Archive for the Category »Maak nat die keel «

Ag nee wat…

Die sokkerkaartjies se prys kan maar afkom, daar’s nou geen manier meer dat ek in ‘n stadion gaan sokker kyk nie. Behalwe dat ek nie juis sportgeesdriftig is nie – ek kyk ook nie rugby of krieket nie – sou ‘n sessie se sokkerkyk in ‘n stadion nogal lekker gewees het. Lekker uitgaan en gees vang en sulke goed.

Maar toe kom ek agter in die stadions word net Budweiser verkoop. Kyk, my bier is my bier. Ek hou van my bier. As daar ‘n geleentheid is vir bier drink, want koue bier kielie die keel lekker op geleenthede, dan is ek eerste in die ry.

Ek probeer mos ‘n Budweiser, want ek is mos ook so bietjie oopkop.

Sorry, slegs 2 uit 10.

Die 2 punte is gegee omdat iemand darem iewers iets probeer het. ‘n Bottel ontwerp het en ‘n etiket opgeplak het.

Ek sal maar tydens die sokker ‘n geleentheid skep met ‘n groot braaivleisvuur, by iemand wat DSTV het, en ‘n dosyn yskoue Zamaleks. Of dalk sommer by een van die kuierplekke, ver, buitekant ‘n stadion en die ronde bal op ‘n groot flat-screen volg.

Jager Coolerbox

Sharpshoot het so een. Hy het dit net vanmiddag gaan koop.

jager-coolerbox

Rooiwyn vir die koue.

Dit is mos maar die ding van hier in die dun lug van die Hoëveld lewe. As die winterkoue slaan, dan slaan hy hard. Van buite af kan mens dik en warm aantrek, maar die koue sny murg diepte. ‘n Innerlike versterkinkie is dan net wat mens nodig het. Lekker warm sop of ietsie sterkers.

Op ‘n Maandagaand wil mens ook nou nie heeltemal storm-dronk raak nie, dus is die Stroh uit.

‘n Rooiwyntjie is net die ding. Daai voggies sit sommer ‘n gesonde blos op die wange van die skoner geslag en vul almal met warmte. As die geld skraps is, soos in die ou studentedae, het Tassies of sommer enige goedkoop rooi die ding gedoen.

Met die gedagte aan ‘n lekker vol glas rooiwyn stap ek toe vroeër vanaand die kroeg binne. Die deure en vensters is toe om beskerming teen die ysige koue te bied en sommer so met die intrapslag hoes ek my verkoue- en griepvirusse ook in die lug in.

Die outop wat altyd in die hoek sit op “sy” plek en sy naam gewoonlik vergat en baie irriterend kan raak, vermy ek soos die pes. Ek is nie daar om van sy moeilike lewensjare en onvervulde jagsheid te hoor nie. My vrou nog minder.

Ek maak toe maar ‘n twakkie brand en wag by die kroeg vir die kroegdame.

“Watse rooiwyn het julle hier?” vra ek, eintlik maar net hoopvol dat dit iets anders as ‘n 5-liter bokswyn sal wees.

Wraggies word ek toe verbaas en sy beduie eers na ‘n 5-liter bokswyn en toe na ‘n ry bottels waaruit ek kan kies. ‘n Lekker bottel Beyerskloof, twee glase en daar gaan ek. Vrou het ‘n oop tafeltjie gekry langs ‘n kaggel wat rokerig sukkel om aan die gang te kom. Ek maak die skoorsteen oop en daar gaan hy. Lekker gesellig.

Rooiwyn drink om die koue te verdryf is nie van maak die bottel oop en laat staan en skink dan en bekyk die kleur en ruik en al daai goete nie. Ek gooi die twee glase vol en ons sluk. Lekker. Die koue moet verdryf word. Gooi weer vol en wys die koue wie is baas.

Hier by elkeen se derde glas is die botteltjie ook omtrent leeg en trek ek my baadjie uit. Dit is warm daar langs die kaggel. Vroulief giggel lekker. Rooiwyn het mos ‘n manier om so saam met die koue die stres ook weg te vat.

“Dit kan dalk sneeu vanaand.”

“Heel moontlik. Dit het ‘n paar terug jaar mos gesneeu hier.”

Sneeu is nie speletjies nie. Ek gaan kry toe maar nog ‘n bottel rooiwyn en vul die glase. Vroulief se wange raak seker maar so mooi rooi van die koue. Of dalk van die kaggel wat lustig knetter, se welkome hitte.

Iewers in die agtergrond kan ek hoor hoe die outop iemand verveel met al die koudste jare wat hy al beleef het en hoekom al sy vorige vrouens hom onregverdig gelos het. Gelukkig begin lekker musiek speel en die outop se geteem verdwyn tussen die towerklanke van Mike Oldfield.

Die tweede bottel rooiwyn sak rustig. Die koue delf die onderspit. Daar word lekker gekuier en gesels.

Die aand word afgesluit met ‘n lekker warm sjokoladedrankie.

Toe ons by die kroeg uitstap, slaan die yskoue wind ons baie hard. Die winterkoue is genadeloos.

Met ys, sommer baie ys.

Klipdrift & Cola

Klipdrift & Cola

Klipdrift & Cola.

Toe die een uitgekom het, was ek maar skepties. Agterdogtig oor die “Cola”.  Ek het gedink dit gaan dalk soos flou aanmaak koeldrank proe wat die hele brandewyn gaan opneuk.

Ek was aangenaam verras. Dit het goed geproe.

Nou onlangs het ek weer een gesluk. Sommer so uit die bottel is hy oraait, maar gooi hom oor baie ys in ‘n glas en dan proe hy soos nog.

Ek drink nooit brandewyn so skoon nie, ek ken nie eers iemand wat dit skoon drink nie. Gooi Coke by met ys en die knertsie loop mooi.

As ek gaan braai, vat ek gewoonlik meer as genoeg botteltjies Klippies & Cola saam, en die mense staan tou om een of meer te sluk. Die skoner geslag ook. Nie dat Klippies & Cola van brandewyn ‘n sissie-dop maak nie, ek dink net die vrouens hou net so baie van die smaak.

Op die botteltjie staan “The Original South African Mix” en dan ook “Classic Cola from the USA”. Ja wel, ons boere maak eerder biltong.

Teen 5.6% alkohol/volume is dit ook lekker sterk, maar mens moet in ag neem dat die botteltjie net 275ml bevat.

Zamalek

Zamalek / Black Label

Zamalek / Black Label

Terwyl hierdie blog nog splinternuut is, het ek besluit om sommer ‘n bier te knak. Om die blog “nat te maak”. Zamalek / Black Label / Sowetan Pepsi / Quickstart / Silvertop of wat jy dit ook al noem, is my gunsteling bier.

Dis ‘n lekker voggie. Sommer goed vir die warm somersdae wanneer die souterige sweet by jou gesig aftap as jy die gras sny en ‘n yskoue Zamalek gaan vir my lekker af in die koue wintersmaande ook.

‘n Kas met 24 Black Labeltjies hou by my ook nie lank nie. Ek kap ‘n biertjie sommer so uit die blik of bottel of ‘n bierglas. Dit bly lekker. Maar hy moet koud wees. Lekker koud, sodat die blikkie of botteltjie of glas sulke blink sweetdruppeltjies maak en ‘n nat ring op die tafel los. Die nat ring is nou indien ek dalk die bier neersit.

Die foto hierbo lyk bietjie kakkerig, maar ‘n Black Label is ‘n diep goue kleur. ‘n Helder goue kleur, sonder ‘n wasigheid of iets wat vuil of soos snot lyk in die voggies. Die smaak is ook vir my heel slukbaar. Eintlik meer as slukbaar, ek gooi ‘n Black Label met plesier in my keel af. En sommer nog ‘n paar daarna. As ek vleisbraai, voel ek sommer tuis met ‘n koue Zamalek in die hand.

Op die blikkie staan by die “ingredients”:

Barley Malt, Maize, Hops and Water.

Dis dit. Daar staan ook “No Additives” en “No Preservatives”, dus lyk dit vir my asof dit net skoon, lekker bier is.

Teen 5.5% alkohol/volume is dit nie ‘n flou bier nie, maar ‘n vrotsige afgewaterde bier is nie vir my nie. Ek hou van ‘n bier met lyf en smaak na ‘n harde dag se werk.

Vir ‘n punt uit 10 gee ek vir Zamalek ‘n volle 9/10. Ek wou 10/10 gegee het, maar moet darem spasie laat as ek dalk per ongeluk op een of ander onverklaarbare manier ‘n lekkerder bier in die hande kry. Zamalek is die bier waarmee ek kuier. Natuurlik het Zamalek al vir my ‘n moer erg babbelas gegee, maar dis wat drank doen as jy baie (lees te veel) daarvan drink. Hou matigheid voor oë en die diep lekker bier word nog meer geniet, so sonder die kloppende hofie, suur opgooi smaak in die keel, bloedrooi ogies en kurkdroë mond die volgende oggend.

“Moet nooit drink en bestuur nie. Ook nie eers drink en dan bestuur nie.”