avatar
Today is Friday
September 3, 2010

Search Results Category: Skeurberg

August 23, 2010

Tandpyn

by Gielie Geelmielie — Categories: Skeurberg — Tags: , No Comments

Vrot tand

Vrot tand

Tandpyn bekruip mens soms so stadig. Eers is daar net so dowwe pyntjie as jy ‘n roomys by die kafee op die hoek gekoop het en die koue ‘n senuweetjie in die tand ‘n vonkie laat skiet, of as jy vars pruimtwak in die kies sit en die tabaksop sypel stadig in die gaatjie van die tand in.

As jy naeltjieolie in die hande kan kry en dit op die betrokke tand drup, of ‘n stukkie watte deurweek met die naeltjieolie en dit op die tand vasbyt, brand dit so effens en dan vat dit die pyn weg, ook net so effens, maar dit help darem.

Tandpyn is ook nie soos ‘n fyt op die vinger of blase op die voete omdat jou velskoene al te klein is nie, nee, tandpyn kan mens nie met bloekomolie of samboksalf regdokter nie. As jy jou toon oop gestamp het teen die ploegskaar, groei die vel weer terug, maar ‘n tand maak mos nie so nie. Tandpyn raak net al erger en erger.

Tandpyn is amper soos ‘n kraak in die sementdam. Daai kraak gaan nie vanself toegroei soos jou stukkende toon nie, die kraak moet reggemaak word of jy sal ‘n ander dam moet bou. As jy meer as een sementdam het, kan die een met die kraak maar wag. So ook met die tanne, die een wat pyn kan jy maar uithaal, jy het mos nog ander tanne om mee te kou. Behalwe nou as jou tanne so min raak dat jy net sop kan eet, dan moet jy winkeltanne kry. Soos die sementdam. As jy net die blomkool, blaarslaai en wortels kan natlei maar die pampoene kry dors, moet jy maar die dam regmaak of ‘n ander dam bou.

Tandpyn wat so effentjies begin het, kan later so erg raak dat dit mens laat bid en vloek in een sin. Ja, vir eeue al kon ‘n hele paar knertsies ook pyn ligter maak, so dit is seker waarom Koen daardie Saterdag besluit het hy kort ietsie om die pyn te verdoof.

Toe hy by die kroeg ingestap het, met sy hand styf teen sy kakebeen vasgedruk en die moedeloosheid in sy oë, het almal geweet: Koen het tandpyn. Koen se tandpyn moes seker al so drie weke oud gewees het, want hy was bleek en het sommer siek gelyk en bang en hartseer en tranerig. Tandpyn is nie speletjies nie. Tandpyn maak ‘n groot man, soos Koen, swak.

Koen het ook sommer dadelik ‘n dubbel turksvymampoer bestel. Die hael het Skeurberg daardie jaar swaar getref en die geelperskes was so fyn soos gruisklippertjies geslaan voordat hulle ryp was. Die turksvymampoer het ‘n bitter smaak gehad as mens dit nie saam met lemoenstroop gemeng het nie. As iemand dit dus skoon wil drink, kon jy maar weet dit is om pyn weg te vat.

Koen vat toe sy glas vas waarin die voggies lê wat Lewies geskink het, maak sy mond groot oop en sluk. Sy oë rek wyd oop, hy kry nie asem nie en sy kakebeen beweeg op en af soos hy seker probeer vloek het. Toe gryp hy sy kakebeen met albei hande vas, en omdat hy seker sy asem terug gekry het en die tandpyn hom swak gemaak het, uiter hy toe ‘n paar kragwoorde. “Bliksem! Verdomp!”.

Koen sak toe weer op sy stoel neer, en sy oë lyk soos ‘n vuil glas vol vetkolle. Koen se lyf bewe en hy staan en beduie en praat met Lewies. Almal luister fyn, maar hoor niks. Eers later toe vind ons uit Koen het vir Lewies vir nog ‘n dubbel gevra, en ‘n strooitjie. Lewies sê toe hy het nie strooitjies nie. Dit het glo vir Koen gevoel asof die Duiwel homself sy brandende vurk in die seer tand se gat druk toe die turksvymampoer daar ingeloop het, en die pyn was baie erger daarna. Koen wou die mampoer met ‘n strooitjie sluk sodat dit nie weer naby die tand kom nie. Dit is ook te verstane, want dit was alombekend dat Oom Sybrand se Dodge bakkie geloop het met turksvymampoer in die tenk.

Koen trek toe sy pypsteel uit sy pyp en gebruik dit as ‘n strooitjie vir die tweede dubbel. Die mampoer moes hom begin krag gee het, want hy’t nie weer nodig gehad vir kragwoorde nie.

Die verligting was nie lank nie, toe druk Koen weer met sy handpalm op sy kakebeen. En hy kla. Die tandpyn moes sy tong los gemaak het. Dit was duidelik, Koen se tand moes uit. Al probleem was, Oudok Wilson wat sommer tanne getrek het ook, was Durban toe met vakansie en sou eers oor ‘n week teruggekeer het. Ons het maar net ons koppe geskud in simpatie want om nog ‘n hele week met die pyn te loop het swaar tye voorspel.

Koen drink toe nog mampoer en almal drink ook nog, om hom te ondersteun. Mens kan mos nie jou medemens alleen met die pyn los nie.

Koen besluit toe die tand moet uit. Hy kan nie nog ‘n week deur die marteling gaan nie. Hy sluk die mampoer die een na die ander af, en almal sluk saam, en begin rondsoek na iemand wat die tand sal kan uittrek.

Almal weier en vertel dat mens nie ‘n tand net sommer kan trek nie, mens het geleerdheid nodig, soos Oudok Wilson. Maar soos wat die drank vloei, word daar later hardop gewonder of dit regtig so moeilik kan wees om ‘n tand te trek, almal het mos al tanne gewissel toe hulle klein was.

Later handel die gesprek oor watter tang die beste sal wees om Koen se tand te trek. ‘n Groot draadtang sal nie deug nie, eerder ‘n langbek tang dalk. Maar later word besluit die langbek sal die tand nie lekker kan vasvat nie. Daar word nog gerook en nog mampoer gedrink en toe het iemand later ‘n waterpomptang uit sy bakkie gaan haal. Almal weet hoe lyk ‘n waterpomptang, maar die tang word rondgestuur en bekyk. Daar word besluit as ‘n tand getrek moet word, die waterpomptang die regte instrument sal wees. Nie dat dit gebruik gaan word om Koen se tand te trek nie, net dat dit die regte tang is.

Sowat ‘n uur later toe Koen papdronk is, sit hy op ‘n lae stoeltjie voor die kroegtoonbank, met sy kop agteroor en sy mond wawyd oop. Iemand hou ‘n lamp bokant sy kop vas en Janneman staan reg met die waterpomptang. Janneman sluk sy glas mampoer leeg, kyk versigtig in Koen se mond, vat die tand bo iewers in Koen se mond vas, en hy ruk die tang af. Koen se lyf word slap en iemand gryp hom net betyds. Janneman hou die tang omhoog. Die tand is heel uit, tot die wortel hang so bloederig aan die onderkant.

Dit was ‘n gesukkel om vir Koen by te kry, hy was so uit soos ‘n kers. En sy mond het erger gebloei as ‘n slagskaap wat keelaf gesny is. ‘n Teesakkie word in sy mond gedruk wat hy moet vasbyt waar die tand uit is.

Toe Koen weer by is, spoeg hy ‘n tand uit en sê met ‘n sleepmond “Donnegs, dit wash die hele week she pyn op een shlag.”

Janneman kyk na die tang en toe na die tand wat hy getrek het en toe na die tand wat Koen uitgespoeg het. Toe Janneman die tang afruk het hy nie net die boonste tand getrek nie, maar sommer mooi netjies ‘n onderste tand ook uitgeslaan.

Later die aand, toe Koen weer bleek lyk, en sy handpalm op sy kakebeen druk, toe weet ons, Koen het tandpyn. Die ander ding van tanne is, as hulle uit is, groei hulle nie weer terug soos ‘n duimnael wat jy per ongeluk met die hamer afgeslaan het nie.

August 18, 2010

‘n Hart vol blink trane

by Gielie Geelmielie — Categories: Skeurberg6 Comments

Dit was die dag toe Koot so stormdronk geraak het in die hotel se kroeg dat Oom Sybrand vertel het van die groot moeilikheid wat jare terug oor Skeurberg gekom het.

Koot het ‘n meisietjie uit die stad plaas toe gebring, maar sy was nie gemaak vir die plaaslewe nie en het na skaars ‘n jaar terug getrek stad toe na haar ma toe. Koot was lief vir haar en sy hart was in stukke, daarom het almal hom maar probeer reg dokter met perskemampoer in die kroeg. Wat sake nog vererger het, was dat die meisietjie ‘n slim prokureur in die stad gekry het en na die skeisaak afgehandel was, het Koot nie net sy vrou nie maar ook die helfte van sy plaas verloor. Koot het die deel gekry wat net ‘n stuk grond was, goeie grond ja, maar sonder ‘n huis en die stalle en die sinkskuur en die waterdam en die windpomp. Koot moes toe sy stuk grond verkoop en mooi gaan vra vir ‘n lening by die bank om die ander helfte terug te koop by sy vervreemde vrou. Toe het hy nog weer ‘n hoop skuld ook, en nog steeds net die helfte van sy plaas, maar kon darem weer boer en saans in ‘n huis slaap en nie buitekant in die oop veld onder ‘n skaapvel nie.

Oom Sybrand vertel toe dat daar twee dinge in die lewe is wat moeilikheid veroorsaak. Vrouens en die Polisie.

‘n Paar manne stry toe dat droogte ook moeilikheid veroorsaak, en geld ook, maar Oom Sybrand knik net sy kop en teug aan sy pyp voordat hy verder vertel.

Die moeilikheid met ‘n polisieman en ‘n vrou het glo jare terug, tydens die droogte toe die dam se bodem so hard so bakstene gebak was in die son, gebeur. Piet Welgemoed het daardie jare nog bakstene uit die dam se bodem met ‘n treksaag gesny en sy stalle gebou. Die stalle staan nou nog, selfs na die haelstorm en oorstromings wat gevolg het op die droogte.

Skeurberg het daardie jare heel rustig sonder geregsdienaars klaargekom. Dit was jare voor dronk konstabel Van der Schyff wat diens doen en net so lekker in die kroeg sit en suip en vars wildsbiltong eet buite jagseisoen.

Hechter was die naam van die man wat hier aangekom het. En saam met hom was ‘n vrou, en ‘n baie mooi vrou daarby ook. Dit was nie sy vrou nie, die man was alleenlopend en die vrou was ook ‘n konstabel, om hom te help met papierwerk. Hermien was haar naam gewees. Haar van was Erlank en die mense het nogal gewonder of sy van die ryk Erlanks is wat anderkant die Soutpansberge boer of van die arm Erlanks wat duskant die Apiesrivier bankrot gespeel het.

Toe Hechter by die kroeg instap, het Lewies, wat toe nog jonk en sterk was, iets gemompel van die leë bottels wat nie so agter die toonbank kan staan nie, ‘n houtkrat opgetel wat die are in sy nek laat bult het en deur die agterdeur daarmee verdwyn. Almal in die kroeg het geweet in die houtkrat was geen leë bottels nie, maar wel vol bottels perskemampoer. ‘n Hele klomp manne het ook gekug so asof hulle sukkel om asem te kry. Mens kon mos nie met die onwettigheid in jou glas betrap word nie, en die vinnigste was om die inhoud af te sluk. Peet Vermeulen moes hard en vinnig sluk, want hy moes ‘n paar blink klippies ook saam met die mampoer inkry.

Hechter het kroegtoonbank toe gestap en geduldig gewag totdat Lewies terugkeer. Hechter het verduidelik dat hy twee kamers in die hotel soek; die Goewerment sal betaal totdat hy en konstabel Erlank permanente verblyf het.

Toe konstabel Erlank die kroeg binnestap, was dit asof die manne vir ‘n tweede keer sukkel om asem te kry. Niemand het seker gedink dis ‘n vrou, en so mooi vrou met rooi hare en klein sproetjies op haar neus nie. Sy het ‘n uniform aangehad, maar haar rondings en groen oë het ‘n paar manne wankelrig gemaak op hulle stoele en hulle oë het ‘n dromerige uitdrukking gehad, so asof hulle al heelwat perskemampoer in het. Jong ongetroude vrouens was skaars op Skeurberg, en die hubare jong manne was baie.

At Greyvenstein het eerste tot verhaal gekom en homself verskoon. Hy het gesê hy moet by die plaas kom, met die droogte kan ‘n brand maklik ontstaan. ‘n Ruk later toe ontstaan daar toe ‘n brand op At se plaas en die lappie dagga wat hy agter die bloekombome aangeplant het verdwyn in ‘n bol rook. Hy moes heelwat bloekomtakke en- blare ook gebruik het om die reuk van brandende dagga te verdoesel.

Peet Vermeulen het gesê sy maag is omgekrap en het ook vinnig gegroet. Die blink klippies wat hy ingesluk het, moes weer uit en in die rantjies weggesteek gaan word.

Klaas Bothma het net opgestaan en uitgeloop. Hy het haastig plaas toe gegaan en die stookketel in die skuur onder bale hooi gaan wegsteek.

Frik Venter wat in die dorp gebly het, het gesê sy vrou is siek en hy moet eers gaan kyk hoe dit met haar gaan. Later, nadat hy die sluis gaan toemaak het want hy was besig om buite sy beurt water te lei, het hy terug kroeg toe gekom en daar was amper niemand meer nie.

Hans Taljaard het gewik-en-weeg oor die vars geslagte wild wat in sy koelkamer hang, toe besluit hy sal moet gaan en deurnag gewerk om biltong te maak. Volgend Hans het Hechter nie gelyk asof hy die verskil tussen beesvleis en wildsvleis ken nie, en het dus besluit om voort te gaan met sy biltongbesigheid, net bietjie versigtiger.

Iemand het vir Jakobus Steyn gevra of dit wettig is, die broodbome wat hy in die veld uithaal en in die Stad gaan verkoop aan die ryk mense met groot tuine. Jakobus het gesê dit is natuurlik wettig, want waar het jy nou al in jou lewe gesien dis teen die wet om veldplante uit te haal. Wat dan van die dekgras wat die volkies so sny? Toe iemand hom daarop wys dat hy darem die broodbome mooi onder ‘n seil versteek as hy dit Stad toe neem, het hy gesê hy versteek dit nie, hy beskerm dit teen die wind. Toe staan hy ook op en die volgende oggend is ongeveer dertig broodbome weer geplant in die veld waar hy hulle uitgehaal het.

Hechter het dit nie besef nie, maar hy het ‘n groot opskudding in die hele omgewing van Skeurberg veroorsaak. Dit was droogte en die mense het nie baie geld gehad nie, maar moes maar duur brandewyn in die kroeg drink in plaas van veel goedkoper en veel sterker perskemampoer. Die mense het maar almal hulle maniere gehad om ‘n ekstra geldjie te maak terwyl die reën wegbly, maar met Hechter in die omtrek moes hulle dit laat staan. Hulle moes hulle brood dunner sny en die konfyt en botter moes langer hou. Die skoene moes maar gelap en die kouse gestop word. Die winkelier se sake verswak, almal vermy die bankbestuurder en tot Dominee wat hard preek oor die tiendes het gesukkel want die kollektes het ook kleiner geword.

Hechter slaan onverwags orals uit en skryf dan in sy notaboek. Hans het blykbaar die honde losgemaak toe hy vir Hechter met die stofpad sien aankom het, maar Hechter was glo ook by honde opleiding betrokke en dit het niks gehelp nie.

Volgens Hechter was die veiligheid van sy gebied top prioriteit en sigbare polisiëring die antwoord op misdaad. ‘n Paar mense wou weet watter misdaad daar dan kwansuis plaasgevind het, maar Hechter het net geantwoord dat voorkoming deel van misdaadbestryding is.

Die jong manne het natuurlik begin vlerksleep by Hermien, maar sy was ‘n moeilike een gewees. Klein Klaas het by haar gaan aanklop met ‘n gebreide sebra-vel, wat sy dankbaar aanvaar het omdat die klipvloer van haar voorkamer maar koud was in die aande, hom binne genooi vir koffie, en hom toe nie weer genooi nie. Klein Klaas was bekend dat hy vir jou biltong met ‘n vuil knipmes gekerf het en hy het ‘n hanglip gehad waarby die donkerbruin spoeg gedurig uitgeloop het as hy roltwak gepruim het.

At Greyvenstein het ‘n skaap laat slag, die vleis in bruinpapier verpak en vir Hermien gevat. Almal het lekker gelag toe Hermien ‘n dag later die vleis aan die tuinwerkers uitgedeel het, want ‘n koelkas het sy nie gehad om so baie vleis in te stoor nie.

Dit was Frik wat vertel het dat Hechter self, terwyl die manne hard werk op hulle plase en vroeg gaan slaap saans, opgesit het by Hermien.

Die manne het besluit dit kan nie so werk nie. As daar wedywering onder iemand is om die hand van ‘n vrou, is dit onder hulle, die boere, nie hulle en ‘n polisieman nie. Hulle het ook onderlangs gewonder of ‘n polisieman mag vlerksleep by ‘n vrou wat ook die gereg dien, maar wou dit nie te hard vra nie, nie omdat hulle bang was nie, net omdat hulle nie seker was nie. As mens nie seker is nie, dan bly mens eerder stil. Hulle kon iemand geleerd soos die bankbestuurder gaan vra het, maar die tyd was nie reg om met die bankbestuurder te praat nie. Dit was die tyd om hom te vermy.

Die manne het ‘n paadjie uitgetrap na Hermien se voordeur, maar dit het nie gelyk nie asof sy enigsins ag geslaan het op hulle attensies nie. ‘n Paar het gespog dat hulle vordering maak, maar Frik wat elke aand deur sy gordyne geloer het, het vertel dat die opsitkers nie lank gebrand het nie en party het so gou weer geloop hulle het seker nie eers koffie gekry nie.

Hechter het toe ook vies geraak vir die boere wat so by Hermien aangelê het, en mens kon maar weet, as jy die aand by Hermien was, kom doen Hechter patrollie die volgende dag op jou plaas.

Die aand toe Peet aanklop by Hermien, en hy die pragtige wit roosknoppe in ‘n vaas op die tafel sien staan het, herken hy die rose sommer dadelik. Die rose was vanuit sy voortuin afkomstig. En Hechter was glo die middag daar toe Peet die grensdraad gaan ondersoek het. Hechter was glo weer op patrollie en het die volk by hulle kaias ook klomp vrae gaan vra. Peet besluit net daar mens sleep mos nie vlerk met ‘n ander man se rose nie. Nee bliksem, dink hy toe, dit werk nie so nie.

Peet het net daar uitgeloop sonder om te groet terwyl Hermien nog in die kombuis besig was. Hy het aan Hechter se voordeur gaan hamer en toe Hechter oopmaak, hom reguit vertel hy wil diefstal rapporteer wat onmiddellik ondersoek moet word.

Toe Hechter vra wat gesteel was, het Peet gesê ‘n hele vyftien van sy mooiste roosknoppe uit sy tuin, helder oordag.

‘n Paar bure het ook hulle gordyne weggetrek want Peet het hard aan die deur gehamer met sy vuis en die mense wou sien wat aangaan. Peet het ‘n groot kabaal opgeskop. Hy wou hê die ondersoek moet so vinnig moontlik begin. Dadelik!

Hechter het iets probeer verduidelik, maar Peet het hom nie kans gegee nie. Peet het al driftiger vertel dat hulle die honde moet kry om die spoor van die dief te vat, sommer sy eie honde en Hans se honde ook, om seker te maak die regte dief word gevang en toegesluit en die sleutel weggegooi.

Hechter kry toe ‘n woord in en erken dit was hy wat die rose gepluk het, want dit is mos maar net rose. Peet klim toe eers in en stuur iemand om vir Dominee te loop wakkerklop, dat hy uit die Bybel kan lees dat steel steel is, groot of klein. Dominee het die vrede probeer bewaar en toe ook sommer die stuk uit die Bybel voorgelees van eers die balk uit jou eie oog haal en toe die stuk van mens mag nie oordeel nie en toe die stuk van sewentig maal sewe kere vergewe.

Baie mense het gedink dominee se voorlesing daar in die tuin voor Hechter se huis was meer op Peet van toepassing as op Hechter, maar Peet het na die tyd gesê die Bybel is vol simboliek en mens kan nie regtig ‘n balk in jou oog kry nie, dalk net ‘n splinter as jy balke saag met die treksaag en die hout is baie droog, soos goeie hout vir meubels moet wees.

Hechter moes toe al seker geweet het hy gaan nie inpas by die gemeenskap van Skeurberg nie. Gelukkig het die stadsmeisie wat ‘n maand later by die Poskantoor gewerk het, ook verlang na die stad en haar hand het Hechter gekry. Sy verplasing het kort daarna gevolg.

Oom Sybrand se storie eindig toe net daar, en die manne drink weer saam met Koot terwyl hulle dink oor wat Oom Sybrand vertel het. In die hele storie is hyself, Oom Sybrand, nie genoem nie. En almal weet dat Tante Hermien met die rooi hare en sproete op haar neus, Oom Sybrand se vrou is. Al is sy al bejaard en plooie het ook plek ingeneem saam met die sproete, is sy nog steeds mooi. Hulle dink daaraan en hulle wonder ook oor hoe die stookketel by Oom Sybrand uitgekom het. Almal wag ook dat iemand moet vra.

Lenie, wat in die Poskantoor werk, vra toe. “Oom Sybrand, vertel tog die storie klaar. Hoe het Oom en Tante Hermien toe by mekaar uitgekom?”

Oom Sybrand stop toe eers sy pyp tydsaam en trek die tabak aan die brand. “Die dag toe sy hier instap en almal loop om die spore van hulle onheilighede te gaan doodvee, het ek haar oë gevang. Die oomblik toe ons vir mekaar kyk, toe weet ek, met haar gaan ek voor die kansel staan en sy weet sy gaan langs my staan. Net so.”

“En die polisieman, Hechter en die ander boere wat so aangelê het?” vra Lenie. Almal luister.

“Aag wat, kind,” sê Oom Sybrand, “Dit was maar soos honde wat oor ‘n been baklei.”

“En die stookketel?” vra Bernard wat op Doringlaagte boer terwyl hy nog ‘n knerts mampoer bestel.

“Die het ek vir twee pond gekoop, nadat Hermien vertel het mens kan ‘n lisensie kry om mampoer te stook,” sê Oom Sybrand.

Almal weet ook van die knewel van ‘n diamant geset is in Tante Hermien se verloofring. Almal weet ook van Peet wat tot voor sy dood vertel het van die grootste blink klippie wat hy nie weer kon vind by die wegsteekplek in die rantjies nie.

“Gee daar vir Koot nog perskemampoer,” sê Oom Sybrand. “Die perskemampoer was enige iets skoon, van grond tot stront tot ‘n hart vol blink trane.”

June 28, 2010

Wille Jaap

by Gielie Geelmielie — Categories: Skeurberg3 Comments

Wille Jaap was bekend in die kontrei. Van die ouer garde ken hom reeds vandat hy as klein tjokkertjie op sy pa se plaas, Wildedraai, kaalvoet rondkerjakker het. Teenstrydig met sy bynaam, was Wille Jaap maar baie besadig; ‘n seun wat daarvan gehou het om te lees en hy kon ook sy vingers laat dans oor die klawers van ‘n klavier.

Van Wille Jaap se ma het niemand eintlik iets geweet nie. Almal het maar aanvaar sy het weggetrek na ‘n ander man toe want al wat Jaap gesê het, is dat hy nie oor sy vrou praat nie. Hy het vir Wille Jaap goed grootgemaak en toe hy gesterf het, het Wille Jaap die plaas geërf. Wille Jaap het die boerdery geken en dit het goed gegaan met hom, al wat hy gekort het was ‘n vrou in sy lewe.

Sumari was die pragtige vrou van die buurplaas. Met haar lang slanke lyf, vrolike groen oë en lang, dieprooi hare het menige man haar hart begeer. Wille Jaap se pikswart Mercedes het al hoe gereelder vroegaande ‘n stofwolk na die buurplaas agtergelaat en eers laataand teruggekeer.
Die bruilof was ‘n groot fees en almal het tot laataand gedans totdat Dominee gekug het en aangekondig het dat dit al amper Sondag is.

Met Wille Jaap en Sumari as die enigste kinders, sou Wildedraai en Klippoort saam die grootste wildsplaas gemaak het. Sumari se pa, Oom Kassie, het ook later afgetree en die leisels aan sy skoonseun oorhandig. Sowat ‘n jaar na die bruilof het Sumari aangekondig dat sy swanger is en Oom Kassie was vol geluk met die wete dat ‘n kleinkind oppad is. Tant Martie, Sumari se ma, het ook sommer dadelik begin om kombersies en kousies te brei en te hekel.

Agt maande later was dit tyd vir ‘n ooievaarstee en die manne het in Skeurberg Hotel se kroeg bymekaargekom terwyl die vrouens na die plaashuis op Klippoort is. Die oumanne het staaltjies vertel en die drank het lekker gevloei. Wille Jaap het saam geskerts en gesê hy hoop sy seun gaan eendag ‘n kranige rugbyspeler wees.

Buitekant het ‘n motor gestop en hartverskeurende snikke kon bo die lawaai in die kroeg gehoor word. Konstabel Malherbe het die kroeg binnegestap met Dominee kort op sy hakke. Albei was lakenwit en Dominee het gebewe soos ‘n riet in ‘n sterk waterstroom terwyl hy onderlangs die “Onse Vader” geprewel het sonder ophou. Konstabel Malherbe het vir Wille Jaap eenkant toe geneem en sy gille en snikke het deur die dorp weergalm, saam met die van Lenie wat in die motor gewag het.

Lenie wat in die Poskantoor gewerk het, moes vir Sumari gaan oplaai het by Wildedraai. Daar aangekom het sy geklop, maar niemand het oopgemaak of geantwoord nie. Die voordeur was nie gesluit nie, en sy het binne gegaan. Daar het sy op iets afgryslik afgekom. Sumari het aan haar voete gehang, aan ‘n tou wat aan ‘n dakbalk vasgebind was. Sumari se lang rooi hare was donker gevlek deur die bloed wat by haar keel uitgestroom het en ‘n donker plas op die vloer gevorm het.

Speurders het vanaf Pretoria gekom en nog voor die begrafnis vir Wille Jaap weggevat. Meer as drie jaar later het Wille Jaap sy laaste maaltyd ontvang, en daarna is hy na die galg geneem. Die laksman onthou nog Wille Jaap se laaste woorde: “Hallo Ma.”

December 9, 2009

Die Drankdors

by Chopper — Categories: Skeurberg — Tags: , 6 Comments

wynglasBakkies Le Roux het direk na die voltooiing van twee jaar se Nasionale Diensplig by die Spoorweg sy loopbaan begin bou. Bakkies het hard gewerk en vinnig opgang gemaak. Na drie jaar het hy ’n hoë pos beklee by die Johannesburgse Stasie. Hy het met ‘n stadsnooi, Marietjie, wat in die Poskantoor in die middestad gewerk het, getrou en nie lank daarna was Klein Bakkies gebore. Hulle was ‘n gemiddelde, gelukkige gesin.

Bakkies het egter ook baie van partytjie gehou en gereeld in die oggende opgestaan met ‘n erge babbelas. Aan die begin het die mense hom geterg as hy ‘n kwaai aanval van wingerdgriep gehad het en later is ‘n wenkbrou of twee gelig. Die mense het Bakkies maar oorgesien en baie van sy kollegas het ook lekker hard gekuier.

Later moes Bakkies se hoofde hom aanspreek omdat hy ‘n regmaker of drie in die oggende gesluk het en redelik onvas op sy voete by die werk opgedaag het. Vir ‘n paar weke het dit goed gegaan, maar dan daag Bakkies weer dronk by die werk op, of vat die middag af. Party kere moes hy die hele dag afvat want hy was te dronk om te gaan werk. As Bakkies gedrink het, het hy ook baie gerook en sy vingers en tande was geel van die nikotienvlekke.

Bakkies se salaris van die Spoorweg tesame met Marietjie se salaris van die Poskantoor kon hulle goed laat lewe het, maar in hulle huishouding was daar min luukses. Bakkies se drinkgewoonte het die ekstra geld opgeslurp.

Bakkies was in diens van die Staat en die Staat het vir hulle werkers gesorg. Bakkies was dan ook later op staatsonkoste gestuur vir rehabilitasie. Bakkies het uitgedroog, maar nooit vir baie lank droog gebly nie. As hy dan weer die bottel gevat het, het hy ernstig gedrink en was vir dae so dronk dat hy nie eers geweet het of dit dag of nag was nie. Om hom uit so ‘n ernstige drinksessie te kry, moes die dokter se hulp ingeroep word.

Marietjie was altyd ‘n pragtige vrou met fyn gelaatstrekke en lang, pikswart hare. Haar donkerbruin oë het altyd gevonkel, haar gesig was keurig gegrimeer en haar klere stylvol. Bakkies se drinkery het Marietjie ook afgetakel. Haar hare was nie meer so goed versorg nie, want ‘n salon was te duur. Op haar gesig het diep plooilyne begin vorm en die vonkel in haar oë het verdof. As daar dalk ekstra geld was, kon sy ‘n stukkie materiaal koop om self klere te maak, maar meestal het sy haar klere gedra totdat dit amper heeltemal vodde was. Klein Bakkies het nie ‘n fiets gehad nie en sy skoensole was al deurgeloop en sy tone het gedruk voordat hy nuwes gekry het. Die wit Fiat wat hulle gehad het, se bakwerk was al dof gebleik in die son, vol duike en krapmerke en die sitplekke se bekleedsels uitgerafel. Die enjin het rukkerig geloop en by die uitlaatpyp het swart rook uitgeborrel.

Die dokter kon nie help nie, die dominee se gebede ook nie. Bakkies het bly drink. Daar was vanselfsprekend ook ander mense wat gewerk het vir hoër poste in diens van die Spoorweg en Bakkies het verplasings gekry, elke keer na ‘n kleiner dorp. Vanaf Johannesburg is hy na Vereeniging verplaas, toe na Potchefstroom, later na Bloemhof, toe na Sannieshof en uiteindelik na die klein stasie by Skeurberg.

Van Bloemhof na Sannieshof het Bakkies en Marietjie eers in die skeihof gedraai. Marietjie was heeltemal verflenter en al het sy gebid en gesmeek en gedreig, het Bakkies aangehou drink. Sy kon net nie meer nie.

Die trein het net een maal per maand by Skeurberg gestop om beeste op te laai. Dit was sommer saam met die trein wat Bakkies ook daar opgedaag het en in die rooibaksteen Spoorweghuisie langs die stasie gaan bly het. Bakkies het nie veel pligte daar gehad nie. Die tye wat Bakkies half nugter was, het hy laat die werkers die stasiegebou verf en die blombeddings met die madeliefies en kappertjies se rante netjies omspit. Die roostuin voor sy huisie het ook heel skaflik gelyk af en toe.

Dok Vermeulen het ook maar soms vir Bakkies ‘n inspuiting gegee om hom te laat slaap sodat hy kan uitdroog. Dominee het gebid en die mense mooi gevra om te help dat Bakkies nie drank in die hande kry nie.Tydens Nagmaal het Bakkies per ongeluk ‘n slukkie wyn in plaas van rooi druiwesap ingekry nadat hy vir twee maande lank nie ‘n druppel drank oor sy lippe laat vloei het nie. Kort daarna was hy so dronk by die huis dat hy moes rondkruip want hy kon net nie regop staan nie.

Die benoude reuk van drank en sigaretrook het permanent soos ‘n wolk om Bakkies gehang. Daar is bitter min mense, indien enige, wat kan sterk staan teen die onoortreflike oorredingsvermoë van ‘n geharde alkoholis soos Bakkies. By die hotel het Lewies homself voorgeneem om geen drank aan Bakkies te bedien nie, maar as Lewies sy oë uitgevee het, het Bakkies op die boek ‘n bottel sterk drank daar weg. Niks en niemand kon Bakkies van die drank af weghou nie. As niemand, maar niemand in die hotel vir hom ‘n dop wou gee nie, het hy by die plaaswerkers ‘n brousel bier gaan koop. Die dag toe hy nêrens drank in die hande gekry het nie, het hy by die kafee ‘n botteltjie goedkoop naskeermiddel gaan koop en dit afgesluk.

Van al die gerook het Bakkies ook emfiseem in sy longe ontwikkel en het aaklig gehoes en swaar asemgehaal.

Een van die werkers het vir Bakkies die oggend vroeg by sy huisie gekry. Hy was heeltemal bewusteloos gedrink. ‘n Gebreekte bottel het langs hom gelê en sy hande was gesny soos wat hy rondgekruip het. Die vloer was ook besmeer met bloederige vomeersel. Met die jare het Bakkies sy lewer so hard soos ‘n klip en sy ingewande stukkend gesuip.

Toe Dok Vermeulen opgedaag het, het Bakkies nog roggelend, snakkend na asem geteug, maar Dok het net sy kop geskud en iemand gestuur om vir Dominee te gaan roep nadat hulle Bakkies op sy bed gaan neerlê het. Bakkies se hele liggaam was vergiftig en sy lewer het die gees gegee. Taai slym het by Bakkies se mond uitgeloop toe hy ‘n uur later sy laaste asem uitgeblaas het. Dominee het Bakkies se hande op sy bors saamgevou en ‘n gebed gedoen voordat Dok die deken oor Bakkies se kop getrek het.

Bakkies kon lankal nie meer die premies vir ‘n begrafnispolis bekostig nie en sy boedel was ook insolvent. ‘n Paar mense die begrafnisdiens bygewoon. In die kerk was ‘n geraamde foto van Bakkies toe hy net begin werk het by die Spoorweg. ‘n Trots, vorse jong man in sy gladgestrykte uniform met skitterblink knope.

© 2010 Die Kroeg All rights reserved - Wallow theme by TwoBeers Crew - Powered by WordPress - Have fun!