avatar
Today is Friday
September 3, 2010

Search Results Archives: November 2009

November 30, 2009

Die Donderstorm

by Chopper — Categories: Skeurberg6 Comments

Dit was ‘n warm somersmiddag in November. Die lug was bedompig en die mense was dit eens dat ‘n harde donderstorm binnekort oor die Bosveld gaan uitsak, soos die mense al maande lank gehoop het. Die droogte het baie hard gedruk daardie jaar en meeste van die boere in die Skeurberg-omgewing was in geldelike nood. Oom Koen, wat op die plaas Granietrots geboer het, het vertel dat die sebras se strepe so dun soos tandestokkies was en as jy ‘n rooibok platgetrek het, hoef jy net die vel af te geslag het. Die rooibokke was klaar biltong. Die bietjie geelperskes wat aan die bome gehang het, was ook klaar gedroog, gereed om perskepoeding met vla mee te maak op Sondae. Die druiwe was rosyntjies. Die windpompe het net fyn piepgeluide gemaak en af en toe ‘n baie dun straaltjie water in die gekraakte sementdamme gepiepie.

Op die aand van die 30ste November, was Skeurberg Hotel se kroeg die enigste teken van lewe op die dorpie. Lewies, die eienaar van die hotel, het sy potloodjie stomp geskryf soos wat die mense ‘op die boek’ gedrink het. Die bankbestuurder en die posmeester het kontant betaal. Die mense wat op die boek gekoop het, het darem getrou die geld bymekaargeskraap aan die einde van elke maand deur ‘n paar velle of biltong te verkoop in Pretoria. Lewies het nooit probleme gehad met slegte skuld nie. Maar dan moet mens ook darem onthou dat Lewies op sy dae ‘n bokskampioen was.

Die aand in die kroeg vloei die drank en die mense praat en die rookdampe vul die lug swaar met die reuk van nikotien. Hulle praat oor die paar stuks spekvet wild wat gesien is. Net so hier en daar. ‘n Vet koedoekoei wat oor die pad gehardloop het of ‘n dikgevrete swartwitpens wat se pens bolstaan, wat iemand gewaar het.

Oom Sybrand het vurig aan sy styfgestopte pyp gesuig en het die gesprek ook aangevoer. “Man, ek seg vir julle dit is daardie donnerse konglomeraat wat uit die Sodom van ‘n Johannesburg hier opgedaag het en die plase uitkoop wanneer die droogte mens aan die keel en knaters beet het!”

Almal het doodstil gesit en geluister wanneer Oom Sybrand gepraat het. Oom Sybrand het sy pyp weer brand gemaak, ‘n sluk van sy derde, of vierde, brandewyn en Coke gevat en toe verder gepraat. Hy het sommer met sy kierie ook beduie. Die mense naby aan hom moes terugstaan.

“Hulle kom daar uit Sodom en koop die plase hier. Maar dis nie al nie!” het Oom Sybrand gesê en almal in die kroeg aangegluur, om seker te maak hulle verstaan wat hy sê. “Die bliksemse trok wat laasweek ‘n hele vrag lusern hier kom aflaai het. Wie se lusern was daardie?” het hy gevra en na elkeen in die kroeg gewys met die punt van sy kierie. Dit was doodstil in die kroeg. Daar het nie eers ys in ‘n glas gerinkel nie. Oom Sybrand het toe ongeduldig met sy kierie op die houtvloer getokkel en gewag vir iemand om te antwoord. Hy het wild asemgehaal en almal kon sien hy was baie kwaad. Sy oë het donker en boos gelyk en daar was fyn druppeltjies spoegskuim op sy baard. Niemand het geantwoord nie. Die mense het vir die vloer of vir hulle glase gekyk. Oom Sybrand se kierie het al hoe vinniger op die vloer getokkel. Tok-tok-tok-tok-tok…

Skielik swaai hy met sy kierie dat dit ‘n swiep-geluid maak. Die punt van sy kierie wys na ‘n persoon in die kroeg en Oom Sybrand vra: “Is dit jou lusern?” Dan antwoord die persoon “Nee, Oom Sybrand!” of skud net sy kop. Die kierie het tot na die meisie wat in die Poskantoor gewerk het gewys en sy het ook ontkennend geantwoord.

Oom Sybrand het toe punt van sy kierie hard op die vloer gestamp, so asof hy ‘n oordeel gaan uitspreek en iemand tot die galg gaan vonnis. “Die fokken konglomeraat voer die wild op die plase wat hulle al uitgekoop het! Dis wat! En sodra meeste van die wild op hulle grond is, maak hulle die grensdrade reg en dan as die reëns kom, word die wild vet en loop daar g’n stuks wild op ons plase nie!” Die kierie het weer ‘n wilde draai gemaak en die punt na almal in die kroeg gewys. Hy het toe sy kierie weergalmend hard op die vloer gestamp, so asof die doodsvonnis daarmee voltrek is en sy brandewyn en Coke met een groot teug afgesluk, sy pyp in die asbak uitgeklop en dit weer tydsaam begin stop. Dit was die teken dat Oom Sybrand klaar gepraat het. Die mense het weer hulle glase na hulle lippe toe gebring en verder onder mekaar gepraat.

Dit was Lenie, die meisie wat in die Poskantoor gewerk het, wat die nuus gedeel het. “’n Verteenwoordiger van die konglomeraat moes al opgedaag het. Hy het plek hier in die hotel bespreek vir twee dae.”

Almal het geweet dat enige inligting wat deur die Poskantoor verby Lenie gegaan het, geensins privaat was nie. Telegramme het sy gelees en oproepe deur die sentrale het sy afgeluister. Lewies het verleë met die kop geknik, op sy horlosie gekyk en toe skielik besig geraak agter die kroegtoonbank.

Deur die gekraakte venster van die kroeg kon mens die wolke in die flou naglug sien saampak buitekant. Die sterk wind het ‘n wolkkombers oor die sterre gewaai. Oom Sybrand het ‘n vuurhoutjie geknars en dik bolle rook uit sy pyp gesuig. Die ligte in die kroeg het geflikker en soos donderblitse in Oom Sybrand se oë weerkaats. Buitekant het die wind gewaai en die reuk van reën het by die kroeg ingestroom. Die gordyne het woes gewapper en die voordeur het met ‘n harde knal toegeslaan. ‘n Leë blik was klaterend in die straat af gejaag deur die wind.

Die mense het gepraat en gewonder oor die verteenwoordiger van die konglomeraat. “Ja, wat, dis nie almiskie, die grondpad is vol skerp klippe. As mens nie die pad ken nie, kan mens lelike probleme met jou kar se bande optel,” het iemand laat weet.

“Dalk het hy ‘n verkeerde afdraai gevat. Daar onder in die vallei waar die plaaspaadjies uit die klippad draai, kan mens nogal heeltemal verdwaal,” het iemand anders sy mening gelug.

“Net so,” het iemand beaam. “In die nag is daar geen baken…” praat hy nog en toe kom daar skielik ‘n baie sterk wind die kroeg in. Die voordeur se grendel was maar stram en het nie behoorlik gehaak nie. Die dwarrelwind het die sigaretstompies uit die asbakkies gewaai en die leë blikke van die tafeltjies afgevee waar hulle dawerend op die vloer rondgerol het. Lewies het haastig die deur gaan toemaak en seker gemaak die grendel het gehaak in die kosyn. Oom Sybrand het lustig aan sy pyp gesuig.

Die mense wou nie huiswaarts keer nie en Lewies moes bontstaan agter die kroeg terwyl die storm besig was om hoogswanger te raak. ‘n Weerligstraal het verblindend buitekant deur die inkswart nag geklief en ‘n breukdeel van ‘n sekonde later het die knal die kroeg laat rammel. Die krag was af en die swart nag het in die kroeg sy blyplek opgeëis. Mense het vuurhoutjies getrek en hulle duime oor die growwe wieletjies van hulle aanstekers laat gly. Lewies het kerse en blakers uit die kas onderkant die kroegtoonbank gehaal en op die tafeltjies geplaas. Die geel kersvlammetjies het lang skaduwees in die kroeg gegooi en die glase in die drinkers se hande goud gekleur.

Die donderweer het geknal en ontplof buitekant. Oom Sybrand het weer ‘n vuurhoutjie getrek en aan sy pyp gesuig. Die wind het stormsterkte bereik. Die tabak het vuurrooi gegloei in die bak van sy kromsteel. Hy het sy glas omgekeer in sy mond. Buitekant het die reën in groot, vet druppels op die dorre aarde begin neerplof.

Oom Sybrand het sy kierie se punt met een harde slag op die vloer neergebring om Lewies se aandag te trek. Lewies het opgekyk en sy gesig was bleekwit in die lig van die weerligstraal wat buitekant deur die nag gekloof het. Die knal het die glase agter die kroeg laat rinkel soos honderde spook-drinkers wat dors geword het. Lewies het geweet wat Oom Sybrand drink en het ‘n dubbel brandewyn, met baie ys en min Coke gegooi.

Oom Sybrand het sy vars dop na sy lippe toe gebring, ‘n sluk gevat en toe weer met sy kierie op die vloer geslaan. Die hemel se sluise het na ‘n verblindende bliksemstraal en oorverdowende knal oopgemaak. Oom Sybrand het diep gesluk. Iemand het opgemerk dat die straat buitekant die hotel soos ‘n breë, modderrivier gelyk het toe die weerlig weer slaan en vir ‘n sekonde die storm se siel oopgemaak het vir almal om te sien.

Die bruin brandewyn en Coke mengsel het in Oom Sybrand se keel afgevloei en toe dit klaar is, klingel die ysblokkies in die glas. Die haelkorrels het oorverdowend op die sinkdak van die hotel begin neerstort. Niemand kon dit buitekant waag nie en die drinkers het hulle self gevoed met brandewyn, rum, whiskey, bier, gin en tonic…

Oom Sybrand het weer met sy kierie op die vloer geslaan. Die weerlig het helder geflits buitekant. Oom Sybrand se hare was regop gewaai deur die wind. Sy grys baard het helder blink geskyn in die lig van die weerligstrale. Sy oë het geblink soos die gloeiende kool in sy pyp.

Oom Sybrand het sy glas in een asem leeg gesluk. Buitekant het die krag van die natuur baklei met die strukture van die mense. Die wolkbreuk het die paaie in riviere verander en die suipkrippe van die wild op die plase laat oorloop.

Oom Sybrand het weer met sy kierie op die vloer geslaan. Die horlosie in die hotel se gang het middernag begin aftel. Oom Sybrand slaan met sy kierie, die horlosie slaan ‘n musikale noot. Twaalf kere. Toe Oom Sybrand sy kierie die twaalfde keer op die vloer slaan, breek die kierie en die onderste kwart spat eenkant toe. Die splinters staan soos skerp messe waar die kierie gepreek het. Lewies bring Oom Sybrand se brandewyn en Coke. Oom Sybrand drink rustig. Die gloed uit sy pyp se bak laat die glas brandewyn en Coke in sy hand soos dik, donkerrooi bloed lyk. Buitekant bedaar die storm. Dit reën nog hard, maar die verwoesting is besig om weg te trek. Die wind draai en waai onderdeur die deur. Die trek laat die blou rookwolke uit Oom Sybrand se pyp weg dwarrel.

Oom Sybrand het opgestaan en by die gekraakte venster uit getuur. “Die droogte is gebreek,” is al wat hy gesê het.

Omtrent twee ure later het Van der Schyff, die konstabel, papnat en sy uniform vol modder die kroeg binne gestrompel. “Daar was ‘n helse ongeluk buitekant die dorp,” het hy gesê en die water van sy gesig met sy modderbesmeerde hempsmou probeer afvee. “Die kar het ‘n koedoe getref. ‘n Spekvet ooi. Die persoon, ene Brighton, het omgekom. Die voorruit se glasskerwe het hom… het hom… sy hele kop omtrent afgesny.”

Die kroeg het gegons. Almal het tegelyk gepraat. Oom Sybrand het met die oorblywende stuk van sy kierie op die tafeltjie geslaan. “Rustig! Kalmeer, laat ons kan hoor wat die dienaar van die gereg te sê het.”

Van der Schyff het vertel. Sy kollegas vanaf Pretoria moes die lyk kom haal het. Brighton was so te sê onthoof. Hy is afgelos deur iemand vanaf Pretoria en mag dus ‘n dop gooi. “Asseblief, ‘n dubbel, skoon, Lewies.”

“Mens kan amper nie glo dat die voorruit in sulke skerp stukke opgebreek het nie. En die horlosie van sy Mercedes het gaan staan op presies twaalfuur. Middernag. Dis die tyd toe hy die koedoe getref het,” het Van der Schyff gesê voordat hy baie dronk begin raak het.

Oom Sybrand het sy hoed op sy kop gesit, geknik, gegroet en toe die kroeg verlaat. “Môre gaan ‘n lang dag wees, maar die droogte is gebreek en ons kan weer opstaan,” het hy gesê en toe vertrek na sy plaas toe. Die reuk van sy pyp het nog ‘n rukkie in die kroeg gehang en toe saam met die wind by die oop deur uitgewaai. Buitekant het die wolke weggetrek en die sterre helder gewink in die skoongewaste lug.

Veldskool

by Chopper — Categories: Gielie — Tags: 5 Comments

In Standerd 8 was dit weer tyd vir veldskool. Vir Standerd 5 was ons Delmas toe, maar daardie slag was dit Groot-Marico se kant toe. Standerd 5 se veldskool was kak, maar oraait. Teen Standerd 8 strek mens se tienerwysheid mos veel verder en sluit drank, sigarette en meisies in. Behalwe die gebruiklike blikbord, blikbeker, vadoek, tekkies, slaapgoed, tandeborsel en skeergoed ensovoorts was daar tussen my klere ook ‘n paar pakkies Camel 20’s, ses blikkies bier en ‘n Scope tydskrif.

Wat die skoolhoof besiel het om vir Meneer Harmse saam te stuur as die veldskool-onderwyser, sal net hy alleen weet. Meneer Harmse was geensins die sportiewe tipe nie en sy geweldige maag het getuig dat hy ook baie van bier moes gehou het. Meneer Harmse was ‘n yslike groot man, maar sy hart was baie sag. Hy was een van daardie onderwysers wat geen beheer oor die kinders gehad het nie. Ons was natuurlik verheug toe ons hoor dit is hy wat ons gaan vergesel.

Die Maandagoggend daag ons toe by die skool op. Gereed om veldskool toe te gaan. Ma het darem ‘n bietjie geld ook in my hand gestop toe ek gegroet het by die huis. Die skoolhoof het ons streng aangespreek en ons herinner om die skool se naam hoog te hou en afgesluit dat hy “die velle van ons gatte met die rottang sal af bliksem” indien daar sprake van wangedrag sal wees. Hy het ons glad nie banggepraat nie, selfs al het hy die flou vloekwoord “bliksem” gebruik.

Die bus was skaars buite sig van die skool, toe het ek al soos ‘n mak aap by die bus se venster uitgehang en die hardgekookte eier wat Ma onder andere vir my ingepak het as padkos, het pragtig die agterruit van ‘n kar getref wat die bus verbygesteek het. Mark het dit opgevolg met ‘n middelvinger vir die insittendes van die kar. Die busbestuurder was self ‘n paar jaar terug ‘n leerling van die skool en het ongestoord aangery, ten spyte van die bestuurder van die kar wat met flitsende ligte en woeste handbewegings beduie het die bus moet aftrek.

Op pad het Mark ook die beste skoot ingekry. Iets wat amper onmoontlik was. Sy appel het by die oop ruit aan die passasierskant van ‘n kar ingevlieg en iemand binne-in die kar getref. Meneer Harmse het mos iets gemompel van ons moet nie in die bus mors nie, dus het ons al ons lekkergoedpapiere en sakkies en koeldrankblikkies by die bus se ruite uitgegooi. Meneer Harmse het op die heel voorste sitplek in die bus gesit en stip gestaar na die pad. Dit het gelyk asof hy bitter spyt was hy het ooit die onderwys sy loopbaan gemaak.

By die plek aangekom buitekant Groot-Marico, het die bus gestop en ons almal uitgepeul soos ‘n trop wilde diere en langs die bus gestaan en water afgeslaan. En toe wag ons. Meneer Harmse het beteuterd rondgestaan en toe in die rigting van die geboue geloop om te hoor wat gaan vir wat. Die vuurhoutjies en aanstekers het geknars soos baie van ons sigarette aangesteek het.

Na ongeveer ‘n halfuur het Meneer Harmse teruggekeer. Die Bosveld se son was warm en die sweet het in strome teen sy gesig afgeloop. Hy het laat weet ons moet solank ons bagasie aflaai en netjies in drieë pak, terwyl ons wag vir die ander skool om op te daag. In die bus het ons reeds die ander skool wat saam op veldskool gegaan het, bespreek. Dit was een of ander snob skool in die Stad en ons het besluit kak sal hulle kak. Spul ryk mofgatte.

Die snob skool se nuwe bus het aangedreun gekom. Toe die kinders uitklim, was almal eenvormig in hulle skool se sweetpakke geklee. Hulle bagasiesakke was ook almal dieselfde met hulle skool se wapen daarop. Hulle onderwyser het bevele soos ‘n wafferse drilsersant geskree en toe tree hulle aan in drieë voor die bus. Ons het ons gatte geskeur van die lag. Meneer Harmse het iewers die bosse in gestaar, toe omgedraai en in sy besadigde stem vir ons gesê om ook in ‘n afdeling aan te tree.

Vanaf die geboue se rigting het twee mans flink aangestap gekom. Hulle was netjies geklee in kakieklere wat amper soos veldwagters se uniforms gelyk het. Die busse het die perseel verlaat. Een van die mans het begin praat en ons almal welkom geheet. Vir die snob skool vertel hy hoe geëerd hy is dat hulle die veldskool bywoon en hy hoop dat hulle dit baie sal geniet en waardevolle ervaring sal kan opdoen om saam met hulle terug te neem skool toe en dat hulle aan die vooraand staan van hulle volwasse lewe en dat hulle baie gaan leer en al sulke tos.

Vir ons neem hy eenkant toe en begin en eindig met ‘n uitkak en waarsku ons dat die Hel rustig sal wees in vergelyking met die straf wat hy sal toedien as ons nie onsself gedra nie. Hy vertel ons toe ook dat sy militêre diensplig al agter die rug is en dat hy aan die Grens was en al terroriste geskiet het. Die ander man, seker sy regterhand, knik sy kop en beaam alles. Hy sluit toe ook af met die beskrywing van ‘n martelmetode deur iemand se knaters met ‘n vonkpropdraad van ‘n Landrover V8 te skok.

Die man draai toe om en loop na die snob skool toe. Meneer Harmse kry toe sy stem terug. “Julle kan nie dat daai snobgatte julle wen nie,” is al wat hy sê. Grobler, die hoof-roof van die veldskool blaas toe op sy fluitjie en ons tree weer aan voor die bus. Hy wys toe na ‘n boom doer ver en sê die skool wat eerste, met al hulle bagasie om daai boom en terug is, doen nie skoonmaak diens vandag nie. Hy blaas weer sy fluitjie en ons laat spaander met ons bagasie. Meneer Harmse se woorde is nog vars in ons koppe. Dis net kinders en bagasie en stof en chaos. Drie van die snob skool se kinders word gepootjie en later, toe ons skool eerste weer aangetree is, sukkel nog een van hulle terug. Hy is naby aan trane en sy sweetpak is geskeur. Iemand het hom glo met die vuis aan die kant van die nek geslaan en toe val hy in ‘n doringbos. Grobler verduidelik hulle dat die badkamers môre-oggend blinkskoon moet wees en dat hulle ook die potte in die kombuis moet skrop.

Grobler sê toe dat ons tien sekondes het om voor die slaapkwartiere aan te tree en blaas weer sy fluitjie. Daar is weer net stof en bagasie en kinders en chaos. Twee van die snob skool se sportsakke, met hulle skoolwapen op, word gegryp en in die bosse langs pad in geslinger. Hulle tree weer laaste aan. Ons – 2, Snob-skool – 0.

Grobler verduidelik toe dat vorige jare die kinders van die verskillende skole saam in twee groepe verdeel is, om samewerking, eenheid en gees tussen die twee skole te bevorder, maar hierdie jaar slaap Snob-Skool in die kaserne aan die oostekant en ons in die kaserne aan die westekant. Grobler het baie onseker gelyk, so asof hy ‘n baie belangrike besluit moes neem, om ‘n bloedbad te voorkom.

Mark het ons toe na ons kaserne toe gedril. Dril, kon ons. Ons het netjies gedril. Regop en trots. Arms skouerhoogte geswaai. Sommer net om die Snob-Skool te wys.

Die kaserne was eintlik maar net ‘n saal met veertig dubbelbeddens. Een bo, een onder. Twintig van hulle weerskante. Ek het aan die agterkant, saam met die ander rokers, op die boonste bed slaapplek gekry. Teen die muur was daar al jaartalle uitgekrap. Ek het my knipmes uitgehaal en ook die jaartal uitgekrap in krom, skewe letters. “Augustus 1980”. En toe, net daaronder, Poes.

Die fluitjie het weer geblaas en Grobler het gebulder ons moet aantree met ons eetgerei. Middagete het bestaan uit witgekookte hoender, mielierys, gekookte koolblare, twee snye brood en flou lemoenkoeldrank wat uit ‘n groot blink kan in ons bekers getap is. Dit het gelyk asof die meeste kinders van Snob-Skool hulle kos in die asblikke uitgekrap het, waar baie van ons gaan vra het vir ‘seconds’.

Ek kon nie wag om in die veld te gaan rondloop nie, dit was immers VELDskool, maar na ete moes ons klomp klein klippies vat en ‘n wapen vir ons groep uitpak en daarna moes iemand verduidelik van die simboliek van ons wapen.

Dit het ons sowat vyf minute geneem om ‘n driehoek met die klippies te pak. Die Wiskunde-onderwyseres, Juffrou Smith, het mos gesê driehoeke is baie sterk en verleen sterkte aan baie strukture soos brûe ensovoorts.

Snob-Skool het ‘n intrinsieke ontwerp met hulle klippies gepak en toe na die tyd verduidelik van die anker wat standvastigheid beteken, en die kruis wat Christus voorstel en hulle geloof in die Skepper en die arend wat na vryheid verwys en die sirkel na eenheid en die boom na groei en nog klomp ander goed.

Die middag het ons ‘touch rugby’ gespeel en drie van Snob-Skool was in die grond in geduik. Maar iewers het iemand weer nie die program deurdink nie. Ons ‘straf’ omdat ons met die klippies-wapen verloor het, was om op te skep tydens aandete! Genade tog!

Iewers kruip die noodlot ook toe in en ons braai daardie Maandagaand. Ons het Snob-Skool goed gespyker met die vleis toe ons moes inskep. Ons het baie lekker gebraai. Ons – 3, Snob-Skool – 1. (Klippies-wapen pak was in elk geval ‘n klomp tos, so hulle wen tel nie eintlik nie, maar ter wille van regverdigheid kon hulle maar die een punt gekry het.)

Die aand toe rook ons tot laat in die kaserne en ‘n paar van ons drink ‘n bier of wat. Toe onthou iemand van Snob-Skool wat nog die badkamers moes skoonmaak en ons gaan bemors dit verskriklik deur taai ghwelle orals te spoeg, die toilette mis te pis en nat toiletpapier teen die mure en spieëls vas te gooi. En kyk, as mens dom is, moet jy kak. Snob-Skool gaan kla toe by Grobler oor die toestand waarin die badkamers was, maar eers nadat hulle skoongemaak het! Ons ontken toe alles en beskuldig hulle van jaloesie, waarop Grobler geantwoord het ons moet ophou om ons “soos kaffers te gedra” want hy gaan vir ons “van ‘n kant af opfok”.

Die tweede dag het rustig verloop. Tydens ontbyt het Grobler laat weet slegs die kombuispersoneel skep kos in en het Snob-Skool nie kans gehad om ons terug te spyker met die inskep nie. Hahaha! Ons moes ‘n klipmuur in die veld gaan bou deur plat klippe opmekaar te stapel en al was ons meer as ‘n uur voor die tyd klaar, het ons muur baie beter gelyk en was baie stewiger.

Snob-Skool het egter besluit om terug te slaan en laat saans, het vier van hulle grootste brekers by ons kaserne opgedaag. Wat hulle daar wou doen, weet nugter alleen, maar hulle is daar weg met geskeurde klere en die een linkeroor was vol tandepasta gespuit.

Snob-Skool moes ernstig gaan kla het, want die Woensdag toe jaag Grobler ons donker-oggend uit die beddens, laat elkeen van ons ‘n moerse groot klip kry en jaag ons kilometers vêr die veld in, elkeen met sy klip. Toe ons seker die grensdraad van die plaas bereik het waarop die veldskool was, het Grobler sy bakkie omgedraai en aan ons gesê ons het tien minute om terug te wees anders kry ons nie ontbyt nie. Daar was nie ‘n manier wat ons dit sou maak nie en ons het lekker rustig teruggeloop en gerook.

Die kasernes het elkeen hulle eie watertenk gehad. Ons gaan klim toe teen die stellasie op en gaan was ons so drie-drie- lekker in Snob-Skool se watertenk. Ek Johan en Andre was laaste en kak toe ook sommer in hulle watertenk toe ons klaar gewas het. Later die middag kom sê Meneer Harmse ons moet sê as van ons naar en siek voel of maagwerkings het, dan sal Grobler vir ons pille gee. Ons almal maak toe asof ons verskriklik siek is en gaan kry medisyne, wat ons nie gedrink het nie, terwyl Snob-Skool se kinders bleek-groen in hulle gesigte is.

Met die maagsiekte, moes ons toe skaak speel, want Grobler en die onderwysers weet nie wat om met ons te doen nie. Ons hardloop net so baie badkamers toe, maar om te gaan rook. Snob-Skool kry toe nuwe hoop met die skaakspelery, maar op een of ander manier het Mark as die kampioen uitgetree. Sonder om te kroek. Hy was al van kleins af baie goed met skaak.

Die Vrydag toe die kinders van Snob-Skool in hulle bus geklim het en huiswaarts gekeer het, was van hulle nogsteeds siekerig. Hoe daardie rit afgeloop het, sal ek nie weet nie.

Dit was maar net enkele hooftrekke van die veldskool.

Die tye wat ons die hindernisbaan gedoen het, het ons darem ‘n paar kere ook verloor. Tydens ‘n debatkompetisie een aand het nie een van ons iets te sê gehad nie. By die snoepie wat na aandete oopgemaak het, kon ons nie veel koop nie. Die ander skool se kinders het egter die plek omtrent leeg gekoop elke aand. Die een in wie sê oor ek die tandepasta gedruk het, moes dokter toe gaan, maar al was sy pappie moerig en wou almal dagvaar, was dit te donker te donker om te sien wie dit was, of hy was te bang om te sê wie dit was.

Andre het ook laat een aand gegaan en allerhande items uit die ander skool se sportsakke gaan steel, soos onder andere ‘n verkyker en ‘n Walkman. Ons vermoed hy het geld ook gesteel, want vanaf die Woensdag het hy besonder baie by die snoepie bestee. Bertus het ook nogal baie geld gehad vir die snoepie, want hy het twee Scopes, ‘n pakkie sigarette en ‘n Bunny Girl tydskrif gaan verkoop aan hulle. Ek het my Scope gaan ruil vir ‘n pakkie Winston en een blikkie bier by een van hulle, dus was van hulle ook nie so onskuldig nie. Mark het gesê hy het een aand baie laat ook dagga geruik daar. Ander het gesê dit was een van die terreinwerkers wat agter die kasernes gebly het, terwyl ander weer gesê het dit was Meneer Harmse, want iemand het hom glo daar gewaar.

En so het die veldskool van Standerd 8 ook op ‘n einde geloop. Meneer Harmse was natuurlik te bang om vir die hoof te gaan rapporteer dat hy geen gesag oor ons gehad het nie en het vir die hoof gesê ons het almal onsself puik gedra. Die Maandag tydens saal opening het die hoof ons ook bedank daarvoor.

November 10, 2009

Tyd om te gaan

by Chopper — Categories: Kroegtoonbank2 Comments

“Kom, Oom, dis tyd dat ons gaan.”

Oom Schwenke het gesteurd opgekyk.

Oom Schwenke was ‘n prokureur in die stad. In die dae toe die middestad van Johannesburg nog gelewe het en die sake goed verloop het, toe dit nog die kern van Sui-Afrika se sake was, het Oom Schwenke geklee in ‘n donkerbruin pak, wit hemp en blink gepoleerde swart skoene sy kantoor op die grondvloer in die agterstrate van Johannesburg oopgemaak.

Oom Schwenke het as bloedjong prokureur met sy vlymskerp verstand en byna volmaakte kennis van die Reg vinnig die rande laat inrol en bekend geraak. Sy vaal kantoortjie wat op die binneplaas uitgekyk het, kon hy na ‘n paar jaar verruil het vir een met ‘n asemrowende uitsig oor die mistigheid van die stad.

Hy het homself opgewerk vanaf winkeldiewe en daggarokers tot ‘n prokureur wat jy eenvoudig aan jou kant moes hê indien jy ryk was en jou huwelik in die skeihof se rigting beweeg het.

Sy kasarm van ‘n woonplek in Parktown was altyd met die duurste, dog smaakvolle en eenvoudige meubels uitgerig. Hy was die kenteken van sukses in die lewe wat soms hard en ongenaakbaar kon word in die stad.

Oom Schwenke was gelukkig getroud, en dit is die dat hy so gesteurd opgekyk het toe iemand vir hom sê dis tyd om te gaan. In sy oë was ‘n hartseer verlange.

In die kafee in Melville waar Oom Schwenke gesit het en sy oggend koffie saam met die skindernuus in Beeld geniet het, was hy al ‘n legende. Toe hy as verwaande nat-agter-die-ore mannetjie in die stad begin praktiseer het, het hy dit ‘n punt gemaak om sy dag met ‘n koppie sterk koffie daar te begin. Twee suikers, klein bietjie melk.

Die blik in Oom Schwenke se oë het verander na dankbaarheid en verligting.

Die jong kelnerin het hard gegil toe Oom Schwenke vooroor gesak het, sy voorhoof stukkend geval het op die piering waarin die sny varsgebakte kaaskoek was en die koppie koffie stomend oor die vloer gespat het.

Toe die ambulans opgedaag het, het die mediese ordonnanse net hulle koppe geskud. Oom Schwenke het ‘n massiewe hartaanval gehad en was reeds dood, nog voordat die porseleinskerwe van die piering die vel op sy voorkop oopgekloof het.

Jager Coolerbox

by Chopper — Categories: Maak nat die keel — Tags: , , 5 Comments

Sharpshoot het so een. Hy het dit net vanmiddag gaan koop.

jager-coolerbox

© 2010 Die Kroeg All rights reserved - Wallow theme by TwoBeers Crew - Powered by WordPress - Have fun!