Dit is mos maar die ding van hier in die dun lug van die Hoëveld lewe. As die winterkoue slaan, dan slaan hy hard. Van buite af kan mens dik en warm aantrek, maar die koue sny murg diepte. ‘n Innerlike versterkinkie is dan net wat mens nodig het. Lekker warm sop of ietsie sterkers.
Op ‘n Maandagaand wil mens ook nou nie heeltemal storm-dronk raak nie, dus is die Stroh uit.
‘n Rooiwyntjie is net die ding. Daai voggies sit sommer ‘n gesonde blos op die wange van die skoner geslag en vul almal met warmte. As die geld skraps is, soos in die ou studentedae, het Tassies of sommer enige goedkoop rooi die ding gedoen.
Met die gedagte aan ‘n lekker vol glas rooiwyn stap ek toe vroeër vanaand die kroeg binne. Die deure en vensters is toe om beskerming teen die ysige koue te bied en sommer so met die intrapslag hoes ek my verkoue- en griepvirusse ook in die lug in.
Die outop wat altyd in die hoek sit op “sy” plek en sy naam gewoonlik vergat en baie irriterend kan raak, vermy ek soos die pes. Ek is nie daar om van sy moeilike lewensjare en onvervulde jagsheid te hoor nie. My vrou nog minder.
Ek maak toe maar ‘n twakkie brand en wag by die kroeg vir die kroegdame.
“Watse rooiwyn het julle hier?” vra ek, eintlik maar net hoopvol dat dit iets anders as ‘n 5-liter bokswyn sal wees.
Wraggies word ek toe verbaas en sy beduie eers na ‘n 5-liter bokswyn en toe na ‘n ry bottels waaruit ek kan kies. ‘n Lekker bottel Beyerskloof, twee glase en daar gaan ek. Vrou het ‘n oop tafeltjie gekry langs ‘n kaggel wat rokerig sukkel om aan die gang te kom. Ek maak die skoorsteen oop en daar gaan hy. Lekker gesellig.
Rooiwyn drink om die koue te verdryf is nie van maak die bottel oop en laat staan en skink dan en bekyk die kleur en ruik en al daai goete nie. Ek gooi die twee glase vol en ons sluk. Lekker. Die koue moet verdryf word. Gooi weer vol en wys die koue wie is baas.
Hier by elkeen se derde glas is die botteltjie ook omtrent leeg en trek ek my baadjie uit. Dit is warm daar langs die kaggel. Vroulief giggel lekker. Rooiwyn het mos ‘n manier om so saam met die koue die stres ook weg te vat.
“Dit kan dalk sneeu vanaand.”
“Heel moontlik. Dit het ‘n paar terug jaar mos gesneeu hier.”
Sneeu is nie speletjies nie. Ek gaan kry toe maar nog ‘n bottel rooiwyn en vul die glase. Vroulief se wange raak seker maar so mooi rooi van die koue. Of dalk van die kaggel wat lustig knetter, se welkome hitte.
Iewers in die agtergrond kan ek hoor hoe die outop iemand verveel met al die koudste jare wat hy al beleef het en hoekom al sy vorige vrouens hom onregverdig gelos het. Gelukkig begin lekker musiek speel en die outop se geteem verdwyn tussen die towerklanke van Mike Oldfield.
Die tweede bottel rooiwyn sak rustig. Die koue delf die onderspit. Daar word lekker gekuier en gesels.
Die aand word afgesluit met ‘n lekker warm sjokoladedrankie.
Toe ons by die kroeg uitstap, slaan die yskoue wind ons baie hard. Die winterkoue is genadeloos.
