Oom Austerlitz het doer onder in die straat gebly. Later het hy die tydige met die ewige verwissel, maar toe ek in Standerd 4 was, het hy nog daar gebly. Die stories het ook maar geloop in die buurt. Party aande is vertel dat Oom Austerlitz een van die laaste SS-offisiere was wat die gereg nog kon ontduik het, ander stories het weer vertel dat Oom Austerlitz sonder ‘n vrou daar gebly het, want sy geliefde, ‘n pragtige Jodin, het omgekom by Auschwitz.
Oom Austerlitz was ook maar ‘n moerige man. Wat in sy lewe skeefgeloop het, sal ek nie weet nie. Oom Austerlitz het wel die lekkerste bier gemaak en die skerpste, sterkste knipmesse ooit.
En toe besluit ek mos ek wil een van Oom Austerlitz se knipmesse in my broeksak ronddra, nie daai goedkoop Okapi’s wat die Griek in sy kafee op die hoek verkoop het nie.
Ek stap toe oor na Oom Austerlitz om te gaan uitvind wat gaan ‘n knipmes my uit die sak jaag. Van die mense het my gesê dit is so R25. Maar onthou, die Okapi’s wat die Griek verkoop het was R1-50, en dit is baie jare terug.
Oom Austerlitz het daar in sy agterplaas gewerk. Ek het sy tuinhekkie oopgemaak, versigtig verby sy hond, wat my net lui aangegluur het, geloop na waar hy gewerk het en hom vertel ek is op soek na ‘n knipmes en hoeveel sal dit kos en ek sal later betaal. Hy het my net met skrefiesoë aangegluur, en my toe vertel dat as ek so ernstig daarop aandring om ‘n knipmes te hê, dan sal hy seker maar een moet maak en dit sal my R30 kos. My oë moes wyd gerek het, want toe sê hy as ek help, is dit net R15. Jislaaik, daai dae het ek die bure se gras gesny teen 25c vir die voorste grasperk en 25c vir die agterste grasperk, dus 50c per sny per week, maar R15 het na ‘n bargain geklink, al moes ek help.
Eerstens moes ek ‘n sak houtskool gaan haal het en volgens Oom Austerlitz se aanwysings net genoeg kole maak. Toe vat hy ‘n dunnerige, plat ystervyl, haal die handvatsel af, en plaas dit tussen die kole.
“Die kole is nou reg, sien jy?” het hy gesê en toe aangekondig dat ons eers vir ‘n lang ruk kan rus. “Die kole sal uitbrand, en al kouer word. Baie stadig afkoel. Teen vanmiddag se kant, kan ons verder gaan.” Toe bring hy twee glase bier. Van die bier wat hy self gebrou het. Ek vat toe myne en sluk ook. Ons wag vir die kole om uit te brand en koud te word. Oom Austerlitz sluk nog baie bier en ek kry aanmaak koeldrank. Ook maar goed ek het aanmaak koeldrank gekry, want ek het al gevoel hoe gaan my gatvelle brand as Ma uitvind ek het ‘n glas bier by Oom Austerlitz gedrink.
Later, toe ‘n hele paar ure verbygegaan het, haal Oom Austerlitz die ystervyl tussen die koue as uit en begin werskaf.
“Sien, ons gaan die lem kort maak,” verduidelik hy. “’n Mes met ‘n kort lem pas lekker in jou hand en hy het baie snykrag. So sewe sentimeter vir die lem, en dan die ekstra stukkie sodat ons die lem in die hef, saam met die veer kan sit. Verstaan?”
Stadig maar seker het Oom Austerlitz die lem gevorm met die amarilwiel wat hy met die handslinger gedraai het. Hy vat toe ‘n ander vyl en begin die snykant skerpmaak. “Nie vlymskerp nie, net genoeg. Sien jy?”
Ek kyk hoe my mes se lem vorm begin aanneem.
Oom Austerlitz het toe nog ‘n sluk bier gevat. “Nou gaan ons die lem met hitte behandel. Jy moet mooi kyk.”
Oom Austerlitz het ‘n breë gasvlam gevat, die lem met ‘n tang vasgehou aan die gedeelte wat in die hef moet kom en die lem warmgemaak. Toe die lem rooi gloei, het hy dit vinnig in ‘n bak olie gedruk.
“Het jy mooi gekyk?” vra hy. “Medium rooiwarm, dan egalig, snykant eerste, dog vinnig in die olie om af te koel.”
Ek het net geknik.
“Nou gaan ons kyk of die lem weer hard genoeg is.” Oom Austerlitz het ‘n ander vyl gevat en oor die lem getrek. “Sien? Die vyl doen eintlik niks aan die lem nie?”
Ek het gekyk. Die lem het skaars ‘n merkie bygekry.
“Nou gaan ons die lem temper. Sommer in die elektriese oond. Dieselfde as wat in die kombuis is. Ek het dit klaar op so 200C gestel, en dit moet vinnig na die hitte behandeling gedoen word.
Oom Austerlitz het die lem in die oond geplaas, en die deur toegemaak. “Niks langer as 25 minute nie.”
Hy haal toe die lem uit en laat dit afkoel. “Gaan haal vir my twee klawers daar agter,” het Oom Austerlitz gesê en beduie na die rommelkas. Daarin was ivoorklawers wat hy by ‘n klavier uitgehaal het wat oor die muur was. Dit kan dalk na sonde klink om ivoorklawers op te kerf vir ‘n mes se hef, maar dit is nie, nie as iemand soos Oom Austerlitz jou knipmes maak nie. ‘n Goeie knipmes is soos ‘n sielsgenoot.
Oom Austerlitz het my huistoe gestuur en aan die ivoor begin skaaf. Twee dae later het hy laat weet my knipmes is gereed. Kant en klaar.
Die ivoor het geel geblink. Die lem was skitterend gepoleer en het oop en toe gemaak sonder ‘n speling. Nie te styf nie, ook nie te slap nie. Die lem was vlymskerp en het die hare van my arms laat tuimel met net ‘n ligte skeerbeweging.
Oom Austerlitz het die mes gaan bêre en ek het hard gespaar. Twee weke later was die mes myne, ten volle betaal. Ma het seker maar gedink sy was dronk en het van haar munte verloor want ek kon nie langer wag nie en het deur haar beursie gegaan vir die laaste R1.
“Die ivoor kort bietjie olierigheid so af en toe,” het Oom Austerlitz gesê toe ek die geld gaan oorhandig het en die mes in ontvangs geneem het. “Nie ‘n sterk olie nie. As dit warm is en jy sweet, vee jy die ivoor so langs jou neus en vryf dit in met jou duim.”
Ek het nog nooit ‘n beter knipmes gehad nie.
