Die Donderstorm

Dit was ‘n warm somersmiddag in November. Die lug was bedompig en die mense was dit eens dat ‘n harde donderstorm binnekort oor die Bosveld gaan uitsak, soos die mense al maande lank gehoop het. Die droogte het baie hard gedruk daardie jaar en meeste van die boere in die Skeurberg-omgewing was in geldelike nood. Oom Koen, wat op die plaas Granietrots geboer het, het vertel dat die sebras se strepe so dun soos tandestokkies was en as jy ‘n rooibok platgetrek het, hoef jy net die vel af te geslag het. Die rooibokke was klaar biltong. Die bietjie geelperskes wat aan die bome gehang het, was ook klaar gedroog, gereed om perskepoeding met vla mee te maak op Sondae. Die druiwe was rosyntjies. Die windpompe het net fyn piepgeluide gemaak en af en toe ‘n baie dun straaltjie water in die gekraakte sementdamme gepiepie.

Op die aand van die 30ste November, was Skeurberg Hotel se kroeg die enigste teken van lewe op die dorpie. Lewies, die eienaar van die hotel, het sy potloodjie stomp geskryf soos wat die mense ‘op die boek’ gedrink het. Die bankbestuurder en die posmeester het kontant betaal. Die mense wat op die boek gekoop het, het darem getrou die geld bymekaargeskraap aan die einde van elke maand deur ‘n paar velle of biltong te verkoop in Pretoria. Lewies het nooit probleme gehad met slegte skuld nie. Maar dan moet mens ook darem onthou dat Lewies op sy dae ‘n bokskampioen was.

Die aand in die kroeg vloei die drank en die mense praat en die rookdampe vul die lug swaar met die reuk van nikotien. Hulle praat oor die paar stuks spekvet wild wat gesien is. Net so hier en daar. ‘n Vet koedoekoei wat oor die pad gehardloop het of ‘n dikgevrete swartwitpens wat se pens bolstaan, wat iemand gewaar het.

Oom Sybrand het vurig aan sy styfgestopte pyp gesuig en het die gesprek ook aangevoer. “Man, ek seg vir julle dit is daardie donnerse konglomeraat wat uit die Sodom van ‘n Johannesburg hier opgedaag het en die plase uitkoop wanneer die droogte mens aan die keel en knaters beet het!”

Almal het doodstil gesit en geluister wanneer Oom Sybrand gepraat het. Oom Sybrand het sy pyp weer brand gemaak, ‘n sluk van sy derde, of vierde, brandewyn en Coke gevat en toe verder gepraat. Hy het sommer met sy kierie ook beduie. Die mense naby aan hom moes terugstaan.

“Hulle kom daar uit Sodom en koop die plase hier. Maar dis nie al nie!” het Oom Sybrand gesê en almal in die kroeg aangegluur, om seker te maak hulle verstaan wat hy sê. “Die bliksemse trok wat laasweek ‘n hele vrag lusern hier kom aflaai het. Wie se lusern was daardie?” het hy gevra en na elkeen in die kroeg gewys met die punt van sy kierie. Dit was doodstil in die kroeg. Daar het nie eers ys in ‘n glas gerinkel nie. Oom Sybrand het toe ongeduldig met sy kierie op die houtvloer getokkel en gewag vir iemand om te antwoord. Hy het wild asemgehaal en almal kon sien hy was baie kwaad. Sy oë het donker en boos gelyk en daar was fyn druppeltjies spoegskuim op sy baard. Niemand het geantwoord nie. Die mense het vir die vloer of vir hulle glase gekyk. Oom Sybrand se kierie het al hoe vinniger op die vloer getokkel. Tok-tok-tok-tok-tok…

Skielik swaai hy met sy kierie dat dit ‘n swiep-geluid maak. Die punt van sy kierie wys na ‘n persoon in die kroeg en Oom Sybrand vra: “Is dit jou lusern?” Dan antwoord die persoon “Nee, Oom Sybrand!” of skud net sy kop. Die kierie het tot na die meisie wat in die Poskantoor gewerk het gewys en sy het ook ontkennend geantwoord.

Oom Sybrand het toe punt van sy kierie hard op die vloer gestamp, so asof hy ‘n oordeel gaan uitspreek en iemand tot die galg gaan vonnis. “Die fokken konglomeraat voer die wild op die plase wat hulle al uitgekoop het! Dis wat! En sodra meeste van die wild op hulle grond is, maak hulle die grensdrade reg en dan as die reëns kom, word die wild vet en loop daar g’n stuks wild op ons plase nie!” Die kierie het weer ‘n wilde draai gemaak en die punt na almal in die kroeg gewys. Hy het toe sy kierie weergalmend hard op die vloer gestamp, so asof die doodsvonnis daarmee voltrek is en sy brandewyn en Coke met een groot teug afgesluk, sy pyp in die asbak uitgeklop en dit weer tydsaam begin stop. Dit was die teken dat Oom Sybrand klaar gepraat het. Die mense het weer hulle glase na hulle lippe toe gebring en verder onder mekaar gepraat.

Dit was Lenie, die meisie wat in die Poskantoor gewerk het, wat die nuus gedeel het. “’n Verteenwoordiger van die konglomeraat moes al opgedaag het. Hy het plek hier in die hotel bespreek vir twee dae.”

Almal het geweet dat enige inligting wat deur die Poskantoor verby Lenie gegaan het, geensins privaat was nie. Telegramme het sy gelees en oproepe deur die sentrale het sy afgeluister. Lewies het verleë met die kop geknik, op sy horlosie gekyk en toe skielik besig geraak agter die kroegtoonbank.

Deur die gekraakte venster van die kroeg kon mens die wolke in die flou naglug sien saampak buitekant. Die sterk wind het ‘n wolkkombers oor die sterre gewaai. Oom Sybrand het ‘n vuurhoutjie geknars en dik bolle rook uit sy pyp gesuig. Die ligte in die kroeg het geflikker en soos donderblitse in Oom Sybrand se oë weerkaats. Buitekant het die wind gewaai en die reuk van reën het by die kroeg ingestroom. Die gordyne het woes gewapper en die voordeur het met ‘n harde knal toegeslaan. ‘n Leë blik was klaterend in die straat af gejaag deur die wind.

Die mense het gepraat en gewonder oor die verteenwoordiger van die konglomeraat. “Ja, wat, dis nie almiskie, die grondpad is vol skerp klippe. As mens nie die pad ken nie, kan mens lelike probleme met jou kar se bande optel,” het iemand laat weet.

“Dalk het hy ‘n verkeerde afdraai gevat. Daar onder in die vallei waar die plaaspaadjies uit die klippad draai, kan mens nogal heeltemal verdwaal,” het iemand anders sy mening gelug.

“Net so,” het iemand beaam. “In die nag is daar geen baken…” praat hy nog en toe kom daar skielik ‘n baie sterk wind die kroeg in. Die voordeur se grendel was maar stram en het nie behoorlik gehaak nie. Die dwarrelwind het die sigaretstompies uit die asbakkies gewaai en die leë blikke van die tafeltjies afgevee waar hulle dawerend op die vloer rondgerol het. Lewies het haastig die deur gaan toemaak en seker gemaak die grendel het gehaak in die kosyn. Oom Sybrand het lustig aan sy pyp gesuig.

Die mense wou nie huiswaarts keer nie en Lewies moes bontstaan agter die kroeg terwyl die storm besig was om hoogswanger te raak. ‘n Weerligstraal het verblindend buitekant deur die inkswart nag geklief en ‘n breukdeel van ‘n sekonde later het die knal die kroeg laat rammel. Die krag was af en die swart nag het in die kroeg sy blyplek opgeëis. Mense het vuurhoutjies getrek en hulle duime oor die growwe wieletjies van hulle aanstekers laat gly. Lewies het kerse en blakers uit die kas onderkant die kroegtoonbank gehaal en op die tafeltjies geplaas. Die geel kersvlammetjies het lang skaduwees in die kroeg gegooi en die glase in die drinkers se hande goud gekleur.

Die donderweer het geknal en ontplof buitekant. Oom Sybrand het weer ‘n vuurhoutjie getrek en aan sy pyp gesuig. Die wind het stormsterkte bereik. Die tabak het vuurrooi gegloei in die bak van sy kromsteel. Hy het sy glas omgekeer in sy mond. Buitekant het die reën in groot, vet druppels op die dorre aarde begin neerplof.

Oom Sybrand het sy kierie se punt met een harde slag op die vloer neergebring om Lewies se aandag te trek. Lewies het opgekyk en sy gesig was bleekwit in die lig van die weerligstraal wat buitekant deur die nag gekloof het. Die knal het die glase agter die kroeg laat rinkel soos honderde spook-drinkers wat dors geword het. Lewies het geweet wat Oom Sybrand drink en het ‘n dubbel brandewyn, met baie ys en min Coke gegooi.

Oom Sybrand het sy vars dop na sy lippe toe gebring, ‘n sluk gevat en toe weer met sy kierie op die vloer geslaan. Die hemel se sluise het na ‘n verblindende bliksemstraal en oorverdowende knal oopgemaak. Oom Sybrand het diep gesluk. Iemand het opgemerk dat die straat buitekant die hotel soos ‘n breë, modderrivier gelyk het toe die weerlig weer slaan en vir ‘n sekonde die storm se siel oopgemaak het vir almal om te sien.

Die bruin brandewyn en Coke mengsel het in Oom Sybrand se keel afgevloei en toe dit klaar is, klingel die ysblokkies in die glas. Die haelkorrels het oorverdowend op die sinkdak van die hotel begin neerstort. Niemand kon dit buitekant waag nie en die drinkers het hulle self gevoed met brandewyn, rum, whiskey, bier, gin en tonic…

Oom Sybrand het weer met sy kierie op die vloer geslaan. Die weerlig het helder geflits buitekant. Oom Sybrand se hare was regop gewaai deur die wind. Sy grys baard het helder blink geskyn in die lig van die weerligstrale. Sy oë het geblink soos die gloeiende kool in sy pyp.

Oom Sybrand het sy glas in een asem leeg gesluk. Buitekant het die krag van die natuur baklei met die strukture van die mense. Die wolkbreuk het die paaie in riviere verander en die suipkrippe van die wild op die plase laat oorloop.

Oom Sybrand het weer met sy kierie op die vloer geslaan. Die horlosie in die hotel se gang het middernag begin aftel. Oom Sybrand slaan met sy kierie, die horlosie slaan ‘n musikale noot. Twaalf kere. Toe Oom Sybrand sy kierie die twaalfde keer op die vloer slaan, breek die kierie en die onderste kwart spat eenkant toe. Die splinters staan soos skerp messe waar die kierie gepreek het. Lewies bring Oom Sybrand se brandewyn en Coke. Oom Sybrand drink rustig. Die gloed uit sy pyp se bak laat die glas brandewyn en Coke in sy hand soos dik, donkerrooi bloed lyk. Buitekant bedaar die storm. Dit reën nog hard, maar die verwoesting is besig om weg te trek. Die wind draai en waai onderdeur die deur. Die trek laat die blou rookwolke uit Oom Sybrand se pyp weg dwarrel.

Oom Sybrand het opgestaan en by die gekraakte venster uit getuur. “Die droogte is gebreek,” is al wat hy gesê het.

Omtrent twee ure later het Van der Schyff, die konstabel, papnat en sy uniform vol modder die kroeg binne gestrompel. “Daar was ‘n helse ongeluk buitekant die dorp,” het hy gesê en die water van sy gesig met sy modderbesmeerde hempsmou probeer afvee. “Die kar het ‘n koedoe getref. ‘n Spekvet ooi. Die persoon, ene Brighton, het omgekom. Die voorruit se glasskerwe het hom… het hom… sy hele kop omtrent afgesny.”

Die kroeg het gegons. Almal het tegelyk gepraat. Oom Sybrand het met die oorblywende stuk van sy kierie op die tafeltjie geslaan. “Rustig! Kalmeer, laat ons kan hoor wat die dienaar van die gereg te sê het.”

Van der Schyff het vertel. Sy kollegas vanaf Pretoria moes die lyk kom haal het. Brighton was so te sê onthoof. Hy is afgelos deur iemand vanaf Pretoria en mag dus ‘n dop gooi. “Asseblief, ‘n dubbel, skoon, Lewies.”

“Mens kan amper nie glo dat die voorruit in sulke skerp stukke opgebreek het nie. En die horlosie van sy Mercedes het gaan staan op presies twaalfuur. Middernag. Dis die tyd toe hy die koedoe getref het,” het Van der Schyff gesê voordat hy baie dronk begin raak het.

Oom Sybrand het sy hoed op sy kop gesit, geknik, gegroet en toe die kroeg verlaat. “Môre gaan ‘n lang dag wees, maar die droogte is gebreek en ons kan weer opstaan,” het hy gesê en toe vertrek na sy plaas toe. Die reuk van sy pyp het nog ‘n rukkie in die kroeg gehang en toe saam met die wind by die oop deur uitgewaai. Buitekant het die wolke weggetrek en die sterre helder gewink in die skoongewaste lug.

Category: Skeurberg
You can follow any responses to this entry through the RSS 2.0 feed. You can leave a response, or trackback from your own site.
6 Responses
  1. muffia says:

    Jip, so het baie van ” daardie donnerse konglomeraat ” mense hul kloue ingeslaan – maar die weg van die natuur het nog altyd uitkoms gebring – en dinge weer laat vlot.
    Snaaks hoe ‘n eers welvarende land in ‘n oogwink kon verswak tot amper algehele armoede met die “hulp” van buitestanders – wat dan daai plek kan oorvat vir ‘n appel en ‘n ui.
    Thanks Chopper, hier besef ek jy is nie net altyd ligsinnig nie – maar ook ‘n baie “diep” persoon

    ps: wat is die rand/dollar ruilwaarde deesdae *wink wink *

  2. Chopper says:

    Dis op hierdie oomblik R7.44 vir ‘n US $.

  3. Dellie says:

    Wow! Uitstekend geskryf Chops, dis so beskrywend ek kon alles sien en proe en ruik.

  4. Twattie says:

    Heng Chopper, ek’t lanklaas so mooi beskrywende stukkie skryfwerk gelees! Jy laat dit so maklik lyk!

  5. Harry says:

    Broer! jy KAN skryf!

Leave a Reply

XHTML: You can use these tags: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>