulle moes hulle brood dunner sny en die konfyt en botter moes langer hou. Die skoene moes maar gelap en die kouse gestop word. Die winkelier se sake verswak, almal vermy die bankbestuurder en tot Dominee wat hard preek oor die tiendes het gesukkel want die kollektes het ook kleiner geword.
Hechter slaan onverwags orals uit en skryf dan in sy notaboek. Hans het blykbaar die honde losgemaak toe hy vir Hechter met die stofpad sien aankom het, maar Hechter was glo ook by honde opleiding betrokke en dit het niks gehelp nie.
Volgens Hechter was die veiligheid van sy gebied top prioriteit en sigbare polisiëring die antwoord op misdaad. ‘n Paar mense wou weet watter misdaad daar dan kwansuis plaasgevind het, maar Hechter het net geantwoord dat voorkoming deel van misdaadbestryding is.
Die jong manne het natuurlik begin vlerksleep by Hermien, maar sy was ‘n moeilike een gewees. Klein Klaas het by haar gaan aanklop met ‘n gebreide sebra-vel, wat sy dankbaar aanvaar het omdat die klipvloer van haar voorkamer maar koud was in die aande, hom binne genooi vir koffie, en hom toe nie weer genooi nie. Klein Klaas was bekend dat hy vir jou biltong met ‘n vuil knipmes gekerf het en hy het ‘n hanglip gehad waarby die donkerbruin spoeg gedurig uitgeloop het as hy roltwak gepruim het.
At Greyvenstein het ‘n skaap laat slag, die vleis in bruinpapier verpak en vir Hermien gevat. Almal het lekker gelag toe Hermien ‘n dag later die vleis aan die tuinwerkers uitgedeel het, want ‘n koelkas het sy nie gehad om so baie vleis in te stoor nie.
Dit was Frik wat vertel het dat Hechter self, terwyl die manne hard werk op hulle plase en vroeg gaan slaap saans, opgesit het by Hermien.
Die manne het besluit dit kan nie so werk nie. As daar wedywering onder iemand is om die hand van ‘n vrou, is dit onder hulle, die boere, nie hulle en ‘n polisieman nie. Hulle het ook onderlangs gewonder of ‘n polisieman mag vlerksleep by ‘n vrou wat ook die gereg dien, maar wou dit nie te hard vra nie, nie omdat hulle bang was nie, net omdat hulle nie seker was nie. As mens nie seker is nie, dan bly mens eerder stil. Hulle kon iemand geleerd soos die bankbestuurder gaan vra het, maar die tyd was nie reg om met die bankbestuurder te praat nie. Dit was die tyd om hom te vermy.
Die manne het ‘n paadjie uitgetrap na Hermien se voordeur, maar dit het nie gelyk nie asof sy enigsins ag geslaan het op hulle attensies nie. ‘n Paar het gespog dat hulle vordering maak, maar Frik wat elke aand deur sy gordyne geloer het, het vertel dat die opsitkers nie lank gebrand het nie en party het so gou weer geloop hulle het seker nie eers koffie gekry nie.
Hechter het toe ook vies geraak vir die boere wat so by Hermien aangelê het, en mens kon maar weet, as jy die aand by Hermien was, kom doen Hechter patrollie die volgende dag op jou plaas.
Die aand toe Peet aanklop by Hermien, en hy die pragtige wit roosknoppe in ‘n vaas op die tafel sien staan het, herken hy die rose sommer dadelik. Die rose was vanuit sy voortuin afkomstig. En Hechter was glo die middag daar toe Peet die grensdraad gaan ondersoek het. Hechter was glo weer op patrollie en het die volk by hulle kaias ook klomp vrae gaan vra. Peet besluit net daar mens sleep mos nie vlerk met ‘n ander man se rose nie. Nee bliksem, dink hy toe, dit werk nie so nie.
Peet het net daar uitgeloop sonder om te groet terwyl Hermien nog in die kombuis besig was. Hy het aan Hechter se voordeur gaan hamer en toe Hechter oopmaak, hom reguit vertel hy wil diefstal rapporteer wat onmiddellik ondersoek moet word.
Toe Hechter vra wat gesteel was, het Peet gesê ‘n hele vyftien van sy mooiste roosknoppe uit sy tuin, helder oordag.
‘n Paar bure het ook hulle gordyne weggetrek want Peet het hard aan die deur gehamer met sy vuis en die mense wou sien wat aangaan. Peet het ‘n groot kabaal opgeskop. Hy wou hê die ondersoek moet so vinnig moontlik begin. Dadelik!
Hechter het iets probeer verduidelik, maar Peet het hom nie kans gegee nie. Peet het al driftiger vertel dat hulle die honde moet kry om die spoor van die dief te vat, sommer sy eie honde en Hans se honde ook, om seker te maak die regte dief word gevang en toegesluit en die sleutel weggegooi.
Hechter kry toe ‘n woord in en erken dit was hy wat die rose gepluk het, want dit is mos maar net rose. Peet klim toe eers in en stuur iemand om vir Dominee te loop wakkerklop, dat hy uit die Bybel kan lees dat steel steel is, groot of klein. Dominee het die vrede probeer bewaar en toe ook sommer die stuk uit die Bybel voorgelees van eers die balk uit jou eie oog haal en toe die stuk van mens mag nie oordeel nie en toe die stuk van sewentig maal sewe kere vergewe.
Baie mense het gedink dominee se voorlesing daar in die tuin voor Hechter se huis was meer op Peet van toepassing as op Hechter, maar Peet het na die tyd gesê die Bybel is vol simboliek en mens kan nie regtig ‘n balk in jou oog kry nie, dalk net ‘n splinter as jy balke saag met die treksaag en die hout is baie droog, soos goeie hout vir meubels moet wees.
Hechter moes toe al seker geweet het hy gaan nie inpas by die gemeenskap van Skeurberg nie. Gelukkig het die stadsmeisie wat ‘n maand later by die Poskantoor gewerk het, ook verlang na die stad en haar hand het Hechter gekry. Sy verplasing het kort daarna gevolg.
Oom Sybrand se storie eindig toe net daar, en die manne drink weer saam met Koot terwyl hulle dink oor wat Oom Sybrand vertel het. In die hele storie is hyself, Oom Sybrand, nie genoem nie. En almal weet dat Tante Hermien met die rooi hare en sproete op haar neus, Oom Sybrand se vrou is. Al is sy al bejaard en plooie het ook plek ingeneem saam met die sproete, is sy nog steeds mooi. Hulle dink daaraan en hulle wonder ook oor hoe die stookketel by Oom Sybrand uitgekom het. Almal wag ook dat iemand moet vra.
Lenie, wat in die Poskantoor werk, vra toe. “Oom Sybrand, vertel tog die storie klaar. Hoe het Oom en Tante Hermien toe by mekaar uitgekom?”
Oom Sybrand stop toe eers sy pyp tydsaam en trek die tabak aan die brand. “Die dag toe sy hier instap en almal loop om die spore van hulle onheilighede te gaan doodvee, het ek haar oë gevang. Die oomblik toe ons vir mekaar kyk, toe weet ek, met haar gaan ek voor die kansel staan en sy weet sy gaan langs my staan. Net so.”
“En die polisieman, Hechter en die ander boere wat so aangelê het?” vra Lenie. Almal luister.
“Aag wat, kind,” sê Oom Sybrand, “Dit was maar soos honde wat oor ‘n been baklei.”
“En die stookketel?” vra Bernard wat op Doringlaagte boer terwyl hy nog ‘n knerts mampoer bestel.
“Die het ek vir twee pond gekoop, nadat Hermien vertel het mens kan ‘n lisensie kry om mampoer te stook,” sê Oom Sybrand.
Almal weet ook van die knewel van ‘n diamant geset is in Tante Hermien se verloofring. Almal weet ook van Peet wat tot voor sy dood vertel het van die grootste blink klippie wat hy nie weer kon vind by die wegsteekplek in die rantjies nie.
“Gee daar vir Koot nog perskemampoer,” sê Oom Sybrand. “Die perskemampoer was enige iets skoon, van grond tot stront tot ‘n hart vol blink trane.”