Die einde van die sewentigs en die aanbreek van die tagtigs was vir my ‘n baie lekker tydperk. Behalwe die rooi kol om my Aardrykskunde-simbool, het my rapport aan die einde van standerd 7 baie goed gelyk. Met ‘n gemiddelde D-simbool en net een druipvak, het die familie hoop gehad dat ek ook tot die elite sou uitstyg wat nie net die komende standerd 8 nie, maar ook standerd 9 en die magiese, amper onbereikbare “Matriek” eendag sou slaag.
26 Maart 1980 het ek my sestiende verjaarsdag beleef. Dit was ook sommer die begin van ‘n lekker langnaweek. Die 27ste was Goeievrydag en Maandag, die 30ste, was Paasmaandag. Ek het darem die oggend voordat Pa my by die skool gaan aflaai het, ‘n bier saam met hom gedrink en een van sy Lexington’s gerook.
Ma en Tannie Lettie, die buurvrou, het by die kombuistafel gesit en lang glase vol wodka en lemoensap gedrink terwyl die asbakkies oorgeloop het. Tannie Lettie was juis toe ook afgesê deur haar kêrel wat nie sy vrou wou skei nie en sy het die liefdesteleurstelling saam met die vieringe van my sestiende verjaarsdag verdink. Ma het haar getrou bygestaan deur die bottels wodka uit die linnekas te gaan haal.
Ma het planne gehad dat ek die Saterdag ‘n lekker partytjie by ons huis kon hou vir my verjaarsdag. (Die Vrydag was buite die kwessie want die drankwinkels was toe op die vakansiedag.) Partytjies by ons huis was altyd baie gewild onder die kinders by die skool. Ma het nie worries gehad nie en selfs van haar wodka opgeoffer om ‘n lekker sterk pons te maak en die yskas reggepak sodat daar plek is vir die bier wat van die kinders saamgebring het. Tannie Lettie het ook altyd lekker saamgekuier, maar ek kan nie nou onthou of sy ook bier saamgebring het nie. Ek dink sy het net saam gedrink.
Die vibe by my partytjie was Saterdag egter nie so lekker nie. Die meeste van my vriende was saam met hulle ouers Durban toe vir die langnaweek. Mark, wat ‘n bankie moes bring, was na sy pa toe wat in Nelspruit gebly het. Lindie het sedert standerd 6 in ‘n regte klein rebel ontaard en ek het haar by Shaun afgevry. Shaun was so moerig, hy het ook nie partytjie toe gekom nie. Teen laatmiddag was die hele partytjie dood en Ma en Tannie Lettie het lankal dronkverdriet gehad. Pa het nagskof by die Poskantoor in die middestad van Johannesburg gewerk en was ook nie tuis nie.
Ek en Johan het verveeld in die sitkamer gesit en rook, toe die telefoon lui. Dit was Lindie wat my gelukwens met my verjaarsdag. Skielik vang ek toe die bright spark en vra Lindie of sy lus is om uit te gaan. “Pa het gesê ek kan die kar maar leen,” lieg ek toe sommer by. Sy is toe ook sommer dadelik baie opgewonde en ons reël dat ek haar oor ‘n uur ‘n blok vanaf haar huis oplaai. Sy sal vir haar ouers sê sy gaan by een van haar vriendinne kuier. Die betrokke vriendin was in Umhlanga saam met haar ouers, dus is alles reg vir die aand.
Johan was toe ook dadelik game en het van Pa se aftershave op sy wange gespat en sy hemp ingesteek en sy hare met nat vingers plat agteroor teen sy kop vasgeplak. Ek het vir myself varsgestrykte klere aangetrek, ‘n oormaat reukweerder oor my lyf gesproei en Pa se aftershave het soos ‘n wolk om my gehang. Ma was uit soos ‘n kers, maar ek het nietemin suutjies in die gang af gesluip en die Ford se sleutel van die rakkie afgehaal. Pa was trots op sy Ford Fairlane 500 sedan, maar ek wou nie die vaalbruin Volla se sleutels vat nie. Wat is die kanse in elk geval dat Pa ooit gaan weet ek het die Fairlane gery? Hy werk en Ma is uitgepass, het ek die stemmetjie van my gewete stilgemaak. Ek steel mos nie die kar nie. Dit is Pa s’n en ek bring die kar mos weer terug, later vanaand.
Die kar het voor die enkelgarage gestaan. In die skemerlig het die rooi bakwerk geblink soos goeie rooiwyn by ‘n kaggelvuur. Ek het die deur oopgesluit en agter die stuurwiel ingeklim. Die sitplek was groot en sag. Die Fairlane het baie ruimte gehad. Ek het oor gestrek om vir Johan die deur aan die linkerkant oop te maak. Johan het ses biere by sy voete neergesit. Ons elkeen het ‘n sigaret aangesteek, en toe eers draai ek die sleutel. Die enjin het byna onmiddellik gevat en die 5.7 liter V8 het saggies gebrul. Die sigaret het by my mondhoek uitgehang en ek het die ratkierie by die stuurkolom na “R” toe verskuif. Die “SelectShift Cruise-O-Matic” ratkas het ‘n ligte vibrasie deur die bakwerk laat gaan. Ek het baie liggies met my voet aan die petrolpedaal geraak. Die V8 het diep gegrom, heeltemal anders as die geklater-klater-klater van die Volla. Die kar het agteruit begin beweeg en baie versigtig het ek by die hek uit gery.
Eers ‘n blok verder, waar die straatligte verdof was deur die bome, het ek agtergekom die ligte is nog af. By die volgende stopstraat het ek vir Johan gesê:”Hoor gou hoe klink hierdie pappie,” en die petrolpedaal diep weggetrap. Die agt perde onder die enjinkap het in luiperds verander en diep gebrul. Agter my het iemand in ‘n poeierblou Datsun ongeduldig getoet. Ek het die kierie na “D” toe verskuif en die lepel plat teen die vloer getrap. Nog iemand wat van die kant af gekom het, het hard toeter geplaas, maar die V8 het die kar vorentoe laat skiet en teen die tyd wat die automatic tweede rat gehaak het, was die stopstraat al vêr agter.
Johan het die sespak by sy voete nader gesleep en vir ons elkeen ‘n yskoue Milkstout oopgemaak. Ek het myne diep gesluk. “Kom ons vat gou ‘n draai daar in Ontdekkersweg,” het ek vir Johan gesê en by die volgende kruising regs gedraai sonder om die flikkerlig aan te sit. Die tweede robot was rooi en ek het stilgehou. In die baan langsaan het jongmense in ‘n BMW 2002 stilgehou. Die bestuurder het die revs van die BMW gegooi, so asof hy wou dice. Ek trap toe die lepel van die Ford plat om te wys ek vat hom aan sodra die robot groen slaan, maar die ratkierie was nog in “D” en die Ford hardloop vorentoe, oor die rooi lig, mis ‘n ander kar rakelings en die Milkstout stort uit oor my broek.
Ek en Johan lag kliphard en hy sê vir my: “Looi hom!” en ek looi hom. Die pad is lank en reguit en ek trap hom oop. Ek verminder nie spoed vir ‘n bakkie in die linkerbaan nie en gaan net regs verby sonder om in die spieëltjies te kyk. Ek gooi die leë bierblik by die ruit uit en Johan gee nog een aan. Ek is vol selfvertroue agter die stuur en ons het ‘n wilde rit, vol adrenalien-en V8-aangedrewe spoed, na Lindie toe.
‘n Blok vanaf Lindie-hulle sê huis het ek haar onder die bome in die donker skaduwees sien staan. Ek wou regs langs haar stop, maar misgis my met die afstand en stop ’n hele paar meters verby haar. Sy kom aangedraf en ek beduie vir Johan na die agtersitplek toe terwyl hy vulgêre suiggeluide maak. Ek wou net uitklim om die deur vir haar oop te maak, toe maak sy al self oop en klim in. Sy lyk opgewonde. Sy gee my ‘n vinnige klapsoen op die wang en ek trek weg. Die agterbande skreeu soos wat die V8 die kar vorentoe laat brul. Sy pluk ‘n trui oor haar kop en gooi dit agtertoe. Toe haal sy ‘n pakkie sigarette uit ‘n spierwit handsakkie en ek jaag amper in die randsteen vas toe ek in die lig van haar aansteker sien hoe knap die bloes is wat sy aanhet. “So, waar gaan ons?” vra sy en blaas ‘n bol rook uit. Ja, fok, waarnatoe gaan ons? wonder ek.
“Ons gaan check die hotel daar naby Florida Lake,” sê ek en steek vir myself ook ‘n sigaret aan.
“Iemand lus vir wodka?” vra Johan skielik daar van agter af en gee ‘n kwartbottel van Ma se wodka vorentoe aan. Ek vat aan en maak ‘n groot kap net so uit die bottel uit. Ek wil stik van die skoon alkohol, maar hou my pose en gee vir Lindie aan. Sy sluk ook, stik, vloek en met ‘n “For fuck sakes, het julle nie mix nie?” gee sy dit terug agtertoe vir Johan aan. Ek voel vir ‘n oomblik sleg omdat ek die drank vir Lindie aangegee het, maar hou dan my linkerhand agtertoe en vat die bottel weer by Johan. “STOOOOOOP!” skree Lindie skielik. Ek trap die rempedaal eers mis en toe die tweede keer dat die reuk van gebrande rubber in die lug hang. Die Fairlane kom tot stilstand vêr anderkant die witstreep by ‘n robot wat rooi geslaan het. Lindie gryp die bottel by my en sy vat nog ‘n sluk. “Ry net mooi, asseblief, “sê sy en toe die robot groen slaan trek ek besadig weg.
Florida se strate is besig en ek stop eers langs die meer, vêr weg van die ander karre waar ek nie parallelle parkering hoef te doen nie. Ons stuur die laaste bietjie wodka om en rook elkeen nog ‘n sigaret terwyl ons vir die water kyk. “Kom ons gaan check wat gaan in die hotel aan, ” sê Johan.
“Ja, ek’s heavy lus vir dans,” sê Lindie en sy giggel. Dit klink of haar tong sleep. “Sy klim toe sommer ook uit en maak die deur half toe agter haar.
“Druk daai orige Milkstout voor by jou hemp in, sê ek vir Johan toe ek ook uitklim. “Ons weet nie hoe fokken duur die plek is nie.”
“Jou girl, jy koop vir haar,” sê hy en strompel by die kar uit. Die drie blikke Milkstout maak so duidelik soos daglig ‘n bult onder sy hemp voor by sy maag. Ons steek nog sigarette aan en stap hotel se kant toe. Dit lyk of die plek se disco kook en die musiek kan duidelik gehoor word. By die deur het ons geen troubles nie en ons drie stap reguit in. Ons kry sitplek naby die kroeg. Lindie wil witwyn hê en ek en Johan kap elkeen nog ‘n Milkstout. Die laaste een gee ek vir Johan, want dit het erg bitter begin proe, toe ek kroeg se kant toe stap om vir Lindie nog wyn en vir my sommer rum&coke te gaan kry.
Iemand onthou skielik dis eintlik die viering van my verjaarsdag en ons kap ‘n paar shooters. Ons betrek die dansbaan en dans soos ‘n klomp paloekas, maar geniet ons gate uit. Ten spyte van die feit dat ons al drie kliphard iets geskree het van my sestiende verjaarsdag terwyl ons die shots wegslaan, kom niemand anders iets agter nie, allermins die barman en ons kuier woes.
Op ’n stadium raak Johan weg en keer terug met ‘n streep kots op die voorkant van sy hemp. Lindie ruk haar lyf soos ‘n stukkende porseleinpop rond op die dansvloer en ek voel naar van die daggasmaak in my mond want iewers deur die aand het ek somehow, somewhere ‘n paar trekke van ‘n zol gevat. As ek afgekyk het en iets geregistreer het, sou ek gesien het my eie skoene is vol kots en dat daar ‘n groot piskol op my linkerbroekspyp is.
Iewers rondom middernag, het die plek toegemaak en ons drie strompel saam met die laaste paar mense daar uit. Ons koppe draai van die aarde se dronkgeit. Ons kar slinger toe.
“Fok, waar het ek gestop?” wonder ek hardop toe ons na die parkering langs die meer toe loop.
“Anderkant,” sê Johan. Lindie hang aan my en giggel.
Ons loop anderkant toe. Niemand weet waar sy ‘anderkant’ is nie, maar ons loop soontoe. Lindie word naar en gooi op langs ‘n boom. Ons kry nie die kar nie. Ons gaan weer ‘anderkant’ toe.
Ons ‘anderkant’ toe reg rondom die meer en in die straat langs die hotel af. Die karre word min. Later is daar omtrent geen ander karre meer nie. Ons word so half nugter van al die ‘anderkant’ toe geloop. Johan kry die Milkstout blik wat hy blykbaar langs die kar platgetrap het. Daar is nie ‘n kar nie. Net wielspore in die los grond. Johan sê ons moet nog ‘n keer ‘n draai om die meer loop, maar ek weet sommer die kar is gesteel en my kop is seer en ek is moeg en Lindie wil huil en sy wil huistoe gaan.
“Fok, ou, hier’s moerse kak,” merk Johan op. “Jou pa gaan ‘n fokken hartaanval kry.”
“Ek weet…”
Lindie begin huil. Sy het dronkverdriet en kla iets van haar kat wat laas jaar weggeloop het. Ek slaat ‘n bright spark toe ek die laaste bus by die halte sien intrek.
“Kom ons vang die bus. Ons kry Lindie by die huis en ek en jy gaan net straight huis toe,” sê ek vir Johan.
“Wat de fok, ou! Wat van die kar?” vra hy verbaas.
“Niks. Ons weet net fokkol en dan sal Pa dink die kar is uit die jaart uit gesteel. Dis wat.”
Jislaaik jy is fucked-up verby,” is al wat Johan gesê het terwyl hy saam draf-strompel om nie die bus te mis nie.
By die bushalte naby ons huis klim ons af. Lindie het al opgehou huil en voel net verskriklik siek. Ek ook. Johan ook. Ons stap in die donker stilte met die straat af. By die hek van ons huis gekom, lyk dit asof Lindie skielik ‘n spook gesien het. “Het julle twee Fords?” vra sy en beduie onvas op haar voete.
En daar staan die Fairlane. Reg voor die fokken garage. Pa se Fairlane. “O fok, lyk die polisie het darem die kar vinnig terug gekry, op een of ander manier, maar julle ligte brand nog, so jy gaan vet kak kry, so ek waai,” sê Johan en draf na sy huis toe.
“Laat ek maar die kak gaan vat. Wag jy net hier. My Pa sal jou netnou huis toe vat,” sê ek vir Lindie en loop so vinnig moontlik by die huis in om die kak net oor en klaar te kry. Lindie moes nog dronk gewees het, want sy bly nie daar nie en loop agter my aan, by die huis in.
Pa is goed dronk en hy en Ma dans in die sitkamer. “Hey, Birthday Boy!” skree hy vrolik en gooi vir my ‘n bier. Hy is duidelik stormdronk. “Ek het vroeg klaargemaak en by die hotel by die Lake ‘n paar kappe gaan vat. Toe ek buitekant kom, sien ek die fokken karsleutels is weg. Kos my om met die bus die spaarsleutels te kom haal en weer terug om die kar te gaan haal het.”
My mond val oop. Lindie s’n ook. Pa is so dronk hy het vergeet hy het met die bus werk toe gegaan. Nie die kar nie. Hoe hy vanaf die middestad in Florida geëindig het, sal net hy weet. Seker ook met die bus. Toe hy klaar by die hotel gesuip het, het hy natuurlik sy kar gesien…
“Jou Pa was weer poesdronk toe hy hier aangekom het,” sê my Ma en sy klink net so dronk. Sy struikel en val op die bank neer dat haar panty uitsteek.
Lindie het iemand gebel om haar huis toe te vat. Die volgende dag het ons eers vir Johan nog ‘n rukkie laat sweet, voordat hy ook kon saamlag oor die hele spul.

Whahahahaaha! “ons annerkant toe reg rondom die meer” … Briljant Chops!
Ditto – brilliant!