Daar is die kinders wat ‘n skoolhoof se droom is. Die koeke en gatkruipers wat alles doen om die skoolhoof en onderwysers te beïndruk. Dan is daar diegene wat net saamvloei en nie uitsonderlik goed doen nie en ook nie baie stout is nie. Dan is daar…
Die Vrydagmiddag is ek en Mark daar by Andre se plek. Hy bly in ‘n rondawel in die agtertuin en ons sit lekker en rook. Andre blaai deur ‘n Scope en ons gesprek, met tussenposes van “Check hierdie girl se lekker pramme!” en dan wys hy eers die bladsy in die Scope vir almal, handel oor hoe diep erg kak skool is.
“My gat is rou gebliksem die week,” sê Mark en trek sy gesig skeef. “Ek kan skaars sit!”
“Dis nog niks. My hele gat is blou-pers,” gooi ek my deeltjie by en trek my broek af om hulle te wys.
“Ag nee sies man!” kla Andre. “Ek check girls uit en wil nie jou gat sien nie!” Hy blaai verder deur die Scope. “Check hier! Ek’s seker hier steek ‘n dooshaar uit,” sê hy en wys ons die foto in die Scope van ‘n vrou wat wydsbeen op ‘n stoel sit. Sy het ‘n piepklein bikini-broekie aan en daar is sterretjies wat die tepels van haar tiete bedek.
Ek bekyk die foto van naderby. “Nee, dis nie ‘n dooshaar nie,” sê ek en Mark gryp die tydskrif.
“Nee,” beaam hy. “Dit is net ‘n skaduwee strepie.”
Andre vat die Scope en gooi dit eenkant toe op die vloer. Hy trek ‘n vuurhoutjie, steek ‘n sigaret aan en blaas die rook dak toe. “So, wat gaan ons aan die hoof doen? Ons skuld dit vir Sandra.”
“Gaan gooi een van sy vensters stukkend,” stel ek voor.
“En wat nog?” vra Mark. “Ons is mos drie. Jy breek ‘n venster en ek sal sy swembad gaan opfok deur kunsmis daarin te gooi. Die alge sal grasgroen groei.”
“Right, in die garage staan petrol,” sê Andre.
“Nee, fok ou! Wat wil jy met petrol maak?” vra Mark verbaas. “Ons soek nie die pigs op ons gatte nie.”
“Relax man. Ek gaan dit op sy gras gooi dat sy gras vrek,” sê Andre.
“Cool! Maar ek sal obvious die ruit heel laaste moet breek, want dit maak ‘n geraas,” sê ek en steek vir my ook nog ‘n sigaret aan.
“Ja,” sê Mark. Ek sal eerste gaan en die kunsmis in sy swembad gooi. Terselfdertyd kan Andre die petrol op sy voorste grasperk gooi en ons as ons twee klaar is, reg op ons fietse om te jaag, gooi jy die ruit uit en dan spark ons.”
“Hoe laat gaan ons?” vra Andre wat al weer besig is om deur die Scope te blaai.
“Ek dink ons moet vroeg gaan. So agtuur,” sê Mark en druk sy sigaretstompie in ‘n leë skoenpolitoer blikkie dood. “Dan kan ons iewers gaan hang waar mense ons sien, om ‘n alibi te kry.”
“Maar die bure of iemand kan ons sien. Die mense slaap nog nie daai tyd nie,” haak ek vas.
“Ons sal net kyk. As die venster gebreek is, is dit in elk geval net tien sekondes as ons hard trap en ons is in ‘n ander straat.”
“Ja, wat’s jou case nou skielik?” vra Andre. “Laas het ons ‘n ruit helder oordag uitgeskiet. Chicken jy uit?”
“Nee, ek sê maar net.”
“Ons kom seweuur hier bymekaar,” sê Mark, kak kliphard en ons spat by die rondawel uit.
Op pad huis toe, begin daar ‘n plan in my agterkop te vorm. Daai twee wil mos so vroeg in die aand gaan. Alibi kamstig, ga! Vroeg saans het mens iets nodig wat die aandag van die voortvlugtiges sal aftrek. Chicken, ek? Hahaha!
Ma en Tannie Lettie het lekker gesit en drink toe ek by die huis aankom en my skaars opgemerk. Ek het nog heelwat om af te handel as ek seweuur by Andre wil wees. In die volgende uur en ‘n half moet ek my goed agtermekaar kry.
Kwart voor sewe gaan haal ek ‘n paar glas ghoens uit die boks onder in my kas waar albasters, tennisballe en allerhande ander goed in is en toets my kettie deur die velletjie vas te knyp en die rekke ver uit te rek dat hulle dun raak. Die haasrek was nog nuut. Alles in orde.
Seweuur sit ek my fiets op die gras buitekant Andre se rondawel neer en stap binne. ‘n Klein Coke-botteltjie vol petrol staan op sy lessenaar. Mark is natgesweet en beduie na ‘n rugsak toe. “Fokkit, hoeveel kunsmis het jy gebring?” vra ek.
“Vyftien kilogram sak. Die swembad is groot.”
“Ja, sal seker genoeg wees.” Ek sê niks oor die piepklein botteltjie petrol nie.
“Dis al wat in die garage was,” verduidelik Andre self. “Ons kan nie nou gaan petrol koop nie. Dit sal verdag lyk.
“Daai is genoeg,” sê ek. “Right, kom laat ons waai.”
“Wag, waarnatoe gaan ons as ons klaar is?” vra Mark.
“Sommer na my huis toe. Ma en Tannie Lettie is daar en ons kan daar rondhang. Daar is ses biere in die yskas ook.”
Al is die naglug koel, voel ek hoe die sweet teen my gesig aftap terwyl ons na die skoolhoof se huis toe ry. Dit is nogal ‘n entjie, want hy bly in een van die meer gegoede buurte. Dit is egter nie die afstand wat my laat sweet nie, maar die plan waarvan die ander twee nie weet nie.
Naby aan die hoof se huis ry ons stadiger. Die buurt is stil. Ons sit ons fietse agter ‘n groot struik neer en Mark gaan met sy kunsmis. Hy sluip versigtig aan die kant van die huis verby en klim oor die lae hekkie na die agterplaas toe. Ek sweet verskriklik. Toe hy na ‘n ruk weer te voorskyn kom, kon ek sommer sien sy rugsak is leeg.
Andre staan nog ‘n rukkie in die donker, kyk heen en weer en sprinkel dan die petrol op die grasperk. Die hoof het nie juis beddings in sy voortuin nie, maar die grasperk is diep groen en pragtig.
Ons klim op ons fietse en toe ons seker is daar is niemand in die straat nie, haal ek ‘n ghoen uit my broeksak en die kettie voor by my broek onder my hemp uit. Ek kan die flikkering van ‘n lig, seker die televisie s’n, sien deur die gordyn. Ek plaas die ghoen in die velletjie, knyp dit vas en trek die rekke so ver as moontlik terug. Ek laat gaan. Die venster spat in duisende stukke. Andre en Mark laat waai. My hande bewe. Ek pluk die groot rooi klapper uit my broeksak en trek sommer ‘n hele paar vuurhoutjies gelyk. Die lont van die klapper sis en ek gooi dit na waar ek gesien het Andre die petrol gesprinkel het. Ek hoor nog iets wat klink soos ‘n ruit wat breek. Ek kyk nie eers om te sien waar die klapper land nie maar trap my fiets so hard soos wat ek kan.
In my gedagtes tel ek. Een, twee, drie… agt… en ek hoor die harde knal. Nogal nie sleg nie. Vroeër vanaand het ek met die lengte van die lont geëksperimenteer totdat ek dit so naby as moontlik aan tien sekondes se brandtyd kon kry.
Ons jaag nie in ‘n groep terug nie. Elkeen draai in strate af soos hy lus het. Toe ek dink ek is veilig, ry ek lekker rustig terug huis toe. Die polisiesirenes wat klink asof dit in die rigting van die hoof se huis beweeg, laat my net klein bietjie kriewelrig voel.
Toe ek by die huis indraai, vlieg Mark en Andre iewers uit die donker uit. In die straatlig is hulle gesigte spierwit en hulle oë groot gerek. “Wat de fok? Wat de fokken fok?” vra Mark en hy klink amper histeries.
“Etter bliksem, ou!” is al wat Andre uitkry.
“Relax man, dit was net ‘n cracker,” probeer ek hulle kalmeer. “For fuck sakes, praat net sagter, die hele buurt kan seker hoor wat julle sê.”
Ons steek sigarette aan en begin toe die hele petalje bespreek. “Fok ou, toe ek ook ‘n ruit uitskiet hoor ek net ‘n sisgeluid en later een moerse slag toe ek al ‘n paar strate verder is,” sê Andre eerste.
“Wat!?” en ek onthou van iets wat ook soos glas geklink het wat breek net toe ek die klapper gegooi het.
“Ja, toe jou ruit kak toe haal ek oor,” sê Andre. “En hoor wat het Mark nog daar by die swembad gedoen.
“Die Kreepy-Krauly uitgetrek met pyp en al en langs die swembad neergesit, daai swembad pomp was aan en kry nie water nie, so teen die tyd het die motor al poer in sy moer in uitgebrand.”
Kunsmis in die swembad, petrol wat die gras moes laat vrek en een stukkende venster het dus verander in kunsmis in die swembad, ‘n swembadpomp so motor wat seker al uitgebrand het, petrol op die gras, ‘n venster wat aan skerwe geval het, ‘n klapper wat op die gras geval het, nog ‘n venster wat aan skerwe geval het en die klapper wat hopelik die petrol op die gras aan die brand gesteek het toe dit ontplof het.
“Gielieeee! Is dit jy?” roep Ma skielik uit die kombuis.
“Kom ons gaan klap daai biere, ” sê ek vinnig vir Mark en Andre. “Ja, Maaa!” roep ek terug.
Ons het ons fietse in die agterjaart gaan neersit en doodluiters die huis binnegestap. Ma was besig om Tannie Lettie se hare in te draai en Ma self se hare was styf ingedraai met ligpienk en ligblou krullers.
“Het julle al geëet vanaand?” vra Ma. “Julle kan braai as julle wil. Dis nou maar eers halfnege.”
Ek vra nie eers vir Andre en Mark nie. “Dankie, Ma,” en ek gee haar ‘n drukkie.
“Bring tog vir ons bietjie ys,” sê Tannie Lettie.
“Sure, Tannie Lettie, sure.” En toe val dit my ook skielik by. “Ma, moet ons vir Ma en Tannie Lettie ook braai?”
“Kind, jy moenie jou taal so mix nie. Ja, asseblief. Daar’s ekstra bier vir julle in die yskas. Braai en ontspan julle ook. Jy lyk vir my so ge-stress.”
“Ja, relax, kinders!” kekkel Tannie Lettie. “Standerd nege is nie maklik nie, hoor.”
“Ja, fok tog, as jy maar net kon weet,” mompel ek binnesmonds toe ek al by die kombuisdeur uit is.
Ons staan in die agterplaas en op die grond, binnekant ‘n vierkant wat met bakstene gepak is, lê ‘n groot stapel hout. Die hoëtroustel in my kamer se luidsprekers is op die vensterbak staan gemaak en musiek vul die agterplaas.
Ek rol koerantpapierbolletjies om onder die hout in te druk en aan die brand te steek. Ek voel ‘n pluk aan my hempsmou. Andre se hele lyf bewe en hy praat met moeite.
“Julle w..weet wat Sandra, my s…s…sussie gedoen het,” praat hy tussen snikke deur en die pyn sit diep in sy stem.”
Sandra, Andre se tweelingsussie het haarself in die garage opgehang. Ons weet daarvan. Ons ken die pyn wat hom folter. Ek en Mark bly woordloos staan.
“Daai fokken poes! Daai fokken etterlike poes! Daai fokken bliksemse kaksel! Sy het my vertel!” en die rou, seer snikke skeur deur Andre. “Die aand voor…voordat sy… haarself… gehang het…” Andre sak op sy knieë neer. “Hy het haar drie jaar terug, in Standerd 6, hy het gesê sy is mooi en toe… toe…”.
Andre staan op. “Hy het gesê sy is mooi en aan haar gevat en haar daar in sy kantoor verkrag. DIE FOKKEN KONT!!! KONT!!! KONT!!!!” Andre sak weer neer en huil so erg dat hy nie kan asemhaal nie.
In die garage lê stukke ‘square tubing’ waarmee Pa nog ‘n druiweprieel wou aanmekaar gesweis het.
Die skoolhoof. Steunpilaar van die samelewing. Gesaghebber. Opperhoofman oor meer as seshonderd kinders.
Sy grasperk ruik na gebrande gras. Hy probeer planke voor die stukkende vensters sit.
Die stukke ‘square tubing’ kloof sy oogbanke oop en vergruis sy ribbes. Slaan sy knieskywe aan flarde.
Die boeie vreet in ons polse in.
Die knieë in ons rûe slaan die wind uit ons uit.
Die selle is hard en koud, soos ons harte.
Die staatsaanklaer speel toneel en voer ‘n meesterstuk op.
Opsetlike saakbeskadiging, brandstigting, aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Ons prokureur het ook darem sy deel gespeel, anders was dit poging tot moord.
Ten minste het ons iets papiere darem iets gewys toe ons by die verbeteringskool opdaag…
Die houtstapel in die agterplaas het nooit gebrand nie.