avatar
Today is Thursday
September 9, 2010

Search Results Tag: margate

March 10, 2010

Klaar met skool

by Gielie Geelmielie — Categories: Gielie — Tags: , , 6 Comments

“Ouens, ons sal moet plan maak, en vinnig ook,” laat val Andre terwyl ons een Vrydagaand in sy kamer sit, elkeen met ‘n bier in die een hand en ‘n Craven ‘A’ in die ander hand. Ons beursies was dun. Tannie Lettie het geld met die perde gewen en het vir ons ‘n kas bier vir die aand gekoop, om bietjie te ontspan en weg te kom van die stres van die matriekeindeksamen. Die pakkie sigarette het Andre vasgelê toe iemand vir sy ma kom kuier het.

“Aag, relax,” laat weet ek. “Ek sal by my ma ‘n bottel vodka skaai en dan is ons sorted vir die res van die naweek”, sê ek, want ek het aangeneem hy praat van die ernstige duik wat besig was om in die kas bier te vorm.

Mark het net oorgeleun, nog ‘n blikkie bier gekry en dit geknak terwyl hy ‘n wind opgebreek het.

“Nee, julle fokkers, ek praat nie van die drank nie,” het Andre gesê en opgestaan.

“As dit weer een van jou planne is om …” het Mark begin, maar Andre maak hom stil.

“Nee. Luister vir ‘n slag, for fuck sakes, en hou op aan drank en naai dink. Woensdag skryf ons ons laaste vakke, dan is ons klaar met skool. Klaar!” sê Andre en gluur ons aan. “Tensy jy gaan staan en druip,” voeg hy by en gee vir Mark ‘n vuil kyk.

“Ja, en so what?” vra Mark. “Of dink jy ons moet vir oulaas iets breek by die skool? Miskien moet ons tandestokkies in al die klaskamerdeure se slotte gaan druk.”

“Nee fok! Wat gaan ons doen die vakansie? Al daaraan gedink?”

Ek en Mark sit stil, sluk bier en dink vir ‘n ruk. Wraggies, ons het niks om te doen nie. Na matriek moet mens mos see se kant toe gaan. Margate of iewers en baie drink en dalk score ook.

Andre steek toe nog ‘n sigaret aan, knak een van die laaste paar biere, sluk diep, en kondig toe aan. “Die familie wat vanmiddag hier kom kuier het, wel, ‘n vriend van hulle het ‘n erf in Margate gekoop, en hy het geen worries as ons die erf gebruik nie. Die erf is soort van deel van ‘n karavaanpark ook. Sien, die eienaar van die karavaanpark het skuldprobleme gehad, en toe verkoop hy van die grond, so as ‘n tipe van permanente staanplek. Ons moet net planne maak om ‘n tent iewers in die hande te kry.”

Toe onthou ek ook skielik van die army tent wat daar in die garage bo op die dakbalke iewers is. “Hey, daar’s ‘n sestien by twee-en-dertig army tent, met alles, in ons garage!”

Toe begin ons beplan. Nie dat daar veel was om te beplan nie. Basies was die plan ons ryloop Margate toe, en gaan hou vakansie daar. Maar ons was opgewonde, ons het ook iets gehad om na uit te sien sodra ons klaar is met skool.

Alle kak dinge kom ook op ‘n einde, en die Woensdag toe ons klaar geskryf het en uit die skoolsaal gestap het, was skool klaar vir ons. Ek het sommer ‘n sigaret net so in my skoolklere aangesteek en by die hek uit gestap. Mark en Andre ook. Ons het reguit na my huis toe gestap. Ma was effens aangeklam toe ons by die huis aangekom het, want sy wou weet hoeveel onderskeidings ek gekry het en of sy maar my matrieksertifikaat kan laat raam. Tannie Lettie het toe verduidelik dat die uitslae eers later in die koerant sal wees, en toe sommer aangebied dat sy en Ma ons sertifikate by die skool sal gaan haal, aangesien ons nog by die see sal wees.

Ons kry toe ons bagasie, tesame met die army tent se dak, grondseil, kantseile, male en female middelpale, kantpale, penne, kettings en ‘n hamer en swoeg grootpad se kant toe. Ons het nog ons skoolklere aan. Ons duime dui die rigting aan. Na so twintig minute trek daar ‘n Datsun SSS af. Toe besef ons dit gaan nie werk nie. Ons drie, met ons bagasie en die moerse pakkaas van ‘n tent? Never. Ons sal nie in ‘n kar pas nie. Shit.

Ons hou net ons duime uit vir vragmotors. Hulle brul verby. Di tyd stap aan. Dit is warm. Die sweet loop en ons duime begin al so half verlep lyk. Margate is ver.

‘n Verbleikte roesbruin Bedford 5-ton lorrie rammel van die pad af. Ek loop nader. ‘n Vriendelike omie, met ‘n Castle Milk Stout in sy hand en ‘n welige snor wat geel gevlek is deur nikotien vra waarnatoe ons gaan. Ek sê hom ons gaan Margate toe. Hy sê ons moet laai en agterop klim, want hy gaan ‘n vleuelklavier in Port Edward laai en sal ons met die grootste plesier in Margate drop. Sy van is Geybers, sy naam Koot, en aangesien ons klaar is met skool, kan ons hom ook sommer Koot noem. Niks van Oom Koot of Meneer Geybers of so iets nie. Ek dink net vir ‘n sekonde dat die mense met die klavier dalk die verkeerde persoon met die verkeerde lorrie gekry het om hulle klavier te trek, toe laai ons en ons klim.

Die Bedford rammel weg. Met die army tent se seile, maak ons ‘n lekker sitplek agterop. Ons lê sommer lekker terug en skree vir mekaar om hoorbaar te wees bo die lawaai van metaal wat rammel en die wind wat om ons suis.

Net daar anderkant Heidelberg breek ‘n ontsettende donderbui los. ‘n Wolkbreuk soos ons nog nie aanskou het nie. Koot ry. Die water stroom op ons neer en af en toe verblind die weerlig ons en die knalle slaan ons ore toe. Ons is sopnat en die wind waai ons koud. Terwyl die waterdruppels my gesig seer tref, wikkel ek my tas oop en kry ‘n bottel vodka uit. Een van my hemde verdwyn in ‘n warreling oor die rand van die lorrie. Ek kry my tas weer toe en draai die bottel se prop met my tande af. Ek sluk diep en die alkohol maak lekker warm in my maag. Ek gee die bottel aan. Daar in die gietende reën, agterop ‘n ou Bedford trok, vier ons die dag wat ons skool verlaat het. Later bedaar die storm en trek dit oop. Die wind waai ons nat klere yskoud. Koot ry.

Eers daar by Howick se wêreld, trek Koot af om diesel te gooi. Die Bedford loop stadig en dit was al sterk besig om donker te word. Koot gooi omtrent ‘n dosyn Milk Stout blikke in die asblik, en trek weg toe hy betaal het. Hy het gesê ons hoef nie te las nie.

Die reën vang ons weer daar anderkant Durban, oppad Suidkus toe. So ‘n flou see reëntjie wat aanhou en aanhou en aanhou. Toe Koot voor die hek van die karavaanpark stop, tref die reuk van braaivleis ons. Ons laai ons pakkaas af, bedank vir Koot en toe hy wegtrek wuif hy met ‘n blik Milk Stout in die hand. In die karavaanpark kyk ‘n paar mense die drie skimme, deurnat en vuil, met ‘n moerse groot tent wat hulle dra, skuins aan. Ek stamp my toon teen iets en sê kliphard, “Eina! Poes!” Iemand lag vir ons drie, maar ons voel fokkol.

Ons sukkel nie met die army tent in die donker nie. Ons gooi net die grondseil oop, gaan maak vuur, maak nog ‘n bottel vodka oop en braai van die vleis wat ons ma’s saamgestuur het. Die res van die vleis het Andre in die gemerkte sakkies in die gemeenskaplike vrieskas gaan pak. Mark sit ‘n Pink Floyd kasset in die draagbare radio/tape deck, rol ‘n lekker vet zol met die dagga wat hy ‘n week tevore by iemand langs die treinspoor iewers gaan koop het, en ons ontspan. Ons eet sommer die vleis so met die hand van die rooster af. Fok die skool, fok die hoof, fok die wêreld, en fok alles… Ons is klaar met skool. Ons vakansie en die res van ons lewens het begin.

© 2010 Die Kroeg All rights reserved - Wallow theme by TwoBeers Crew - Powered by WordPress - Have fun!