avatar
Today is Thursday
September 9, 2010

Search Results Archives: 07 December 2009

December 7, 2009

Trein na Margate

by Chopper — Categories: Gielie5 Comments

“Ma, ek wil see toe gaan,” neul ek aan die einde van Graad 2, so maand voordat die skole sluit vir die lekker lang Desembervakansie.

Ma het buitekant op die draad tuinstoel in die skaduwee van die bloekomboom gesit en ‘n geelperske geëet. Op die draad tafeltjie was die asbakkie oorvol sigaretstompies, ‘n kwartbottel wodka en ‘n glas waaruit sy af en toe gesluk het.

“Jy was nou die dag see toe,” het sy geantwoord, die perskepit in die tuin in gegooi, ‘n sluk wodka gevat en ‘n sigaret aangesteek. “Met die dat jou Pa al weer in Sentraal is, moet ek in elk geval werk. Ons kan nie weg gaan nie.”

“Maar Ma werk dan nie nou nie,” het ek aangehou. “En ek was laas see toe nog voordat ek in die skool was.”

“Dit is my middag af. Die see is in elk geval vol haaie,” het Ma die gesprek afgesluit, opgestaan en oorgeloop na die buurvrou, Tannie Lettie toe.

Ek was goed vies en baie lus om see toe te gaan. Die ander kinders in die klas het vertel hulle gaan die vakansie weg.  Die meeste see toe en die ander Bosveld toe. Ek het vir my klasmaats vertel ek gaan ook see toe, want ek het gehoop Ma sou ja sê. As Sentraal naby die see was, het ek sommer by Pa gaan bly, maar dit was in Pretoria en ver van die see af.

Die volgende dag vertel ek nogsteeds ek gaan see toe. My planne was agtermekaar. Ek gaan wegloop Margate toe, na Ouma toe. Ek was nie eers seker of Ouma ooit nog in Margate gebly het nie, maar dit is waar ons gebly het toe ons die vorige keer see toe was.

Wonder bo wonder verras Ma my toe en laat weet ek gaan see toe! Net ek, want sy moet werk. Ouma het nog in Margate gebly en Tannie Lettie het met die idee vorendag gekom dat ek met die trein soontoe kan gaan. Haar seun, Bennie, was ‘n korporaal in die Weermag en ek gaan saam met hom die trein vang, want hy en klomp van sy vriende gaan ook Margate se kant toe.

Die dag wat die skole gesluit het, het ek nie skool toe gegaan nie. Ek moes die trein om 10:30 die oggend vanaf Florida-stasie na die Johannesburgse stasie haal en dan daar wag tot 18:00 om die trein na Margate toe te haal. Ma het ‘n briefie vir my geskryf wat ek moes wys as iemand my voor 13:00 gevra het hoekom ek nie in die skool was nie. Ma het gewerk die middag en al kon ek die laatmiddag bus gevat het, wou ek my reis met die trein begin. Toe Tannie Lettie vertel het dat die treine vol gaan wees omdat die skole sluit, het ek breed geglimlag toe Ma sê ek hoef nie die laaste dag skool toe te gaan nie.

Ma en Tannie Lettie het die vorige aand te veel wodka afgesluk in die kombuis en het vergeet om vir my te pak. Die oggend was ek vroeg op en het self die tas uit die boonste kas gehaal en gepak. Ma het winddronk gegroet en werk toe gegaan nadat sy my mooi vertel het om nie na vreemdelinge te luister nie en as iemand met my sukkel moet ek na die spoorwegpolisie toe hardloop. Sy het seker gemaak ek het geld en die treinkaartjie en toe my ‘n drankasem-soen gegee en werk toe gegaan. Ek dink sy het toe nog by die haarkapper gewerk.

So teen 08:00 was ek al baie opgewonde. Skielik wonder ek toe of daar slaapgoed in die trein is en gaan pluk ‘n kombers en kussing van my bed af. Ek sit toe ‘n rukkie en dagdroom oor die see en onthou die vorige keer wat ons by Ouma gaan kuier het, was dit ‘n entjie se stap strand toe. Net daar besluit ek my fiets gaan saam met die trein see toe.

Ek het my fiets uit die garage gaan haal, my tas, kussing en kombers op die voorstoep neergesit, die voordeur gesluit en die sleutel onder die blombak weggesteek. Die tas, kombers en kussing het ek op die middelpyp van my fiets se raam gebalanseer en stasie se kant toe gery. Halfpad het ek amper my gat afgeval toe die punt van die kombers in die ketting gegaan het. Die kussing het in die pad geval en op die kombers se punt was ‘n lang oliestreep.  Ek het so met my bagasie op die fiets gesukkel, vir ‘n oomblik het ek daaraan gedink om die kussing en kombers net daar langs die pad te los.

By Florida se stasie het ‘n lid van die spoorwegpolisie my onmiddellik voorgekeer en wou weet waarnatoe ek op pad was en hoekom is ek nie in die skool nie, want die skole het nog nie gesluit nie. Ek het hom Ma se briefie gewys en toe help hy my om al my bagasie op die trein te kry.

By die stasie in die middestad van Johannesburg aangekom, het die paniek my amper beetgepak. Daar was baie treine en fluite en geraas en mense en tasse en goed. Ek was baie naby aan trane, toe stamp iemand my nog om ook dat my fiets klaterend val en die kombers en kussing gly eenkant toe oor die vloer. Die spoorwegpolisie het weereens tot my redding gekom. Die man het tot gereël dat hulle sal seker maak ek klim op die regte trein en my na hulle kwartiere toe geneem dat ek my bagasie daar kan los en sommer onder hulle wakende oë daar kon wag ook tot 17:30. Hulle sou ook  sommer vir Bennie opspoor wat teen 15:00 se kant daar sou opgedaag het.

Vir middagete het ek vir my ‘n hamburger by ‘n kafee gaan koop. Die tamatiesous het oor my hemp gedrup en my vingers het ek ook aan my hemp afgevee. Terug by die spoorwegpolisie se kwartiere het daar ‘n man met baie blink goeters op sy skouers met die ander gepraat. Hulle het kort-kort in my rigting gekyk.

Toe die man met die blink goeters na my toe loop, het ek onmiddellik gedink ek is in die moeilikheid. Hy het my skerp, maar tog simpatieke oë aangekyk en gevra of Bennie familie van my is.

“Nee, oom,” antwoord ek toe. “Dis ons bure, Tannie Lettie se seun. Hy is in die army en ek moet saam met hom ry, want my ma en Tannie Lettie het so gesê.” En toe, net vir ingeval Bennie moeilikheid gemaak het, “Maar ek ken hom nie. Hy’s baie ouer as ek en ek het hom baie lanklaas gesien en weet net hoe hy lyk,” voeg ek by. Wat die waarheid was, want ek het hom net van sien geken. Ek haal toe weer Ma se briefie uit en wys dit vir hom.

“Waar is jou Pa?” vra hy toe.

“Hy kom eers oor ‘n paar maande terug, oom,” antwoord ek en wonder wat aangaan.

“Jy gaan nie saam met Bennie Margate toe ry nie, maar een van my manne gaan saam met jou” antwoord die man en ek kry so ‘n gevoel dat daar iewers groot kak is. Iemand bring vir my ‘n koeldrank en ek ontspan.

Brink was die man se van gewees saam met wie ek Margate toe gery het. Die kondukteur wou nog kla oor my fiets, maar Brink het my kombers en kussing en fiets opgetel en die kondukteur het nie verder gesukkel nie.

Brink het my alleen gelos in my kompartement en my streng vertel dat hy net langsaan is en dat ek hom moet roep net wanneer ek wil, want hy sal sorg dat ek vir my ouma gaan kuier, maak nie saak wat nie.

Toe die trein wegtrek, het ek die venster oopgeskuif en vir die mense gewaai. Uiteindelik was ek op pad see toe! Laatmiddag het ‘n mistigheid oor Johannesburg se voorstede gehang en die straatligte wat al aangeskakel was, het dit pragtig laat lyk.

Die treinwiele het ritmies tiktak-tiktak-tiktak oor die spore gerol en ek het aanhoudend by die venster uitgekyk. Toe dit donker was, het Brink my gevat om aandete te gaan koop. Ek hoef nie eers daarvoor  betaal het nie en Brink het seker gemaak ek borsel my tande daarna en toe vir my gesê as die son weer opkom, is ons amper in Margate.

Ek het nie dadelik gaan slaap nie. Ek het tot laatnag nog die ruite oop gelos en uitgekyk buitekant toe. Die sterre was helder en af en toe kon ek dorpsligte of ‘n plaashuis se ligte sien. Daar was skoon beddegoed in die kompartement en toe ek gaan inkruip het, het ek gou aan die slaap  geraak.

Vroeg die volgende oggend het Brink my gevat vir ontbyt en toe ek my oë uitgevee het, was my kombers, kussing en fiets agter op ‘n spoorweg bakkie en laai Brink my by Ouma se huis af. Ouma het my ‘n nat soen op die wang gegee en nog voordat ek uitgepak het, saam met my strand toe geloop terwyl ek stadig op my fiets gery het.

Eers later, toe ek moeg geswem was en langs Ouma op die strand onder die sambreel gesit het, het ek gewonder wat die man by Johannesburg se stasie nou eintlik bedoel het toe hy iets gepraat het van “kontak geslaan in Angola twee dae terug” en “ oorskot nog nie eers in die Republiek nie..”

© 2010 Die Kroeg All rights reserved - Wallow theme by TwoBeers Crew - Powered by WordPress - Have fun!