In Standerd 8 was dit weer tyd vir veldskool. Vir Standerd 5 was ons Delmas toe, maar daardie slag was dit Groot-Marico se kant toe. Standerd 5 se veldskool was kak, maar oraait. Teen Standerd 8 strek mens se tienerwysheid mos veel verder en sluit drank, sigarette en meisies in. Behalwe die gebruiklike blikbord, blikbeker, vadoek, tekkies, slaapgoed, tandeborsel en skeergoed ensovoorts was daar tussen my klere ook ‘n paar pakkies Camel 20’s, ses blikkies bier en ‘n Scope tydskrif.
Wat die skoolhoof besiel het om vir Meneer Harmse saam te stuur as die veldskool-onderwyser, sal net hy alleen weet. Meneer Harmse was geensins die sportiewe tipe nie en sy geweldige maag het getuig dat hy ook baie van bier moes gehou het. Meneer Harmse was ‘n yslike groot man, maar sy hart was baie sag. Hy was een van daardie onderwysers wat geen beheer oor die kinders gehad het nie. Ons was natuurlik verheug toe ons hoor dit is hy wat ons gaan vergesel.
Die Maandagoggend daag ons toe by die skool op. Gereed om veldskool toe te gaan. Ma het darem ‘n bietjie geld ook in my hand gestop toe ek gegroet het by die huis. Die skoolhoof het ons streng aangespreek en ons herinner om die skool se naam hoog te hou en afgesluit dat hy “die velle van ons gatte met die rottang sal af bliksem” indien daar sprake van wangedrag sal wees. Hy het ons glad nie banggepraat nie, selfs al het hy die flou vloekwoord “bliksem” gebruik.
Die bus was skaars buite sig van die skool, toe het ek al soos ‘n mak aap by die bus se venster uitgehang en die hardgekookte eier wat Ma onder andere vir my ingepak het as padkos, het pragtig die agterruit van ‘n kar getref wat die bus verbygesteek het. Mark het dit opgevolg met ‘n middelvinger vir die insittendes van die kar. Die busbestuurder was self ‘n paar jaar terug ‘n leerling van die skool en het ongestoord aangery, ten spyte van die bestuurder van die kar wat met flitsende ligte en woeste handbewegings beduie het die bus moet aftrek.
Op pad het Mark ook die beste skoot ingekry. Iets wat amper onmoontlik was. Sy appel het by die oop ruit aan die passasierskant van ‘n kar ingevlieg en iemand binne-in die kar getref. Meneer Harmse het mos iets gemompel van ons moet nie in die bus mors nie, dus het ons al ons lekkergoedpapiere en sakkies en koeldrankblikkies by die bus se ruite uitgegooi. Meneer Harmse het op die heel voorste sitplek in die bus gesit en stip gestaar na die pad. Dit het gelyk asof hy bitter spyt was hy het ooit die onderwys sy loopbaan gemaak.
By die plek aangekom buitekant Groot-Marico, het die bus gestop en ons almal uitgepeul soos ‘n trop wilde diere en langs die bus gestaan en water afgeslaan. En toe wag ons. Meneer Harmse het beteuterd rondgestaan en toe in die rigting van die geboue geloop om te hoor wat gaan vir wat. Die vuurhoutjies en aanstekers het geknars soos baie van ons sigarette aangesteek het.
Na ongeveer ‘n halfuur het Meneer Harmse teruggekeer. Die Bosveld se son was warm en die sweet het in strome teen sy gesig afgeloop. Hy het laat weet ons moet solank ons bagasie aflaai en netjies in drieë pak, terwyl ons wag vir die ander skool om op te daag. In die bus het ons reeds die ander skool wat saam op veldskool gegaan het, bespreek. Dit was een of ander snob skool in die Stad en ons het besluit kak sal hulle kak. Spul ryk mofgatte.
Die snob skool se nuwe bus het aangedreun gekom. Toe die kinders uitklim, was almal eenvormig in hulle skool se sweetpakke geklee. Hulle bagasiesakke was ook almal dieselfde met hulle skool se wapen daarop. Hulle onderwyser het bevele soos ‘n wafferse drilsersant geskree en toe tree hulle aan in drieë voor die bus. Ons het ons gatte geskeur van die lag. Meneer Harmse het iewers die bosse in gestaar, toe omgedraai en in sy besadigde stem vir ons gesê om ook in ‘n afdeling aan te tree.
Vanaf die geboue se rigting het twee mans flink aangestap gekom. Hulle was netjies geklee in kakieklere wat amper soos veldwagters se uniforms gelyk het. Die busse het die perseel verlaat. Een van die mans het begin praat en ons almal welkom geheet. Vir die snob skool vertel hy hoe geëerd hy is dat hulle die veldskool bywoon en hy hoop dat hulle dit baie sal geniet en waardevolle ervaring sal kan opdoen om saam met hulle terug te neem skool toe en dat hulle aan die vooraand staan van hulle volwasse lewe en dat hulle baie gaan leer en al sulke tos.
Vir ons neem hy eenkant toe en begin en eindig met ‘n uitkak en waarsku ons dat die Hel rustig sal wees in vergelyking met die straf wat hy sal toedien as ons nie onsself gedra nie. Hy vertel ons toe ook dat sy militêre diensplig al agter die rug is en dat hy aan die Grens was en al terroriste geskiet het. Die ander man, seker sy regterhand, knik sy kop en beaam alles. Hy sluit toe ook af met die beskrywing van ‘n martelmetode deur iemand se knaters met ‘n vonkpropdraad van ‘n Landrover V8 te skok.
Die man draai toe om en loop na die snob skool toe. Meneer Harmse kry toe sy stem terug. “Julle kan nie dat daai snobgatte julle wen nie,” is al wat hy sê. Grobler, die hoof-roof van die veldskool blaas toe op sy fluitjie en ons tree weer aan voor die bus. Hy wys toe na ‘n boom doer ver en sê die skool wat eerste, met al hulle bagasie om daai boom en terug is, doen nie skoonmaak diens vandag nie. Hy blaas weer sy fluitjie en ons laat spaander met ons bagasie. Meneer Harmse se woorde is nog vars in ons koppe. Dis net kinders en bagasie en stof en chaos. Drie van die snob skool se kinders word gepootjie en later, toe ons skool eerste weer aangetree is, sukkel nog een van hulle terug. Hy is naby aan trane en sy sweetpak is geskeur. Iemand het hom glo met die vuis aan die kant van die nek geslaan en toe val hy in ‘n doringbos. Grobler verduidelik hulle dat die badkamers môre-oggend blinkskoon moet wees en dat hulle ook die potte in die kombuis moet skrop.
Grobler sê toe dat ons tien sekondes het om voor die slaapkwartiere aan te tree en blaas weer sy fluitjie. Daar is weer net stof en bagasie en kinders en chaos. Twee van die snob skool se sportsakke, met hulle skoolwapen op, word gegryp en in die bosse langs pad in geslinger. Hulle tree weer laaste aan. Ons – 2, Snob-skool – 0.
Grobler verduidelik toe dat vorige jare die kinders van die verskillende skole saam in twee groepe verdeel is, om samewerking, eenheid en gees tussen die twee skole te bevorder, maar hierdie jaar slaap Snob-Skool in die kaserne aan die oostekant en ons in die kaserne aan die westekant. Grobler het baie onseker gelyk, so asof hy ‘n baie belangrike besluit moes neem, om ‘n bloedbad te voorkom.
Mark het ons toe na ons kaserne toe gedril. Dril, kon ons. Ons het netjies gedril. Regop en trots. Arms skouerhoogte geswaai. Sommer net om die Snob-Skool te wys.
Die kaserne was eintlik maar net ‘n saal met veertig dubbelbeddens. Een bo, een onder. Twintig van hulle weerskante. Ek het aan die agterkant, saam met die ander rokers, op die boonste bed slaapplek gekry. Teen die muur was daar al jaartalle uitgekrap. Ek het my knipmes uitgehaal en ook die jaartal uitgekrap in krom, skewe letters. “Augustus 1980”. En toe, net daaronder, “Poes”.
Die fluitjie het weer geblaas en Grobler het gebulder ons moet aantree met ons eetgerei. Middagete het bestaan uit witgekookte hoender, mielierys, gekookte koolblare, twee snye brood en flou lemoenkoeldrank wat uit ‘n groot blink kan in ons bekers getap is. Dit het gelyk asof die meeste kinders van Snob-Skool hulle kos in die asblikke uitgekrap het, waar baie van ons gaan vra het vir ‘seconds’.
Ek kon nie wag om in die veld te gaan rondloop nie, dit was immers VELDskool, maar na ete moes ons klomp klein klippies vat en ‘n wapen vir ons groep uitpak en daarna moes iemand verduidelik van die simboliek van ons wapen.
Dit het ons sowat vyf minute geneem om ‘n driehoek met die klippies te pak. Die Wiskunde-onderwyseres, Juffrou Smith, het mos gesê driehoeke is baie sterk en verleen sterkte aan baie strukture soos brûe ensovoorts.
Snob-Skool het ‘n intrinsieke ontwerp met hulle klippies gepak en toe na die tyd verduidelik van die anker wat standvastigheid beteken, en die kruis wat Christus voorstel en hulle geloof in die Skepper en die arend wat na vryheid verwys en die sirkel na eenheid en die boom na groei en nog klomp ander goed.
Die middag het ons ‘touch rugby’ gespeel en drie van Snob-Skool was in die grond in geduik. Maar iewers het iemand weer nie die program deurdink nie. Ons ‘straf’ omdat ons met die klippies-wapen verloor het, was om op te skep tydens aandete! Genade tog!
Iewers kruip die noodlot ook toe in en ons braai daardie Maandagaand. Ons het Snob-Skool goed gespyker met die vleis toe ons moes inskep. Ons het baie lekker gebraai. Ons – 3, Snob-Skool – 1. (Klippies-wapen pak was in elk geval ‘n klomp tos, so hulle wen tel nie eintlik nie, maar ter wille van regverdigheid kon hulle maar die een punt gekry het.)
Die aand toe rook ons tot laat in die kaserne en ‘n paar van ons drink ‘n bier of wat. Toe onthou iemand van Snob-Skool wat nog die badkamers moes skoonmaak en ons gaan bemors dit verskriklik deur taai ghwelle orals te spoeg, die toilette mis te pis en nat toiletpapier teen die mure en spieëls vas te gooi. En kyk, as mens dom is, moet jy kak. Snob-Skool gaan kla toe by Grobler oor die toestand waarin die badkamers was, maar eers nadat hulle skoongemaak het! Ons ontken toe alles en beskuldig hulle van jaloesie, waarop Grobler geantwoord het ons moet ophou om ons “soos kaffers te gedra” want hy gaan vir ons “van ‘n kant af opfok”.
Die tweede dag het rustig verloop. Tydens ontbyt het Grobler laat weet slegs die kombuispersoneel skep kos in en het Snob-Skool nie kans gehad om ons terug te spyker met die inskep nie. Hahaha! Ons moes ‘n klipmuur in die veld gaan bou deur plat klippe opmekaar te stapel en al was ons meer as ‘n uur voor die tyd klaar, het ons muur baie beter gelyk en was baie stewiger.
Snob-Skool het egter besluit om terug te slaan en laat saans, het vier van hulle grootste brekers by ons kaserne opgedaag. Wat hulle daar wou doen, weet nugter alleen, maar hulle is daar weg met geskeurde klere en die een linkeroor was vol tandepasta gespuit.
Snob-Skool moes ernstig gaan kla het, want die Woensdag toe jaag Grobler ons donker-oggend uit die beddens, laat elkeen van ons ‘n moerse groot klip kry en jaag ons kilometers vêr die veld in, elkeen met sy klip. Toe ons seker die grensdraad van die plaas bereik het waarop die veldskool was, het Grobler sy bakkie omgedraai en aan ons gesê ons het tien minute om terug te wees anders kry ons nie ontbyt nie. Daar was nie ‘n manier wat ons dit sou maak nie en ons het lekker rustig teruggeloop en gerook.
Die kasernes het elkeen hulle eie watertenk gehad. Ons gaan klim toe teen die stellasie op en gaan was ons so drie-drie- lekker in Snob-Skool se watertenk. Ek Johan en Andre was laaste en kak toe ook sommer in hulle watertenk toe ons klaar gewas het. Later die middag kom sê Meneer Harmse ons moet sê as van ons naar en siek voel of maagwerkings het, dan sal Grobler vir ons pille gee. Ons almal maak toe asof ons verskriklik siek is en gaan kry medisyne, wat ons nie gedrink het nie, terwyl Snob-Skool se kinders bleek-groen in hulle gesigte is.
Met die maagsiekte, moes ons toe skaak speel, want Grobler en die onderwysers weet nie wat om met ons te doen nie. Ons hardloop net so baie badkamers toe, maar om te gaan rook. Snob-Skool kry toe nuwe hoop met die skaakspelery, maar op een of ander manier het Mark as die kampioen uitgetree. Sonder om te kroek. Hy was al van kleins af baie goed met skaak.
Die Vrydag toe die kinders van Snob-Skool in hulle bus geklim het en huiswaarts gekeer het, was van hulle nogsteeds siekerig. Hoe daardie rit afgeloop het, sal ek nie weet nie.
Dit was maar net enkele hooftrekke van die veldskool.
Die tye wat ons die hindernisbaan gedoen het, het ons darem ‘n paar kere ook verloor. Tydens ‘n debatkompetisie een aand het nie een van ons iets te sê gehad nie. By die snoepie wat na aandete oopgemaak het, kon ons nie veel koop nie. Die ander skool se kinders het egter die plek omtrent leeg gekoop elke aand. Die een in wie sê oor ek die tandepasta gedruk het, moes dokter toe gaan, maar al was sy pappie moerig en wou almal dagvaar, was dit te donker te donker om te sien wie dit was, of hy was te bang om te sê wie dit was.
Andre het ook laat een aand gegaan en allerhande items uit die ander skool se sportsakke gaan steel, soos onder andere ‘n verkyker en ‘n Walkman. Ons vermoed hy het geld ook gesteel, want vanaf die Woensdag het hy besonder baie by die snoepie bestee. Bertus het ook nogal baie geld gehad vir die snoepie, want hy het twee Scopes, ‘n pakkie sigarette en ‘n Bunny Girl tydskrif gaan verkoop aan hulle. Ek het my Scope gaan ruil vir ‘n pakkie Winston en een blikkie bier by een van hulle, dus was van hulle ook nie so onskuldig nie. Mark het gesê hy het een aand baie laat ook dagga geruik daar. Ander het gesê dit was een van die terreinwerkers wat agter die kasernes gebly het, terwyl ander weer gesê het dit was Meneer Harmse, want iemand het hom glo daar gewaar.
En so het die veldskool van Standerd 8 ook op ‘n einde geloop. Meneer Harmse was natuurlik te bang om vir die hoof te gaan rapporteer dat hy geen gesag oor ons gehad het nie en het vir die hoof gesê ons het almal onsself puik gedra. Die Maandag tydens saal opening het die hoof ons ook bedank daarvoor.

Chops dis skreeu snaaks…………………….
Ai daai lekker sorgvrye jongdae in soveel opsigte ook verkeerd, maar “lekker” verkeerd – wat mis ons jeug vandag tog nie – deesdae meng sielkundiges en politiek so in dat nie eers die rottang waarskuwing gebruik mag word nie – sad, baie sad !
Uitstekend! Ek het my maag Seer gelag.
Dit was nou ‘n lekker lees, dankie Chops!
my st 8 veldskool was ook daar naby, by Martha Glathaar (ons het die ‘l’ uitgelos). Dis die skool waar ‘Het van Verlangekraal’ geskiet is. Ek’s ook amper huistoe gestuur, maar ek wil daai een nie oorhê nie. Daai mense is nie lekker bo die tanne nie!
Thanks Chops dis ‘n gr8 storie!