avatar
Today is Friday
September 3, 2010

Search Results Category: Gielie

March 10, 2010

Klaar met skool

by Gielie Geelmielie — Categories: Gielie — Tags: , , 6 Comments

“Ouens, ons sal moet plan maak, en vinnig ook,” laat val Andre terwyl ons een Vrydagaand in sy kamer sit, elkeen met ‘n bier in die een hand en ‘n Craven ‘A’ in die ander hand. Ons beursies was dun. Tannie Lettie het geld met die perde gewen en het vir ons ‘n kas bier vir die aand gekoop, om bietjie te ontspan en weg te kom van die stres van die matriekeindeksamen. Die pakkie sigarette het Andre vasgelê toe iemand vir sy ma kom kuier het.

“Aag, relax,” laat weet ek. “Ek sal by my ma ‘n bottel vodka skaai en dan is ons sorted vir die res van die naweek”, sê ek, want ek het aangeneem hy praat van die ernstige duik wat besig was om in die kas bier te vorm.

Mark het net oorgeleun, nog ‘n blikkie bier gekry en dit geknak terwyl hy ‘n wind opgebreek het.

“Nee, julle fokkers, ek praat nie van die drank nie,” het Andre gesê en opgestaan.

“As dit weer een van jou planne is om …” het Mark begin, maar Andre maak hom stil.

“Nee. Luister vir ‘n slag, for fuck sakes, en hou op aan drank en naai dink. Woensdag skryf ons ons laaste vakke, dan is ons klaar met skool. Klaar!” sê Andre en gluur ons aan. “Tensy jy gaan staan en druip,” voeg hy by en gee vir Mark ‘n vuil kyk.

“Ja, en so what?” vra Mark. “Of dink jy ons moet vir oulaas iets breek by die skool? Miskien moet ons tandestokkies in al die klaskamerdeure se slotte gaan druk.”

“Nee fok! Wat gaan ons doen die vakansie? Al daaraan gedink?”

Ek en Mark sit stil, sluk bier en dink vir ‘n ruk. Wraggies, ons het niks om te doen nie. Na matriek moet mens mos see se kant toe gaan. Margate of iewers en baie drink en dalk score ook.

Andre steek toe nog ‘n sigaret aan, knak een van die laaste paar biere, sluk diep, en kondig toe aan. “Die familie wat vanmiddag hier kom kuier het, wel, ‘n vriend van hulle het ‘n erf in Margate gekoop, en hy het geen worries as ons die erf gebruik nie. Die erf is soort van deel van ‘n karavaanpark ook. Sien, die eienaar van die karavaanpark het skuldprobleme gehad, en toe verkoop hy van die grond, so as ‘n tipe van permanente staanplek. Ons moet net planne maak om ‘n tent iewers in die hande te kry.”

Toe onthou ek ook skielik van die army tent wat daar in die garage bo op die dakbalke iewers is. “Hey, daar’s ‘n sestien by twee-en-dertig army tent, met alles, in ons garage!”

Toe begin ons beplan. Nie dat daar veel was om te beplan nie. Basies was die plan ons ryloop Margate toe, en gaan hou vakansie daar. Maar ons was opgewonde, ons het ook iets gehad om na uit te sien sodra ons klaar is met skool.

Alle kak dinge kom ook op ‘n einde, en die Woensdag toe ons klaar geskryf het en uit die skoolsaal gestap het, was skool klaar vir ons. Ek het sommer ‘n sigaret net so in my skoolklere aangesteek en by die hek uit gestap. Mark en Andre ook. Ons het reguit na my huis toe gestap. Ma was effens aangeklam toe ons by die huis aangekom het, want sy wou weet hoeveel onderskeidings ek gekry het en of sy maar my matrieksertifikaat kan laat raam. Tannie Lettie het toe verduidelik dat die uitslae eers later in die koerant sal wees, en toe sommer aangebied dat sy en Ma ons sertifikate by die skool sal gaan haal, aangesien ons nog by die see sal wees.

Ons kry toe ons bagasie, tesame met die army tent se dak, grondseil, kantseile, male en female middelpale, kantpale, penne, kettings en ‘n hamer en swoeg grootpad se kant toe. Ons het nog ons skoolklere aan. Ons duime dui die rigting aan. Na so twintig minute trek daar ‘n Datsun SSS af. Toe besef ons dit gaan nie werk nie. Ons drie, met ons bagasie en die moerse pakkaas van ‘n tent? Never. Ons sal nie in ‘n kar pas nie. Shit.

Ons hou net ons duime uit vir vragmotors. Hulle brul verby. Di tyd stap aan. Dit is warm. Die sweet loop en ons duime begin al so half verlep lyk. Margate is ver.

‘n Verbleikte roesbruin Bedford 5-ton lorrie rammel van die pad af. Ek loop nader. ‘n Vriendelike omie, met ‘n Castle Milk Stout in sy hand en ‘n welige snor wat geel gevlek is deur nikotien vra waarnatoe ons gaan. Ek sê hom ons gaan Margate toe. Hy sê ons moet laai en agterop klim, want hy gaan ‘n vleuelklavier in Port Edward laai en sal ons met die grootste plesier in Margate drop. Sy van is Geybers, sy naam Koot, en aangesien ons klaar is met skool, kan ons hom ook sommer Koot noem. Niks van Oom Koot of Meneer Geybers of so iets nie. Ek dink net vir ‘n sekonde dat die mense met die klavier dalk die verkeerde persoon met die verkeerde lorrie gekry het om hulle klavier te trek, toe laai ons en ons klim.

Die Bedford rammel weg. Met die army tent se seile, maak ons ‘n lekker sitplek agterop. Ons lê sommer lekker terug en skree vir mekaar om hoorbaar te wees bo die lawaai van metaal wat rammel en die wind wat om ons suis.

Net daar anderkant Heidelberg breek ‘n ontsettende donderbui los. ‘n Wolkbreuk soos ons nog nie aanskou het nie. Koot ry. Die water stroom op ons neer en af en toe verblind die weerlig ons en die knalle slaan ons ore toe. Ons is sopnat en die wind waai ons koud. Terwyl die waterdruppels my gesig seer tref, wikkel ek my tas oop en kry ‘n bottel vodka uit. Een van my hemde verdwyn in ‘n warreling oor die rand van die lorrie. Ek kry my tas weer toe en draai die bottel se prop met my tande af. Ek sluk diep en die alkohol maak lekker warm in my maag. Ek gee die bottel aan. Daar in die gietende reën, agterop ‘n ou Bedford trok, vier ons die dag wat ons skool verlaat het. Later bedaar die storm en trek dit oop. Die wind waai ons nat klere yskoud. Koot ry.

Eers daar by Howick se wêreld, trek Koot af om diesel te gooi. Die Bedford loop stadig en dit was al sterk besig om donker te word. Koot gooi omtrent ‘n dosyn Milk Stout blikke in die asblik, en trek weg toe hy betaal het. Hy het gesê ons hoef nie te las nie.

Die reën vang ons weer daar anderkant Durban, oppad Suidkus toe. So ‘n flou see reëntjie wat aanhou en aanhou en aanhou. Toe Koot voor die hek van die karavaanpark stop, tref die reuk van braaivleis ons. Ons laai ons pakkaas af, bedank vir Koot en toe hy wegtrek wuif hy met ‘n blik Milk Stout in die hand. In die karavaanpark kyk ‘n paar mense die drie skimme, deurnat en vuil, met ‘n moerse groot tent wat hulle dra, skuins aan. Ek stamp my toon teen iets en sê kliphard, “Eina! Poes!” Iemand lag vir ons drie, maar ons voel fokkol.

Ons sukkel nie met die army tent in die donker nie. Ons gooi net die grondseil oop, gaan maak vuur, maak nog ‘n bottel vodka oop en braai van die vleis wat ons ma’s saamgestuur het. Die res van die vleis het Andre in die gemerkte sakkies in die gemeenskaplike vrieskas gaan pak. Mark sit ‘n Pink Floyd kasset in die draagbare radio/tape deck, rol ‘n lekker vet zol met die dagga wat hy ‘n week tevore by iemand langs die treinspoor iewers gaan koop het, en ons ontspan. Ons eet sommer die vleis so met die hand van die rooster af. Fok die skool, fok die hoof, fok die wêreld, en fok alles… Ons is klaar met skool. Ons vakansie en die res van ons lewens het begin.

February 22, 2010

Die mes

by Chopper — Categories: Gielie — Tags: , , 5 Comments

Oom Austerlitz het doer onder in die straat gebly. Later het hy die tydige met die ewige verwissel, maar toe ek in Standerd 4 was, het hy nog daar gebly. Die stories het ook maar geloop in die buurt. Party aande is vertel dat Oom Austerlitz een van die laaste SS-offisiere was wat die gereg nog kon ontduik het, ander stories het weer vertel dat Oom Austerlitz sonder ‘n vrou daar gebly het, want sy geliefde, ‘n pragtige Jodin, het omgekom by Auschwitz.

Oom Austerlitz was ook maar ‘n moerige man. Wat in sy lewe skeefgeloop het, sal ek nie weet nie. Oom Austerlitz het wel die lekkerste bier gemaak en die skerpste, sterkste knipmesse ooit.

En toe besluit ek mos ek wil een van Oom Austerlitz se knipmesse in my broeksak ronddra, nie daai goedkoop Okapi’s wat die Griek in sy kafee op die hoek verkoop het nie.
Ek stap toe oor na Oom Austerlitz om te gaan uitvind wat gaan ‘n knipmes my uit die sak jaag. Van die mense het my gesê dit is so R25. Maar onthou, die Okapi’s wat die Griek verkoop het was R1-50, en dit is baie jare terug.

Oom Austerlitz het daar in sy agterplaas gewerk. Ek het sy tuinhekkie oopgemaak, versigtig verby sy hond, wat my net lui aangegluur het, geloop na waar hy gewerk het en hom vertel ek is op soek na ‘n knipmes en hoeveel sal dit kos en ek sal later betaal. Hy het my net met skrefiesoë aangegluur, en my toe vertel dat as ek so ernstig daarop aandring om ‘n knipmes te hê, dan sal hy seker maar een moet maak en dit sal my R30 kos. My oë moes wyd gerek het, want toe sê hy as ek help, is dit net R15. Jislaaik, daai dae het ek die bure se gras gesny teen 25c vir die voorste grasperk en 25c vir die agterste grasperk, dus 50c per sny per week, maar R15 het na ‘n bargain geklink, al moes ek help.

Eerstens moes ek ‘n sak houtskool gaan haal het en volgens Oom Austerlitz se aanwysings net genoeg kole maak. Toe vat hy ‘n dunnerige, plat ystervyl, haal die handvatsel af, en plaas dit tussen die kole.

“Die kole is nou reg, sien jy?” het hy gesê en toe aangekondig dat ons eers vir ‘n lang ruk kan rus. “Die kole sal uitbrand, en al kouer word. Baie stadig afkoel. Teen vanmiddag se kant, kan ons verder gaan.” Toe bring hy twee glase bier. Van die bier wat hy self gebrou het. Ek vat toe myne en sluk ook. Ons wag vir die kole om uit te brand en koud te word. Oom Austerlitz sluk nog baie bier en ek kry aanmaak koeldrank. Ook maar goed ek het aanmaak koeldrank gekry, want ek het al gevoel hoe gaan my gatvelle brand as Ma uitvind ek het ‘n glas bier by Oom Austerlitz gedrink.

Later, toe ‘n hele paar ure verbygegaan het, haal Oom Austerlitz die ystervyl tussen die koue as uit en begin werskaf.

“Sien, ons gaan die lem kort maak,” verduidelik hy. “’n Mes met ‘n kort lem pas lekker in jou hand en hy het baie snykrag. So sewe sentimeter vir die lem, en dan die ekstra stukkie sodat ons die lem in die hef, saam met die veer kan sit. Verstaan?”

Stadig maar seker het Oom Austerlitz die lem gevorm met die amarilwiel wat hy met die handslinger gedraai het. Hy vat toe ‘n ander vyl en begin die snykant skerpmaak. “Nie vlymskerp nie, net genoeg. Sien jy?”

Ek kyk hoe my mes se lem vorm begin aanneem.

Oom Austerlitz het toe nog ‘n sluk bier gevat. “Nou gaan ons die lem met hitte behandel. Jy moet mooi kyk.”

Oom Austerlitz het ‘n breë gasvlam gevat, die lem met ‘n tang vasgehou aan die gedeelte wat in die hef moet kom en die lem warmgemaak. Toe die lem rooi gloei, het hy dit vinnig in ‘n bak olie gedruk.

“Het jy mooi gekyk?” vra hy. “Medium rooiwarm, dan egalig, snykant eerste, dog vinnig in die olie om af te koel.”

Ek het net geknik.

“Nou gaan ons kyk of die lem weer hard genoeg is.” Oom Austerlitz het ‘n ander vyl gevat en oor die lem getrek. “Sien? Die vyl doen eintlik niks aan die lem nie?”

Ek het gekyk. Die lem het skaars ‘n merkie bygekry.

“Nou gaan ons die lem temper. Sommer in die elektriese oond. Dieselfde as wat in die kombuis is. Ek het dit klaar op so 200C gestel, en dit moet vinnig na die hitte behandeling gedoen word.

Oom Austerlitz het die lem in die oond geplaas, en die deur toegemaak. “Niks langer as 25 minute nie.”

Hy haal toe die lem uit en laat dit afkoel. “Gaan haal vir my twee klawers daar agter,” het Oom Austerlitz gesê en beduie na die rommelkas. Daarin was ivoorklawers wat hy by ‘n klavier uitgehaal het wat oor die muur was. Dit kan dalk na sonde klink om ivoorklawers op te kerf vir ‘n mes se hef, maar dit is nie, nie as iemand soos Oom Austerlitz jou knipmes maak nie. ‘n Goeie knipmes is soos ‘n sielsgenoot.

Oom Austerlitz het my huistoe gestuur en aan die ivoor begin skaaf. Twee dae later het hy laat weet my knipmes is gereed. Kant en klaar.

Die ivoor het geel geblink. Die lem was skitterend gepoleer en het oop en toe gemaak sonder ‘n speling. Nie te styf nie, ook nie te slap nie. Die lem was vlymskerp en het die hare van my arms laat tuimel met net ‘n ligte skeerbeweging.

Oom Austerlitz het die mes gaan bêre en ek het hard gespaar. Twee weke later was die mes myne, ten volle betaal. Ma het seker maar gedink sy was dronk en het van haar munte verloor want ek kon nie langer wag nie en het deur haar beursie gegaan vir die laaste R1.

“Die ivoor kort bietjie olierigheid so af en toe,” het Oom Austerlitz gesê toe ek die geld gaan oorhandig het en die mes in ontvangs geneem het. “Nie ‘n sterk olie nie. As dit warm is en jy sweet, vee jy die ivoor so langs jou neus en vryf dit in met jou duim.”

Ek het nog nooit ‘n beter knipmes gehad nie.

December 9, 2009

Die Driepuntplan Plus

by Chopper — Categories: Gielie9 Comments

Daar is die kinders wat ‘n skoolhoof se droom is. Die koeke en gatkruipers wat alles doen om die skoolhoof en onderwysers te beïndruk. Dan is daar diegene wat net saamvloei en nie uitsonderlik goed doen nie en ook nie baie stout is nie. Dan is daar…

Die Vrydagmiddag is ek en Mark daar by Andre se plek. Hy bly in ‘n rondawel in die agtertuin en ons sit lekker en rook. Andre blaai deur ‘n Scope en ons gesprek, met tussenposes van “Check hierdie girl se lekker pramme!” en dan wys hy eers die bladsy in die Scope vir almal, handel oor hoe diep erg kak skool is.

“My gat is rou gebliksem die week,” sê Mark en trek sy gesig skeef. “Ek kan skaars sit!”

“Dis nog niks. My hele gat is blou-pers,” gooi ek my deeltjie by en trek my broek af om hulle te wys.

“Ag nee sies man!” kla Andre. “Ek check girls uit en wil nie jou gat sien nie!” Hy blaai verder deur die Scope. “Check hier! Ek’s seker hier steek ‘n dooshaar uit,” sê hy en wys ons die foto in die Scope van ‘n vrou wat wydsbeen op ‘n stoel sit. Sy het ‘n piepklein bikini-broekie aan en daar is sterretjies wat die tepels van haar tiete bedek.

Ek bekyk die foto van naderby. “Nee, dis nie ‘n dooshaar nie,” sê ek en Mark gryp die tydskrif.

“Nee,” beaam hy. “Dit is net ‘n skaduwee strepie.”

Andre vat die Scope en gooi dit eenkant toe op die vloer. Hy trek ‘n vuurhoutjie, steek ‘n sigaret aan en blaas die rook dak toe. “So, wat gaan ons aan die hoof doen? Ons skuld dit vir Sandra.”

“Gaan gooi een van sy vensters stukkend,” stel ek voor.

“En wat nog?” vra Mark. “Ons is mos drie. Jy breek ‘n venster en ek sal sy swembad gaan opfok deur kunsmis daarin te gooi. Die alge sal grasgroen groei.”

“Right, in die garage staan petrol,” sê Andre.

“Nee, fok ou! Wat wil jy met petrol maak?” vra Mark verbaas. “Ons soek nie die pigs op ons gatte nie.”

“Relax man. Ek gaan dit op sy gras gooi dat sy gras vrek,” sê Andre.

“Cool! Maar ek sal obvious die ruit heel laaste moet breek, want dit maak ‘n geraas,” sê ek en steek vir my ook nog ‘n sigaret aan.

“Ja,” sê Mark. Ek sal eerste gaan en die kunsmis in sy swembad gooi. Terselfdertyd kan Andre die petrol op sy voorste grasperk gooi en ons as ons twee klaar is, reg op ons fietse om te jaag, gooi jy die ruit uit en dan spark ons.”

“Hoe laat gaan ons?” vra Andre wat al weer besig is om deur die Scope te blaai.

“Ek dink ons moet vroeg gaan. So agtuur,” sê Mark en druk sy sigaretstompie in ‘n leë skoenpolitoer blikkie dood. “Dan kan ons iewers gaan hang waar mense ons sien, om ‘n alibi te kry.”

“Maar die bure of iemand kan ons sien. Die mense slaap nog nie daai tyd nie,” haak ek vas.

“Ons sal net kyk. As die venster gebreek is, is dit in elk geval net tien sekondes as ons hard trap en ons is in ‘n ander straat.”

“Ja, wat’s jou case nou skielik?” vra Andre. “Laas het ons ‘n ruit helder oordag uitgeskiet. Chicken jy uit?”

“Nee, ek sê maar net.”

“Ons kom seweuur hier bymekaar,” sê Mark, kak kliphard en ons spat by die rondawel uit.

Op pad huis toe, begin daar ‘n plan in my agterkop te vorm. Daai twee wil mos so vroeg in die aand gaan. Alibi kamstig, ga! Vroeg saans het mens iets nodig wat die aandag van die voortvlugtiges sal aftrek. Chicken, ek? Hahaha!

Ma en Tannie Lettie het lekker gesit en drink toe ek by die huis aankom en my skaars opgemerk. Ek het nog heelwat om af te handel as ek seweuur by Andre wil wees. In die volgende uur en ‘n half moet ek my goed agtermekaar kry.

Kwart voor sewe gaan haal ek ‘n paar glas ghoens uit die boks onder in my kas waar albasters, tennisballe en allerhande ander goed in is en toets my kettie deur die velletjie vas te knyp en die rekke ver uit te rek dat hulle dun raak. Die haasrek was nog nuut. Alles in orde.

Seweuur sit ek my fiets op die gras buitekant Andre se rondawel neer en stap binne. ‘n Klein Coke-botteltjie vol petrol staan op sy lessenaar. Mark is natgesweet en beduie na ‘n rugsak toe. “Fokkit, hoeveel kunsmis het jy gebring?” vra ek.

“Vyftien kilogram sak. Die swembad is groot.”

“Ja, sal seker genoeg wees.” Ek sê niks oor die piepklein botteltjie petrol nie.

“Dis al wat in die garage was,” verduidelik Andre self. “Ons kan nie nou gaan petrol koop nie. Dit sal verdag lyk.

“Daai is genoeg,” sê ek. “Right, kom laat ons waai.”

“Wag, waarnatoe gaan ons as ons klaar is?” vra Mark.

“Sommer na my huis toe. Ma en Tannie Lettie is daar en ons kan daar rondhang. Daar is ses biere in die yskas ook.”

Al is die naglug koel, voel ek hoe die sweet teen my gesig aftap terwyl ons na die skoolhoof se huis toe ry. Dit is nogal ‘n entjie, want hy bly in een van die meer gegoede buurte. Dit is egter nie die afstand wat my laat sweet nie, maar die plan waarvan die ander twee nie weet nie.

Naby aan die hoof se huis ry ons stadiger. Die buurt is stil. Ons sit ons fietse agter ‘n groot struik neer en Mark gaan met sy kunsmis. Hy sluip versigtig aan die kant van die huis verby en klim oor die lae hekkie na die agterplaas toe. Ek sweet verskriklik. Toe hy na ‘n ruk weer te voorskyn kom, kon ek sommer sien sy rugsak is leeg.

Andre staan nog ‘n rukkie in die donker, kyk heen en weer en sprinkel dan die petrol op die grasperk. Die hoof het nie juis beddings in sy voortuin nie, maar die grasperk is diep groen en pragtig.

Ons klim op ons fietse en toe ons seker is daar is niemand in die straat nie, haal ek ‘n ghoen uit my broeksak en die kettie voor by my broek onder my hemp uit. Ek kan die flikkering van ‘n lig, seker die televisie s’n, sien deur die gordyn. Ek plaas die ghoen in die velletjie, knyp dit vas en trek die rekke so ver as moontlik terug. Ek laat gaan. Die venster spat in duisende stukke. Andre en Mark laat waai. My hande bewe. Ek pluk die groot rooi klapper uit my broeksak en trek sommer ‘n hele paar vuurhoutjies gelyk. Die lont van die klapper sis en ek gooi dit na waar ek gesien het Andre die petrol gesprinkel het. Ek hoor nog iets wat klink soos ‘n ruit wat breek. Ek kyk nie eers om te sien waar die klapper land nie maar trap my fiets so hard soos wat ek kan.

In my gedagtes tel ek. Een, twee, drie… agt… en ek hoor die harde knal. Nogal nie sleg nie. Vroeër vanaand het ek met die lengte van die lont geëksperimenteer totdat ek dit so naby as moontlik aan tien sekondes se brandtyd kon kry.

Ons jaag nie in ‘n groep terug nie. Elkeen draai in strate af soos hy lus het. Toe ek dink ek is veilig, ry ek lekker rustig terug huis toe. Die polisiesirenes wat klink asof dit in die rigting van die hoof se huis beweeg, laat my net klein bietjie kriewelrig voel.

Toe ek by die huis indraai, vlieg Mark en Andre iewers uit die donker uit. In die straatlig is hulle gesigte spierwit en hulle oë groot gerek. “Wat de fok? Wat de fokken fok?” vra Mark en hy klink amper histeries.

“Etter bliksem, ou!” is al wat Andre uitkry.

“Relax man, dit was net ‘n cracker,” probeer ek hulle kalmeer. “For fuck sakes, praat net sagter, die hele buurt kan seker hoor wat julle sê.”

Ons steek sigarette aan en begin toe die hele petalje bespreek. “Fok ou, toe ek ook ‘n ruit uitskiet hoor ek net ‘n sisgeluid en later een moerse slag toe ek al ‘n paar strate verder is,” sê Andre eerste.

“Wat!?” en ek onthou van iets wat ook soos glas geklink het wat breek net toe ek die klapper gegooi het.

“Ja, toe jou ruit kak toe haal ek oor,” sê Andre. “En hoor wat het Mark nog daar by die swembad gedoen.

“Die Kreepy-Krauly uitgetrek met pyp en al en langs die swembad neergesit, daai swembad pomp was aan en kry nie water nie, so teen die tyd het die motor al poer in sy moer in uitgebrand.”

Kunsmis in die swembad, petrol wat die gras moes laat vrek en een stukkende venster het dus verander in kunsmis in die swembad, ‘n swembadpomp so motor wat seker al uitgebrand het, petrol op die gras, ‘n venster wat aan skerwe geval het, ‘n klapper wat op die gras geval het, nog ‘n venster wat aan skerwe geval het en die klapper wat hopelik die petrol op die gras aan die brand gesteek het toe dit ontplof het.

“Gielieeee! Is dit jy?” roep Ma skielik uit die kombuis.

“Kom ons gaan klap daai biere, ” sê ek vinnig vir Mark en Andre. “Ja, Maaa!” roep ek terug.

Ons het ons fietse in die agterjaart gaan neersit en doodluiters die huis binnegestap. Ma was besig om Tannie Lettie se hare in te draai en Ma self se hare was styf ingedraai met ligpienk en ligblou krullers.

“Het julle al geëet vanaand?” vra Ma. “Julle kan braai as julle wil. Dis nou maar eers halfnege.”

Ek vra nie eers vir Andre en Mark nie. “Dankie, Ma,” en ek gee haar ‘n drukkie.

“Bring tog vir ons bietjie ys,” sê Tannie Lettie.

“Sure, Tannie Lettie, sure.” En toe val dit my ook skielik by. “Ma, moet ons vir Ma en Tannie Lettie ook braai?”

“Kind, jy moenie jou taal so mix nie. Ja, asseblief. Daar’s ekstra bier vir julle in die yskas. Braai en ontspan julle ook. Jy lyk vir my so ge-stress.”

“Ja, relax, kinders!” kekkel Tannie Lettie. “Standerd nege is nie maklik nie, hoor.”

“Ja, fok tog, as jy maar net kon weet,” mompel ek binnesmonds toe ek al by die kombuisdeur uit is.

Ons staan in die agterplaas en op die grond, binnekant ‘n vierkant wat met bakstene gepak is, lê ‘n groot stapel hout. Die hoëtroustel in my kamer se luidsprekers is op die vensterbak staan gemaak en musiek vul die agterplaas.

Ek rol koerantpapierbolletjies om onder die hout in te druk en aan die brand te steek. Ek voel ‘n pluk aan my hempsmou. Andre se hele lyf bewe en hy praat met moeite.

“Julle w..weet wat Sandra, my s…s…sussie gedoen het,” praat hy tussen snikke deur en die pyn sit diep in sy stem.”

Sandra, Andre se tweelingsussie het haarself in die garage opgehang. Ons weet daarvan. Ons ken die pyn wat hom folter. Ek en Mark bly woordloos staan.

“Daai fokken poes! Daai fokken etterlike poes! Daai fokken bliksemse kaksel! Sy het my vertel!” en die rou, seer snikke skeur deur Andre. “Die aand voor…voordat sy… haarself… gehang het…” Andre sak op sy knieë neer. “Hy het haar drie jaar terug, in Standerd 6, hy het gesê sy is mooi en toe… toe…”.

Andre staan op. “Hy het gesê sy is mooi en aan haar gevat en haar daar in sy kantoor verkrag. DIE FOKKEN KONT!!! KONT!!! KONT!!!!” Andre sak weer neer en huil so erg dat hy nie kan asemhaal nie.

In die garage lê stukke ‘square tubing’ waarmee Pa nog ‘n druiweprieel wou aanmekaar gesweis het.

Die skoolhoof. Steunpilaar van die samelewing. Gesaghebber. Opperhoofman oor meer as seshonderd kinders.

Sy grasperk ruik na gebrande gras. Hy probeer planke voor die stukkende vensters sit.

Die stukke ‘square tubing’ kloof sy oogbanke oop en vergruis sy ribbes. Slaan sy knieskywe aan flarde.

Die boeie vreet in ons polse in.

Die knieë in ons rûe slaan die wind uit ons uit.

Die selle is hard en koud, soos ons harte.

Die staatsaanklaer speel toneel en voer ‘n meesterstuk op.

Opsetlike saakbeskadiging, brandstigting, aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Ons prokureur het ook darem sy deel gespeel, anders was dit poging tot moord.

Ten minste het ons iets papiere darem iets gewys toe ons by die verbeteringskool opdaag…

Die houtstapel in die agterplaas het nooit gebrand nie.

December 7, 2009

Trein na Margate

by Chopper — Categories: Gielie5 Comments

“Ma, ek wil see toe gaan,” neul ek aan die einde van Graad 2, so maand voordat die skole sluit vir die lekker lang Desembervakansie.

Ma het buitekant op die draad tuinstoel in die skaduwee van die bloekomboom gesit en ‘n geelperske geëet. Op die draad tafeltjie was die asbakkie oorvol sigaretstompies, ‘n kwartbottel wodka en ‘n glas waaruit sy af en toe gesluk het.

“Jy was nou die dag see toe,” het sy geantwoord, die perskepit in die tuin in gegooi, ‘n sluk wodka gevat en ‘n sigaret aangesteek. “Met die dat jou Pa al weer in Sentraal is, moet ek in elk geval werk. Ons kan nie weg gaan nie.”

“Maar Ma werk dan nie nou nie,” het ek aangehou. “En ek was laas see toe nog voordat ek in die skool was.”

“Dit is my middag af. Die see is in elk geval vol haaie,” het Ma die gesprek afgesluit, opgestaan en oorgeloop na die buurvrou, Tannie Lettie toe.

Ek was goed vies en baie lus om see toe te gaan. Die ander kinders in die klas het vertel hulle gaan die vakansie weg.  Die meeste see toe en die ander Bosveld toe. Ek het vir my klasmaats vertel ek gaan ook see toe, want ek het gehoop Ma sou ja sê. As Sentraal naby die see was, het ek sommer by Pa gaan bly, maar dit was in Pretoria en ver van die see af.

Die volgende dag vertel ek nogsteeds ek gaan see toe. My planne was agtermekaar. Ek gaan wegloop Margate toe, na Ouma toe. Ek was nie eers seker of Ouma ooit nog in Margate gebly het nie, maar dit is waar ons gebly het toe ons die vorige keer see toe was.

Wonder bo wonder verras Ma my toe en laat weet ek gaan see toe! Net ek, want sy moet werk. Ouma het nog in Margate gebly en Tannie Lettie het met die idee vorendag gekom dat ek met die trein soontoe kan gaan. Haar seun, Bennie, was ‘n korporaal in die Weermag en ek gaan saam met hom die trein vang, want hy en klomp van sy vriende gaan ook Margate se kant toe.

Die dag wat die skole gesluit het, het ek nie skool toe gegaan nie. Ek moes die trein om 10:30 die oggend vanaf Florida-stasie na die Johannesburgse stasie haal en dan daar wag tot 18:00 om die trein na Margate toe te haal. Ma het ‘n briefie vir my geskryf wat ek moes wys as iemand my voor 13:00 gevra het hoekom ek nie in die skool was nie. Ma het gewerk die middag en al kon ek die laatmiddag bus gevat het, wou ek my reis met die trein begin. Toe Tannie Lettie vertel het dat die treine vol gaan wees omdat die skole sluit, het ek breed geglimlag toe Ma sê ek hoef nie die laaste dag skool toe te gaan nie.

Ma en Tannie Lettie het die vorige aand te veel wodka afgesluk in die kombuis en het vergeet om vir my te pak. Die oggend was ek vroeg op en het self die tas uit die boonste kas gehaal en gepak. Ma het winddronk gegroet en werk toe gegaan nadat sy my mooi vertel het om nie na vreemdelinge te luister nie en as iemand met my sukkel moet ek na die spoorwegpolisie toe hardloop. Sy het seker gemaak ek het geld en die treinkaartjie en toe my ‘n drankasem-soen gegee en werk toe gegaan. Ek dink sy het toe nog by die haarkapper gewerk.

So teen 08:00 was ek al baie opgewonde. Skielik wonder ek toe of daar slaapgoed in die trein is en gaan pluk ‘n kombers en kussing van my bed af. Ek sit toe ‘n rukkie en dagdroom oor die see en onthou die vorige keer wat ons by Ouma gaan kuier het, was dit ‘n entjie se stap strand toe. Net daar besluit ek my fiets gaan saam met die trein see toe.

Ek het my fiets uit die garage gaan haal, my tas, kussing en kombers op die voorstoep neergesit, die voordeur gesluit en die sleutel onder die blombak weggesteek. Die tas, kombers en kussing het ek op die middelpyp van my fiets se raam gebalanseer en stasie se kant toe gery. Halfpad het ek amper my gat afgeval toe die punt van die kombers in die ketting gegaan het. Die kussing het in die pad geval en op die kombers se punt was ‘n lang oliestreep.  Ek het so met my bagasie op die fiets gesukkel, vir ‘n oomblik het ek daaraan gedink om die kussing en kombers net daar langs die pad te los.

By Florida se stasie het ‘n lid van die spoorwegpolisie my onmiddellik voorgekeer en wou weet waarnatoe ek op pad was en hoekom is ek nie in die skool nie, want die skole het nog nie gesluit nie. Ek het hom Ma se briefie gewys en toe help hy my om al my bagasie op die trein te kry.

By die stasie in die middestad van Johannesburg aangekom, het die paniek my amper beetgepak. Daar was baie treine en fluite en geraas en mense en tasse en goed. Ek was baie naby aan trane, toe stamp iemand my nog om ook dat my fiets klaterend val en die kombers en kussing gly eenkant toe oor die vloer. Die spoorwegpolisie het weereens tot my redding gekom. Die man het tot gereël dat hulle sal seker maak ek klim op die regte trein en my na hulle kwartiere toe geneem dat ek my bagasie daar kan los en sommer onder hulle wakende oë daar kon wag ook tot 17:30. Hulle sou ook  sommer vir Bennie opspoor wat teen 15:00 se kant daar sou opgedaag het.

Vir middagete het ek vir my ‘n hamburger by ‘n kafee gaan koop. Die tamatiesous het oor my hemp gedrup en my vingers het ek ook aan my hemp afgevee. Terug by die spoorwegpolisie se kwartiere het daar ‘n man met baie blink goeters op sy skouers met die ander gepraat. Hulle het kort-kort in my rigting gekyk.

Toe die man met die blink goeters na my toe loop, het ek onmiddellik gedink ek is in die moeilikheid. Hy het my skerp, maar tog simpatieke oë aangekyk en gevra of Bennie familie van my is.

“Nee, oom,” antwoord ek toe. “Dis ons bure, Tannie Lettie se seun. Hy is in die army en ek moet saam met hom ry, want my ma en Tannie Lettie het so gesê.” En toe, net vir ingeval Bennie moeilikheid gemaak het, “Maar ek ken hom nie. Hy’s baie ouer as ek en ek het hom baie lanklaas gesien en weet net hoe hy lyk,” voeg ek by. Wat die waarheid was, want ek het hom net van sien geken. Ek haal toe weer Ma se briefie uit en wys dit vir hom.

“Waar is jou Pa?” vra hy toe.

“Hy kom eers oor ‘n paar maande terug, oom,” antwoord ek en wonder wat aangaan.

“Jy gaan nie saam met Bennie Margate toe ry nie, maar een van my manne gaan saam met jou” antwoord die man en ek kry so ‘n gevoel dat daar iewers groot kak is. Iemand bring vir my ‘n koeldrank en ek ontspan.

Brink was die man se van gewees saam met wie ek Margate toe gery het. Die kondukteur wou nog kla oor my fiets, maar Brink het my kombers en kussing en fiets opgetel en die kondukteur het nie verder gesukkel nie.

Brink het my alleen gelos in my kompartement en my streng vertel dat hy net langsaan is en dat ek hom moet roep net wanneer ek wil, want hy sal sorg dat ek vir my ouma gaan kuier, maak nie saak wat nie.

Toe die trein wegtrek, het ek die venster oopgeskuif en vir die mense gewaai. Uiteindelik was ek op pad see toe! Laatmiddag het ‘n mistigheid oor Johannesburg se voorstede gehang en die straatligte wat al aangeskakel was, het dit pragtig laat lyk.

Die treinwiele het ritmies tiktak-tiktak-tiktak oor die spore gerol en ek het aanhoudend by die venster uitgekyk. Toe dit donker was, het Brink my gevat om aandete te gaan koop. Ek hoef nie eers daarvoor  betaal het nie en Brink het seker gemaak ek borsel my tande daarna en toe vir my gesê as die son weer opkom, is ons amper in Margate.

Ek het nie dadelik gaan slaap nie. Ek het tot laatnag nog die ruite oop gelos en uitgekyk buitekant toe. Die sterre was helder en af en toe kon ek dorpsligte of ‘n plaashuis se ligte sien. Daar was skoon beddegoed in die kompartement en toe ek gaan inkruip het, het ek gou aan die slaap  geraak.

Vroeg die volgende oggend het Brink my gevat vir ontbyt en toe ek my oë uitgevee het, was my kombers, kussing en fiets agter op ‘n spoorweg bakkie en laai Brink my by Ouma se huis af. Ouma het my ‘n nat soen op die wang gegee en nog voordat ek uitgepak het, saam met my strand toe geloop terwyl ek stadig op my fiets gery het.

Eers later, toe ek moeg geswem was en langs Ouma op die strand onder die sambreel gesit het, het ek gewonder wat die man by Johannesburg se stasie nou eintlik bedoel het toe hy iets gepraat het van “kontak geslaan in Angola twee dae terug” en “ oorskot nog nie eers in die Republiek nie..”

© 2010 Die Kroeg All rights reserved - Wallow theme by TwoBeers Crew - Powered by WordPress - Have fun!