
Vrot tand
Tandpyn bekruip mens soms so stadig. Eers is daar net so dowwe pyntjie as jy ‘n roomys by die kafee op die hoek gekoop het en die koue ‘n senuweetjie in die tand ‘n vonkie laat skiet, of as jy vars pruimtwak in die kies sit en die tabaksop sypel stadig in die gaatjie van die tand in.
As jy naeltjieolie in die hande kan kry en dit op die betrokke tand drup, of ‘n stukkie watte deurweek met die naeltjieolie en dit op die tand vasbyt, brand dit so effens en dan vat dit die pyn weg, ook net so effens, maar dit help darem.
Tandpyn is ook nie soos ‘n fyt op die vinger of blase op die voete omdat jou velskoene al te klein is nie, nee, tandpyn kan mens nie met bloekomolie of samboksalf regdokter nie. As jy jou toon oop gestamp het teen die ploegskaar, groei die vel weer terug, maar ‘n tand maak mos nie so nie. Tandpyn raak net al erger en erger.
Tandpyn is amper soos ‘n kraak in die sementdam. Daai kraak gaan nie vanself toegroei soos jou stukkende toon nie, die kraak moet reggemaak word of jy sal ‘n ander dam moet bou. As jy meer as een sementdam het, kan die een met die kraak maar wag. So ook met die tanne, die een wat pyn kan jy maar uithaal, jy het mos nog ander tanne om mee te kou. Behalwe nou as jou tanne so min raak dat jy net sop kan eet, dan moet jy winkeltanne kry. Soos die sementdam. As jy net die blomkool, blaarslaai en wortels kan natlei maar die pampoene kry dors, moet jy maar die dam regmaak of ‘n ander dam bou.
Tandpyn wat so effentjies begin het, kan later so erg raak dat dit mens laat bid en vloek in een sin. Ja, vir eeue al kon ‘n hele paar knertsies ook pyn ligter maak, so dit is seker waarom Koen daardie Saterdag besluit het hy kort ietsie om die pyn te verdoof.
Toe hy by die kroeg ingestap het, met sy hand styf teen sy kakebeen vasgedruk en die moedeloosheid in sy oë, het almal geweet: Koen het tandpyn. Koen se tandpyn moes seker al so drie weke oud gewees het, want hy was bleek en het sommer siek gelyk en bang en hartseer en tranerig. Tandpyn is nie speletjies nie. Tandpyn maak ‘n groot man, soos Koen, swak.
Koen het ook sommer dadelik ‘n dubbel turksvymampoer bestel. Die hael het Skeurberg daardie jaar swaar getref en die geelperskes was so fyn soos gruisklippertjies geslaan voordat hulle ryp was. Die turksvymampoer het ‘n bitter smaak gehad as mens dit nie saam met lemoenstroop gemeng het nie. As iemand dit dus skoon wil drink, kon jy maar weet dit is om pyn weg te vat.
Koen vat toe sy glas vas waarin die voggies lê wat Lewies geskink het, maak sy mond groot oop en sluk. Sy oë rek wyd oop, hy kry nie asem nie en sy kakebeen beweeg op en af soos hy seker probeer vloek het. Toe gryp hy sy kakebeen met albei hande vas, en omdat hy seker sy asem terug gekry het en die tandpyn hom swak gemaak het, uiter hy toe ‘n paar kragwoorde. “Bliksem! Verdomp!”.
Koen sak toe weer op sy stoel neer, en sy oë lyk soos ‘n vuil glas vol vetkolle. Koen se lyf bewe en hy staan en beduie en praat met Lewies. Almal luister fyn, maar hoor niks. Eers later toe vind ons uit Koen het vir Lewies vir nog ‘n dubbel gevra, en ‘n strooitjie. Lewies sê toe hy het nie strooitjies nie. Dit het glo vir Koen gevoel asof die Duiwel homself sy brandende vurk in die seer tand se gat druk toe die turksvymampoer daar ingeloop het, en die pyn was baie erger daarna. Koen wou die mampoer met ‘n strooitjie sluk sodat dit nie weer naby die tand kom nie. Dit is ook te verstane, want dit was alombekend dat Oom Sybrand se Dodge bakkie geloop het met turksvymampoer in die tenk.
Koen trek toe sy pypsteel uit sy pyp en gebruik dit as ‘n strooitjie vir die tweede dubbel. Die mampoer moes hom begin krag gee het, want hy’t nie weer nodig gehad vir kragwoorde nie.
Die verligting was nie lank nie, toe druk Koen weer met sy handpalm op sy kakebeen. En hy kla. Die tandpyn moes sy tong los gemaak het. Dit was duidelik, Koen se tand moes uit. Al probleem was, Oudok Wilson wat sommer tanne getrek het ook, was Durban toe met vakansie en sou eers oor ‘n week teruggekeer het. Ons het maar net ons koppe geskud in simpatie want om nog ‘n hele week met die pyn te loop het swaar tye voorspel.
Koen drink toe nog mampoer en almal drink ook nog, om hom te ondersteun. Mens kan mos nie jou medemens alleen met die pyn los nie.
Koen besluit toe die tand moet uit. Hy kan nie nog ‘n week deur die marteling gaan nie. Hy sluk die mampoer die een na die ander af, en almal sluk saam, en begin rondsoek na iemand wat die tand sal kan uittrek.
Almal weier en vertel dat mens nie ‘n tand net sommer kan trek nie, mens het geleerdheid nodig, soos Oudok Wilson. Maar soos wat die drank vloei, word daar later hardop gewonder of dit regtig so moeilik kan wees om ‘n tand te trek, almal het mos al tanne gewissel toe hulle klein was.
Later handel die gesprek oor watter tang die beste sal wees om Koen se tand te trek. ‘n Groot draadtang sal nie deug nie, eerder ‘n langbek tang dalk. Maar later word besluit die langbek sal die tand nie lekker kan vasvat nie. Daar word nog gerook en nog mampoer gedrink en toe het iemand later ‘n waterpomptang uit sy bakkie gaan haal. Almal weet hoe lyk ‘n waterpomptang, maar die tang word rondgestuur en bekyk. Daar word besluit as ‘n tand getrek moet word, die waterpomptang die regte instrument sal wees. Nie dat dit gebruik gaan word om Koen se tand te trek nie, net dat dit die regte tang is.
Sowat ‘n uur later toe Koen papdronk is, sit hy op ‘n lae stoeltjie voor die kroegtoonbank, met sy kop agteroor en sy mond wawyd oop. Iemand hou ‘n lamp bokant sy kop vas en Janneman staan reg met die waterpomptang. Janneman sluk sy glas mampoer leeg, kyk versigtig in Koen se mond, vat die tand bo iewers in Koen se mond vas, en hy ruk die tang af. Koen se lyf word slap en iemand gryp hom net betyds. Janneman hou die tang omhoog. Die tand is heel uit, tot die wortel hang so bloederig aan die onderkant.
Dit was ‘n gesukkel om vir Koen by te kry, hy was so uit soos ‘n kers. En sy mond het erger gebloei as ‘n slagskaap wat keelaf gesny is. ‘n Teesakkie word in sy mond gedruk wat hy moet vasbyt waar die tand uit is.
Toe Koen weer by is, spoeg hy ‘n tand uit en sê met ‘n sleepmond “Donnegs, dit wash die hele week she pyn op een shlag.”
Janneman kyk na die tang en toe na die tand wat hy getrek het en toe na die tand wat Koen uitgespoeg het. Toe Janneman die tang afruk het hy nie net die boonste tand getrek nie, maar sommer mooi netjies ‘n onderste tand ook uitgeslaan.
Later die aand, toe Koen weer bleek lyk, en sy handpalm op sy kakebeen druk, toe weet ons, Koen het tandpyn. Die ander ding van tanne is, as hulle uit is, groei hulle nie weer terug soos ‘n duimnael wat jy per ongeluk met die hamer afgeslaan het nie.

