Net die ander dag sit ek op ‘n Saterdag-aand lekker in kuier in ‘n kroeg. Ek sluk die bier diep, kyk af en toe televisie en praat ‘n klomp kak met almal wat wil luister en ook die wat nie wil hoor wat ek kwytraak nie. Ek rook dat die blou wolke om my staan en kraak af en toe ‘n Simba-chippie tussen my tande. My vrou sit langs my. Ons relax dik stukke na ‘n harde werksweek. My hand is so af en toe daar bolangs by haar been rond. As sy nog ‘n drankie wil hê, wink ek die kroegman nader en haal die geld uit my beursie.
Nou, net om die haakshoek wat die hout toonbank gemaak het, het daar twee manne gesit en hard aan die voggies gesluk. Die een se selfoon lui. Hy spring verbasend rats, na al daai brandewyn wat hy gesluk het, van sy stoel af en antwoord. Hy probeer nugter klink, maar hy probeer duidelik te hard. Dis sy vrou. Hy verduidelik haar hy is nog oppad, iewers anderkant Pongola en hy en sy vriend ry goed en hulle sal netnou by die huis wees. HY praat so hard, almal in die kroeg kan hoor wat hy sê. En almal weet hy is lankal terug van Pongola af, want hy sit in die kroeg wat skaars twee kilometer van sy huis af is.
Sy vriend se selfoon lui. Ja, beaam hy. Hulle is nog op die pad.
Die ou begin vir almal in die kroeg te vertel dat hy hard gewerk het en verdien om ‘n (hele) paar kappe in die kroeg te maak. Die ou kuier heel ordentlik in die kroeg, so waarom hy vir sy vrou die storie gespin het dat hy nog op die pad is, sal net hy weet.
Baie mans doen dit. Vertel vir die vrou ‘n heel ander storie as hulle in die kroeg drink. Ek vat my vrou saam. Sy wil ook mos ‘n bietjie uitkom. Daar is deesdae mos allerhande drankies vir die skoner geslag ook.
Na ‘n ruk bel die ou se vrou weer. Hy het nog ‘n hele paar knertsies gegooi, en hy sê dat hy nog by Pongola is en dat hulle goed ry. Toe stry hy heftig oor die foon. Klink of sy vrou hom ‘n vet uitkak gee. Ook te verstane, want hy was dan twee ure terug by Pongola…
Ek sê vat die vrou saam kroeg toe, as sy nie daarvan hou nie, kan jy mos maar nogsteeds gaan. Dis die liegstories oor waar jy nou eintlik is wanneer jy ‘n paar kappe maak, wat veroorsaak dat jy nie stukkie kry nie en selfs in die hondehok moet gaan slaap.



